1 Preek 2 Timoteus 3:16-17 (Preek gelewer tydens oggenddiens in Welkom-Noord op Sondag 4 September 2016) (Dit was die agste preek van n reeks oor die tema Afrigting vir die lewe) Voor die erediens Sing: Lied 255:1,2,3 Sing: Psalm 89-1:6 Sing: Psalm 33-1:2,5 Afkondigings Stilte Tydens die erediens: Votum Groetseën Loflied: Psalm 9-2:1,6 Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels Die Wet van die Here: Skrifberyming 9-1:1-10 Sing: Skrifberyming 9-1:11 Gebed Sing: Lied 257:1,2,3 Skriflesing: 2 Timoteus 3:10-17 Fokus: 2 Timoteus 3:14-17 Preek: Tema: Bly by die Woord! Gebed Diens van barmhartigheid Sing: Psalm 119-2:3,18 Wegstuurseën Amen: Skrifberyming 13-3 Preek: Geliefdes in ons Here Jesus Christus Inleiding Tydens verlede Sondag se tweede preek (nadat nagmaal bedien is), is daarop gewys hoe belangrik gebed vir die wedloop van die lewe is. Vandag wil ek aantoon hoe belangrik God se Woord vir die wedloop van die lewe is. Om die beeldspraak van ons tema vir die kwartaal (naamlik afrigting vir die lewe) te gebruik: Goeie kommunikasie tussen n atleet en sy afrigter is noodsaaklik. Net so is goeie kommunikasie tussen ons en God (ons geestelike Afrigter) noodsaaklik. Ons praat met God deur gebed en God praat met ons deur sy Woord. Om toegerus vir die lewe te wees, moet jy bid (verlede week se preek) en
jy moet luister na wat God in sy Woord sê (vandag se preek). In aansluiting hierby is die tema van vandag se preek: Bly by die Woord! Die Woord kom van God af 2 Hoekom moet ons by die Woord bly? Die antwoord is: Want dit kom van God af. So staan dit in 2 Timoteus 3:16 (1983/92-Vertaling): Die hele Skrif is deur God geïnspireer... Hierdie woorde kan ook vertaal word met die hele Skrif is deur God uitgeasem. Dit is maar net n manier om te sê dat God deur sy Heilige Gees in die mense wat die Bybel geskryf het, gewerk het om te skryf wat hulle geskryf het. Soos jy met jou asem jou stem laat hoor, so het God deur sy Heilige Gees sy stem deur die skrywers van die Bybel laat hoor. Die Bybel is dus nie maar net bloot mense se woorde of mense se opinies nie. Nee, dit is God se Woord wat wel deur mense geskryf is. Maar God het hierdie mense geïnspireer om te skryf wat hulle geskryf het. Die feit dat die Bybel van God af kom, beteken dat dit gesag het. Dit het die sê oor jou en oor jou lewe. Jy kan en mag dit nie eenkant toe skuif of verwerp nie. Jy moet doen wat God daarin vir jou sê om te doen. Mense sê soms: Ek gaan my deur niks en niemand laat voorskryf wat ek moet doen of nie moet doen nie. Verkeerd! God skryf in sy Woord vir jou voor wat jy moet doen en nie moet doen nie. En jy moet God se gesag aanvaar! Bly by die Woord, want dit kom van God af. Die Woord gee vir jou die kennis wat tot verlossing lei Die tweede rede waarom jy by die Woord moet bly, is omdat dit vir jou die kennis wat tot verlossing lei, kan gee. So staan daar in 2 Timoteus 3:15 (1983/92-Vertaling): en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Wat is hierdie kennis wat tot verlossing lei wat die Woord aan jou gee? Eerstens is dit die kennis dat jy nie deur jou goeie werke verlos kan word nie. Jy word sonder dat jy dit verdien, uit genade alleen vanweë die verlossingswerk deur Jesus Christus gered. Jy kry slegs deur die geloof daaraan deel. Jou geestelike Afrigter rig jou deur sy Woord af om te besef hoe verlore jy weens jou sonde was. Wanneer jy dit besef, rig Hy jou deur sy Woord af om jou saligheid buite jouself in Christus te soek. Die kennis wat tot verlossing lei, is ook die kennis dat God jou, nadat jy deur die geloof in Jesus Christus verlos is, deur sy Heilige Gees verander, sodat jy n nuwe lewe in diens van God leef. Efesiërs 2:10 (1983/92-Vertaling) sê baie duidelik wat die gevolg van jou redding uit genade is:... in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Die kennis wat tot verlossing lei, kan ook die getuienis wees wat uit n lewe wat aan God gewy is, voortspruit. n Lewe wat aan God gewy is, is n bewys van jou geloof en dat jy een is met Christus.
3 Die Woord is waardevol om goed afgerig te wees vir die lewe Die derde rede waarom jy by die Woord moet bly, is omdat dit baie waardevol is om goed afgerig te wees vir die lewe. Kyk na 2 Timoteus 3:16-17 (1983/92-Vertaling): Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Soos julle weet, is ons tema vir die kwartaal: Afrigting vir die lewe. En soos julle weet, word ons lewe op aarde op verskeie plekke in die Bybel vergelyk met die hardloop van n wedloop. En soos julle ook weet, is dit n wedloop wat jy nie vir jouself hardloop nie, maar wat jy vir God hardloop. Dit n lewe in diens van God. Die afrigting waaroor dit in ons tema vir die kwartaal gaan, is dus afrigting vir n lewe in diens van God. In aansluiting hierby sê ons fokusverse dat die waarde van die Skrif is dat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Die Woord stel jou in staat om gereed en toegerus te wees vir n lewe in diens van God. Die Woord help jou om goed afgerig te wees vir die lewe. In 2 Timoteus 3:13 staan daar: Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad na erger. Hulle mislei ander en word self ook mislei. In die lig hiervan en die eise van ons tyd is dit uiters nodig dat ons goed afgerig moet wees vir die lewe. Bly daarom by die Woord! Die Woord leer jou om die regte dinge te glo Die vierde rede waarom jy by die Woord moet bly, is omdat dit jou leer om die regte dinge te glo. Kyk na 2 Timoteus 3:16-17 (1983/92-Vertaling): Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Daar staan dat die Skrif groot waarde het om in die waarheid te onderrig. n Belangrike deel hiervan is ons oortuigings, dit wat ons glo. Dit wat jy glo, bepaal in n groot mate dit wat jy doen. Neem net dit wat jy oor jouself glo, as voorbeeld. Jy het sekere oor oortuigings oor jouself oor hoe goed of hoe sleg jy is. Dit is oortuigings wat oor jare heen in jou vasgelê is, onder andere op grond van wat mense oor jare heen vir jou gesê het en wat jy oor jare heen oor jouself ontdek het. Daarby het jy ook oortuigings oor wat jy glo mense van jou dink. Ook dit is oortuigings wat oor jare heen in jou vasgelê is, onder andere op grond van wat mense oor jare heen vir jou gesê het. Hierdie oortuigings wat ons elkeen oor onsself het, speel n groot rol in wat ons doen, soms baie negatief en afbrekend, soms positief en opbouend. Die oortuigings wat jy oor jouself het kan soms so n negatiewe uitwerking op jou hê dat jy nie effektief in die lewe kan funksioneer nie. Die waarde van die Woord is dat dit jou kan leer wat die regte dinge
is wat jy oor jouself moet glo. Dít kan baie bevrydend wees en jou toerus om effektief te funksioneer. 4 Die Woord leer jou ook wat die regte dinge is wat jy oor ander mense moet glo. Wanneer dit wat jy oor ander glo, verkeerd is, gaan jy ook verkeerd teenoor ander mense optree. Die Woord leer ook vir jou wat die regte dinge is wat jy oor die wêreld en die lewe moet glo. Ook hier geld dit dat, wanneer dit wat jy oor die wêreld en die lewe glo, verkeerd is, jy verkeerd gaan optree. Om aan te sluit by die beeldspraak van ons tema van afrigting vir die lewe: Elke afrigter leer sy atlete die teorie en die reëls van die sport waaraan hulle deelneem. Net so leer die Woord aan ons die regte teorie en reëls vir die lewe, sodat ons die wedloop van die lewe kan hardloop. Die Woord leer jou om n lewensverandering te maak 'n Sportman het soms 'n fout in sy tegniek. Dan moet die afrigter vir hom daarop wys en dan moet hy dit ook korrigeer. En dan moet hy ook die korreksie gaan inoefen. So wys ons geestelike Afrigter (God) ons in sy Woord op ons foute en leer Hy ons hoe ons dit moet gaan regstel. Kyk weer na 2 Timoteus 3:16-17 (1983/92-Vertaling): Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Daar staan dat die Woord groot waarde het om dwaling te bestry. Die waarde van die Woord is dat dit vir jou kan uitwys wat verkeerd is in jou lewe. Nie net wat verkeerd is in wat jy glo nie, maar ook wat verkeerd is in wat jy doen. Die Woord wys vir jou watter verkeerde dinge daar in jou lewe is waarvan jy ontslae moet raak. In die Heidelbergse Kategismus noem ons dit die afsterwe van die ou mens. Die Woord wys nie net vir jou wat verkeerd is in jou lewe nie, maar ook hoe jy dit kan gaan regstel. Die Woord het groot waarde om verkeerdhede reg te stel so staan dit hier in 2 Timoteus 3:16. Die Woord wys vir jou hoe jy jou foute kan korrigeer, wat die goeie en die regte dinge is waarmee jy die verkeerde dinge moet vervang. In die Heidelbergse Kategismus noem ons dit die opstaan van die nuwe mens. n Belangrike deel van korrigeer is dat jy die regte manier van doen ook moet gaan inoefen. Slegs deur inoefening kan jy n regte lewenswyse aankweek. Ook hiervoor is die Woord nuttig, want (so staan dit hier in 2 Timoteus 3:16) die Woord het groot waarde om n regte lewenswyse te kweek. Die woord kweek verwys na iets wat volgehou word om gedoen te word. So moet jy die nuwe manier van lewe inoefen, sodat dit deel van jou lewe word. Geliefdes, so stel die Woord jou in staat om die nodige lewensverandering, hetsy in jou oortuigings of jou dade, te maak.
5 Onthou by wie jy die Woord geleer het Kyk na 2 Timoteus 3:14 (1933/53-Vertaling): Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,... Hier word nog n rede gegee waarom Timoteus by die Woord moes bly, naamlik dat hy weet by wie hy die Woord geleer het. In die lig van 2 Timoteus 1:5 kan ons sê dat dit sy ma Eunice en sy ouma Loïs was. Timoteus se ma Eunice en sy ouma Loïs het n opregte geloof gehad. Dit is amper asof Paulus in 2 Timoteus 3:14 vir Timoteus sê: Jy ken hulle karakter. Moet daarom nie wegloop van wat hulle vir jou geleer het nie. Behalwe Timoteus se ma Eunice en sy ouma Loïs het ander mense ook n groot rol gespeel, byvoorbeeld Paulus self. Paulus se woorde aan Timoteus bly by wat jy geleer het, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, sal nie in ons konteks altyd werk nie. Dit is nie noodwendig so dat almal van ons se ouers dieselfde opregte geloof as Timoteus se ma en ouma gehad het nie. Verder is dit moontlik dat sommige van ons se ouers nie vir ons n goeie voorbeeld gestel het of altyd die regte dinge geleer het nie. Nie alle ouers onderrig hulle kinders in die Woord van God of leer die regte waardes aan hulle kinders nie. Verder is dit ook so dat die kerk soms gefaal het. Baie mense is teleurgestel in die kerke en wat die kerk alles verkondig het. Die feit dat ons ouers en die kerk soms gefaal het, maak nie God se Woord nou verkeerd of onbetroubaar is nie. Dit beteken ook nie dat alles wat ons ouers of die kerk aan ons geleer het, nou verkeerd is nie. Ek dink dat die woorde van 2 Timoteus 3:14 tog vir ons die boodskap het dat ons nie die opvoeding wat ons by ons ouers en in die kerk gekry het (al was dit dalk soms gebrekkig) sommer in die wind moet slaan nie. Veral in vandag se tye waarin daar soms die neiging is om alles wat die voorgeslagte gesê en geleer het, as outyds of uitgedien te beskou. Sekere waarhede bly waarhede deur die eeue heen. Slot Geliefdes, ek hoop dat dit vir julle almal duidelik is hoekom ons by die Woord moet bly. Om enkele beelde te gebruik: Die Woord kan met n GPS vergelyk word. Dit is jou geestelike GPS wat vir jou wys waarheen jy moet gaan, wat vir jou wys wanneer jy op die verkeerde pad is, wat vir jou wys hoe om reg te kom as jy verkeerd gery het en wat vir jou met stap vir stap instruksies vir jou wys hoe om op die regte pad te bly. Die Woord is soos n gereedskapkas vol gereedskap. Dit help niks as n ambagsman al die gereedskap in sy gereedskapkas het, maar dit nie gebruik nie. So ook help dit niks as jy nie die Woord gebruik nie. Die Heilige Gees gebruik die Woord sodat jy ten volle toegerus is om alles te kan doen wat God op jou pad bring. Moenie sê ek kan nie. Nee, bly by die Woord en vind daarin die afrigting wat jy nodig het vir elke situasie van die lewe. Amen.