1 Preek 2 Timoteus 4:7 (Preek gelewer tydens oggenddiens in Welkom-Noord op Sondag 25 September 2016) (Dit was die laaste preek van n reeks oor die tema Afrigting vir die lewe) Voor die erediens Sing: Psalm 90-1:1,9 Sing: Lied 513:1,2,3 Afkondigings Stilte Tydens die erediens: Toetredelied: Lied 491:5 Votum Groetseën Loflied: Psalm 2-1:6 en Psalm 144-1:1 Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels Die Wet van die Here Gebed Skriflesing: 2 Timoteus 4 Sing: Psalm 128-1:1 Fokus: 2 Timoteus 4:7-8 Preek: Tema: Ons kyk terug op ons geloofswedloop en ons kyk vorentoe na die wenpaal. Sing: Skrifberyming 14-1:1,2,3 Diens van barmhartigheid Gebed Sing: Skrifberyming 15-7:5,6 Wegstuurseën Amen: Skrifberyming 13-3 Preek: Geliefdes in ons Here Jesus Christus Inleiding Soms kom n mens tot stilstand en neem jy voorraad op van jou lewe. Daar is verskillende redes wat kan veroorsaak dat jy dit doen. Dit kan wees dat jou lewe lelik skeefgeloop het en jy jou vasgedraai het. Of dit kan wees dat jy ernstig siek is of dat jy op jou sterfbed lê. Of dit kan wees dat jy n middeljare-krisis beleef of dat jy baie oud is en besef dat jou tyd op aarde min word. In Paulus se geval was dit omdat hy verwag het om binnekort te sterf. Behalwe dat hy al oud was, was hy waarskynlik iewers in Rome in die tronk, terwyl daar n baie sterk moontlikheid was dat hy tereg gestel sou word. Daarom sê hy in 2 Timoteus 4:6
(Nuwe Direkte Vertaling): Want ek word reeds as drankoffer uitgegiet en die tyd van my dood is naby. 2 Terwyl Paulus besef dat die tyd van sy dood naderkom, kyk hy terug en kyk hy vorentoe. Hy kyk terug, as hy in 2 Timoteus 4:7 sê (Nuwe Direkte Vertaling): Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou. Hy kyk ook vorentoe, as hy in 2 Timoteus 4:8 sê (Nuwe Direkte Vertaling): Nou wag die oorwinningskrans van geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat na sy koms uitsien. In vanoggend se laaste preek in ons reeks Afrigting vir die lewe gaan ons (soos Paulus) terug kyk op ons geloofswedloop en gaan ons vorentoe kyk na die wenpaal. Ons kyk terug op ons geloofswedloop Wanneer Paulus terug kyk op die wedloop van sy lewe, noem hy drie dinge: Ek het die goeie stryd gestry. Ek het die wedloop voltooi. Ek het die geloof behou. Kom ons kyk eerste na Paulus se woorde: ek het die goeie stryd gestry. As jy terug kyk op jou lewe, sal jy sien dat dit nie altyd maklik was nie. Goed, vir party van ons dalk makliker as vir ander. Almal van ons beleef egter een of ander tyd teëspoed of frustrasies of seerkry of hartseer. Die wedloop van die lewe is nie n pretdraf nie. Dit is in baie opsigte n stryd. Daar is meer as een vorm van stryd in die lewe. Daar is die stryd om kos en klere en n dak oor jou kop te hê. Weens werkloosheid en armoede is dit vir baie n stryd net om te oorleef. Daar is die stryd om gesond te wees en gesond te bly, om jou verhoudings met jou medemense te laat werk en om jouself teen misdadigers te beveilig. Daar is ook die stryd teen jou eie swakhede, soos Paulus se stryd met die doring in sy vlees, waarvan ons in 2 Korintiërs 12 lees. Dan is daar die stryd weens gierigheid om net die beste te wil hê en die stryd weens eersug om net die beste wil te wees. En dan is daar ook die goeie stryd waarvan Paulus praat. Die goeie stryd is die stryd teen die gierigheid en die eersug van jou vlees. Dit is die stryd teen jou ou self, jou eie-ek. Dit is die stryd teen die sonde en die gevolge van die sonde. Dit is die stryd teen die duiwel en sy versoekings. Dit is die stryd om nie moedeloos te word, wanneer dinge skeefloop nie. Dit is die stryd teen dwaalleraars en verkeerde oortuigings en sienings. Dit is die goeie stryd van die geloof. Dit is n eerbare stryd vir die saak van die geloof. Dit is ook n stryd vanuit die geloof, naamlik dat jou geloof vir jou krag gee vir die stryd. Daar is talle voorbeelde in Paulus se briewe wat getuig van hoe hy dié stryd (die goeie stryd) gestry het. Die tyd is te min om nou al die voorbeelde te noem.
3 Geliefdes, as jy terug kyk op die wedloop van jou lewe, kan jy ook soos Paulus sê ek het die goeie stryd gestry? Of het jy die lelike stryd van gierigheid en eersug en eie belang en selfhandhawing gestry? En terwyl jy nog nie klaar is met die wedloop van die lewe nie, watter stryd stry jy tans en watter stryd gaan jy in die toekoms stry? Kom ons kyk nou na Paulus se woorde: ek het die wedloop voltooi. In die heel eerste preek van hierdie reeks het ek gesê dat die wedloop van die lewe n wedloop is wat jy nie vir jouself hardloop nie, maar vir God hardloop. Wanneer hardloop jy die wedloop van die lewe vir God? Jy hardloop die wedloop van die lewe vir God, as jy jou roeping as Christen in die wêreld uitleef en dáár dinge vir God en sy koninkryk doen. Jy hardloop die wedloop van die lewe vir God, as jy dienswerk in Sy kerk doen. Jy hardloop die wedloop van die lewe vir God, as jou hele lewe aan God toegewy is. Dit is belangrik dat jy hierdie wedloop nie net halfpad vir God hardloop nie, maar enduit vir God hardloop. Of om Paulus se woorde te gebruik, dit is belangrik dat jy die wedloop voltooi. Dit is nie vanselfsprekend dat mense wat goed wegspring in die wedloop enduit gaan volhou nie. Ons lees in vers 10 van hierdie hoofstuk dat Demas, wat eens op n tyd n getroue medewerker van Paulus was, hom in die steek gelaat het omdat hy die wêreldse dinge liefgekry het. Ons sien dit so baie in die kerk dat jongmense belydenis van geloof aflê en belowe om goeie kinders van die Here en getroue lidmate van Sy kerk te wees en dan net uitsak en verdwyn en los van die Here en van Sy kerk raak. Geliefdes, as jy terug kyk op die wedloop van jou lewe, kan jy ook soos Paulus sê ek het die wedloop voltooi? Of anders gestel: Ek het enduit die wedloop van die lewe vir God gehardloop. En terwyl jy nog nie klaar is met die wedloop van die lewe nie, is jy steeds besig om die wedloop van die lewe vir God te hardloop? Doen jy jou deel vir God in die wêreld en in Sy kerk? Is jou hele lewe aan God toegewy? Kom ons kyk nou na Paulus se woorde: ek het die geloof behou. Dit gaan hier nie oor geloof verkry nie, maar geloof behou. Om aan te hou glo is net so belangrik soos om te begin glo. Om aan te hou glo, is nie altyd so maklik nie. Daar is baie aanvalle op ons geloof. Daar is talle ander sienings en oortuigings en teorieë in die wêreld wat jou soms laat twyfel of jou eie oortuigings nog reg is. Daar is baie nuwe wetenskaplike ontdekkings en teorieë wat kan veroorsaak dat jy aan jou geloof twyfel. Verder is daar baie versoekings wat jou kan verlei om liewers ander paadjies te loop. En soms lyk geloof self so nutteloos, so asof dit jou eintlik niks in die sak bring nie. Paulus het ook iets hiervan beleef. Terwyl hy die Here gedien het en vir Hom gewerk het, het hy baie terugslae en teenkanting van mense ervaar. Nadat hy baie opofferings vir die werk van die Here gemaak het en alles gegee het, het hy in die tronk beland. Te midde van al hierdie dinge het hy tog die geloof behou, want hy het geweet dat God hierdie werk vir hom gegee het en dat God Hom oor Paulus ontferm het.
4 Geliefdes, as jy terug kyk op die wedloop van jou lewe, kan jy ook soos Paulus sê ek het die geloof behou? En terwyl jy nog nie klaar is met die wedloop van die lewe nie, is dit belangrik dat jy sal vashou aan die geloof. Veral in vandag se tye is dit noodsaaklik, want al meer mense raak afvallig. Ons kyk vorentoe na die wenpaal By die wenpaal wag daar n beloning vir die atlete. Die een wat eerste kom, kry gewoonlik die goue medalje, die een wat tweede kom, kry gewoonlik die silwer medalje en die een wat derde kom, kry gewoonlik die brons medalje. Daar is egter wedlope waar almal wat die wedloop voltooi, n medalje kry. Een voorbeeld van so n wedloop is die Comrades marathon. Met die wedloop van die lewe werk dit soos met die Comrades marathon waar almal wat klaar maak, n medalje ontvang. Wat is die medalje wat ons as gelowiges by die wenpaal van die wedloop van die lewe sal ontvang? Paulus noem dit in 2 Timoteus 4:8 (1933/53-Vertaling) die kroon van die geregtigheid. En hy sê dat dit nie net vir hom gegee gaan word nie, maar vir almal wat na die Here, die regverdige Regter, se koms uitsien. Wat is die kroon van die geregtigheid? Kom ons veronderstel dat jy dit kon regkry om God se wet eenhonderd persent te gehoorsaam. Ja, ek weet dat jy dit nooit sal kan regkry nie, maar kom ons veronderstel ter wille van die verduideliking wat ek wil gee, dat jy dit wel kon regkry. Dan sou jy mos heeltemal onskuldig voor God gewees het. Met ander woorde: Jy sou heeltemal regverdig voor God gewees het. Jy sou as gevolg van jou gehoorsaamheid volkome geregtigheid gehad het. As beloning sou jy die kroon van die geregtigheid as medalje ontvang het. Die probleem is nou net: Jy het dit nie reggekry om God se wet te gehoorsaam nie. En jy sal dit ook nooit reg kry nie. Niemand sal nie. Die gevolg is nou dat jy net soos elke ander mens nie verdien om die kroon van geregtigheid te ontvang nie. En tog gaan jy die kroon van geregtigheid as medalje ontvang! Hoe is dit moontlik? Dit is moontlik, omdat ons Here Jesus Christus dit namens jou vir jou verdien het. Ons Here Jesus Christus het God se wet eenhonderd persent gehoorsaam. Hy is heeltemal onskuldig en ten volle regverdig voor God. Hy besit volkome geregtigheid. Die goeie nuus van die Evangelie is dat jy, wanneer jy glo, deel kry aan die geregtigheid van Christus. Dit word aan jou gegee! Die geregtigheid van Christus word in só n mate aan jou gegee dat, wanneer die Here (die regverdige Regter) oor jou oordeel, Hy jou onskuldig sal bevind. Die geregtigheid van Christus veroorsaak dat jy nie meer skuldig is nie, maar onskuldig. Die geregtigheid van Christus word tot só n mate aan jou gegee dat, wanneer die Here (die regverdige Regter) oor jou oordeel, jy voor Hom sal staan asof jy nooit enige sonde gedoen het nie en asof jy Sy wet eenhonderd persent gehoorsaam het. Dáárom sal jy by die wenpaal die kroon van geregtigheid as medalje ontvang.
Daar is nog meer: Uit genade sal God tog ons goeie werke beloon. Ons verdien dit nie, maar tog sal dit gebeur. Presies hoe dit sal werk, weet ek nie, maar gedeeltes soos 2 Korintiërs 5:10 en Matteus 19:27 praat van belonings wat daar op ons wag vir ons geloof en ons dade. Ons sal ook in die ewige lewe uit genade beloon word vir ons geloof en diens. Slot 5 Ons het vanoggend as afsluiting van ons reeks preke oor afrigting vir die lewe terug gekyk op ons geloofswedloop en ons het vorentoe gekyk na die wenstreep. Maar die wedloop van die lewe is nog nie klaar nie. Die meeste van julle se wedloop gaan nog etlike jare duur. Presies hoe lank weet nie een van ons nie. Dit is egter belangrik dat ons besef dat dit enige tyd kan eindig. Daarom moet ons ook leef asof dit enige tyd kan eindig. Weet intussen dit: Jou naam is reeds op die medalje van die ewige lewe gegraveer! Lewe só dat jy aan die einde van jou lewe sal kan sê: Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou. Amen. Sien die OAV se "weggelê" vir my Vers 8: Kyk watter band kan hier gelê word met HK Sondag 23 Verantwoordelikheid van mens Kroon vd geregtigheid wat die Here my gee. Is vir my weggelê. Nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat... Geregtigheid? Belofte van die Here kom ten volle navore. Vryspraak. Deur Christus betaal. Christus se kroon. Oorwinnaarskroon. Meer as oorwinnaars! Gids waaraan die paralimpiese atleet aan moet vashou. Elke indiwidu moet vashou. Een kroon. Openbaring 2 en 3.
6 HK 23:60 en HK 24;62 Vanuit ons terug kyk en ons vorentoe kyk hou ons aan met die wedloop Vers 9: In die wedloop van die geloof moet jy jou oog op die eindpaal (die Here) hou en nie jou hoop op jou medeatlete gerig hou nie. Vers 10 ev In die wedloop van die geloof kan jy wel reken op mede-atledete. Dink hier aan die mekaar tekste. Al is jy aan die einde van jou geloofswedloop, moet jy jou steeds in di Woord van die Here verdiep. Paulus doen dit. Sien hier die mooi band met 4:7 en 4:12-13 oor die boeke wat steeds belangrike rol in sy lewe speel - al is hy by wyse van spreke reeds by die wenpaal. As ons beeld van wedloop vat, is Paulus in die pylvlak. Eintlik moet jy elke dag lewe asof jy in die pylvlak is.
Tyd van my heengaan is naby, is uitdrukking wat in skeepvaart gebruik is. Die vertrek uit die tuishawe. 7 Struktuur van 'n tregter?