1 8. Ek glo Jesus het gesterf en is begrawe Johannes 19:30-42 Tema Jesus het in ons plek die helse pyn en doodsbenoudheid binnegegaan om as wenner of oorwinnaar uit die dood op te staan. Agtergrond en interpretasie Hierdie aanbieding sou ook as ʼn eenheid saam met die vorige aanbieding hanteer kon word. Lees ook die agtergrondinligting van die vorige aanbieding. Paulus skryf in Kolossense 2:14 dat God die bewys dat ons skuldig is en die rekening (skuldbewys) daarvoor aan die kruis vasgeslaan het. Deur sy dood aan die kruis is hierdie rekening betaal (sien Ontmoeting 10). Die feit dat Jesus waarlik gesterf (die laaste asem uitgeblaas) het, word onderstreep wanneer Johannes beskryf dat Hy reeds dood was toe die soldate die gekruisigdes se bene gebreek het om hulle dood vinniger te laat aanbreek voordat die Joodse sabbat teen sononder sou begin. Hierna beskryf Johannes ook breedvoerig Jesus se begrafnis en Matteus vertel selfs hoe die graf bewaak is. Die manier waarop Jesus gesterf het en begrawe is, wys hoe Hy waarlik in die dood ingegaan het om die dood as grootste en finale vyand te verslaan (1 Kor 15:55-56). Dit vorm dan ook die agtergrond waarteen die opstanding beskryf word. As Jesus nie waarlik dood was nie, het Hy nie waarlik opgestaan nie. Ter helle neergedaal: Hierdie sinsnede is in 359 nc by die Apostoliese Geloofsbelydenis gevoeg. Al is daar verskillende interpretasies vir hierdie woorde, beskou ons dit nie as ʼn aanduiding dat Jesus na ʼn plek toe gegaan het nie. Dit word meer figuurlik geïnterpreteer: Jesus het ʼn vlak van lyding deurgemaak wat so erg was dat ons dit met die lyding van die hel helse pyn of lyding kan vergelyk. Jesus het hierdie lyding ervaar omdat Hy van God verlate was. Dit is ʼn opsomming van die diepte van Jesus se lyding van hoe erg dit was. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit soos volg in Vraag en Antwoord 44:
2 Vraag: Waarom volg daar: wat ter helle neergedaal het? Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die helse benoudheid en pyn verlos het. Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het. Bybelgedeeltes en hoofgedagtes Bybelgedeelte (lees of vertel) Lees Johannes 19:30-34 Vertel Johannes 19:35-37 Lees Johannes 19:38-42 Hoofgedagtes van die ontmoeting 1. Jesus het regtig doodgegaan. 2. Johannes getuig dat Jesus gesterf het net soos die Skrif gesê het dit sou gebeur. 3. Jesus is begrawe. 4. Jesus het ter helle neergedaal. Uitkoms 1. Insig: Jesus was regtig dood. 2. Respons: Ons is bly dat Jesus werklik mens geword het om in ons (mense se) plek te sterf. Hulpmiddels by die storie 1. Paneel 6. Hulpmiddels vir kleingroepvaslegging Geen.
3 Die storie Begin Dit is nie lekker om oor doodgaan en begrafnisse te praat nie. Maar dit is iets wat die hele tyd rondom ons gebeur. Dit sal ook eendag met ons gebeur. Die laaste hekkie op elke mens se pad op aarde, is wanneer ons by die dood ingaan. Toe Jesus mens geword het, het Hy ook op hierdie pad begin stap. Hy het nie omgedraai of teruggegaan hemel toe gegaan voordat Hy by hierdie hekkie ingegaan het nie. Daar is nog iets wat belangrik is wanneer ons na die laaste stukkie van Jesus se pad hier op aarde kyk. Die mense het gesê Hy was ʼn misdadiger, iemand wat iets baie verkeerd gedoen het. Toe Hy gekruisig is, het hulle Hom tussen twee ander misdadigers laat hang. Misdadigers word gewoonlik nie by ander mense begrawe nie. Kom ons kyk nou wat met Jesus gebeur het. Hoor Moment 1: Johannes 19:30-34 Jesus het regtig doodgegaan Johannes vertel vir ons van al hierdie dinge om ons te verseker dat Jesus regtig doodgegaan het. Hy het nie voor die hekkie omgedraai nie. Om iemand aan ʼn kruis vas te spyker om daar dood te gaan, was ʼn verskriklike straf. Ons wil eintlik nie eens daaraan dink nie. In Deuteronomium 21:22-23 lees ons van een van die reëls wat die Here God vir die Israeliete gegee het: Wanneer iemand as ʼn misdadiger sterf, mag sy liggaam nie in die nag aan die kruis of paal bly hang nie. Hy moet dieselfde dag nog begrawe word. Wanneer mense gekruisig is en hulle was nog nie dood teen die tyd dat dit laat in die dag geword het nie, het die soldate dus gesorg dat hulle vinniger doodgaan. Dit is dan ook wat met die misdadigers by Jesus gebeur het, maar Jesus was toe reeds dood. Moment 2: Johannes 19:35-37 Johannes getuig dat Jesus gesterf het net soos die Skrif gesê het dit sou gebeur Johannes skryf dat hy dit alles sien gebeur het. Dan neem hy twee verse uit die Ou Testament en sê Jesus se dood het gebeur presies soos dit in hierdie verse geskryf staan. Psalm 34:21 sê die Here sorg vir die liggaam van die regverdige nie een van sy bene word gebreek nie. Johannes sê hier: Kyk, dis presies wat met Jesus gebeur het! Sy bene is nie gebreek nie. Is Hy dan ʼn misdadiger? Nee! Johannes skryf hier ook oor ʼn ander deel in die Ou Testament, naamlik Sagaria 12:10. Hierdie vers vertel hoe die hele Jerusalem kyk na iemand wat hulle doodgesteek het en jammer is en treur oor daardie een. Johannes sê nou: Dit is wat hier gebeur het. Jesus is nie doodgesteek nie, maar gekruisig. Almal in Jerusalem kyk egter na (sien) wat hulle gedoen het. Hiermee troos Johannes almal, want hy sê dit is presies soos dit moes gebeur. Kom ons lees verder. Moment 3: Johannes 19:38-42 Jesus is begrawe Misdadigers is van die kruis af gehaal nadat hulle gesterf het en partykeer nie eens begrawe nie. Hulle liggame is sommer net iewers gegooi. Maar met Jesus het daar iets vreemd gebeur.
4 Een van die ryk mense in Jerusalem het gevra of hy Jesus se liggaam kon gaan begrawe. Pilatus het gesê dis reg so. Hierdie ryk man se naam was ook Josef. Hy het van die dorpie Arimatea gekom. En wie het hom gehelp om vir Jesus te begrawe? Nikodemus. Nikodemus was die man wat deel van die Joodse Raad was en wat in die nag na Jesus toe gegaan het (sien Ontmoeting 2). Hy was ook ʼn baie vername man en seker ook baie ryk. Toe hulle Jesus se liggaam gaan begrawe, het Josef van Arimatea vir Jesus ʼn nuwe graf gegee en Nikodemus het baie kruie en olie gebring waarmee hulle sy liggaam kon versorg. Jesus is begrawe voordat dit donker geword het, want vir die Jode het die nuwe dag begin wanneer dit donker geword en die ou dag verby was. Moment 4: Jesus het ter helle neergedaal Ongeveer 300 jaar ná Jesus se kruisiging (in 369 nc) het die vroeë kerk een sin by die Apostoliese Geloofsbelydenis gevoeg. Ons vertaal dit in Afrikaans met ter helle neergedaal het. Party mense het gesê die hemel is daar bo; daarom moet die hel iewers onder wees. Dit was lank voordat die mense geweet het die aarde is rond. Wanneer ons vandag sê Jesus het ter helle neergedaal, praat ons nie eintlik van ʼn plek nie, maar eerder hoe dit vir Hom moes gevoel het om te sterf. Ons sê met hierdie woorde dat Jesus se pad so vol swaarkry en pyn was dat dit die teenoorgestelde was van die blydskap en vreugde van die hemel. Jesus het deur helse swaarkry (lyding) en pyn gegaan. Dink Ons troos mekaar met hierdie woorde: Jesus het ons straf in ons plek gedra sodat ons nie die swaar straf op ons sonde sal hoef te verduur nie. Leef Mense wat vir Jesus lief is en weet dat Hy al die pyn en swaarkry gedra het sodat ons sonde vergewe kan word, wil net vir Hom dankie sê. Ons hele lewe behoort een groot dankie te wees.
5 Kleingroepvaslegging: Junior groep Welkom Laat die kinders hulle hande oop voor jou hou wanneer hulle inkom. Teken met jou vinger in hulle een hand die letter b en in hulle ander hand die letter d. Wanneer hulle almal rustig sit, vra watter twee letters jy in hulle hande geskryf het. Verduidelik dan dat hierdie twee letters staan vir: Baie dankie. Alles wat ons is en doen, is en doen ons om vir Jesus baie dankie te sê dat Hy regtig mens geword en vir ons gesterf het. Ons sê vir hom dankie dat Hy sterker as die dood is. Wegspring Kom ons sê nou almal saam die Apostoliese Geloofsbelydenis op tot by die woorde ter helle neergedaal het (bl 7 in die werkboek). Kyk weer na die trappe van vernedering op bladsy 23 van jou werkboek. Ons het verlede week daaroor gepraat. 1. Maak nou op die vierde trap van bo af net ʼn paar krapmerke in ʼn donker kleur of skryf die woord dood op die trap. 2. Teken op die onderste trap ʼn ronde klip voor ʼn graf in ʼn klipkoppie. 3. Trek nou van bo tot onder langs die trappe ʼn groot pyl. Hierdie pyl herinner jou aan die woorde ter helle neergedaal het. Werksaam Dink weer aan die 5 trappe van vernedering waaroor ons verlede week en hierdie week gesels het. 1. In die raaisel hier onder is daar een paadjie wat by al die trappe of stasies verbyloop. Watter paadjie is dit? 2. Teken nou in die blokkie by elke stasie iets wat wys wat daar gebeur het: Jesus word gebore; Jesus ly; Jesus word gekruisig; Jesus sterf; Jesus word begrawe.
6 Oplossing Wegstuur/Huisgeloof 1. Vertel vandag vir die mense by die huis watter letters in jou hand geskryf is en hoekom dit daar geskryf is. 2. Wat is die swaarste ding wat al ooit met iemand in julle huis gebeur het? Praat saam daaroor. 3. Die dood bring groot hartseer. Hoekom het Jesus se dood nie net hartseer gebring nie, maar maak dit ons ook bly?
7 Kleingroepvaslegging: Senior groep Welkom Laat die kinders hulle hande oop voor jou hou wanneer hulle inkom. Teken met jou vinger in hulle een hand die letter b en in hulle ander hand die letter d. Wanneer hulle almal rustig sit, vra watter twee letters jy in hulle hande geskryf het. Verduidelik dan dat hierdie twee letters staan vir: Baie dankie. Alles wat ons is en doen, is en doen ons om vir Jesus baie dankie te sê dat Hy regtig mens geword en vir ons gesterf het. Ons sê vir hom dankie dat Hy sterker as die dood is. Wegspring Wie kan die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê tot by die deel ter helle neergedaal het? (Laat die kinders beurte maak en mekaar help.) Wonder Baie skilders het deur die eeue heen ʼn uitbeelding van vandag se Bybelgedeelte gemaak. Hier is ʼn afdruk van Rogier van der Weyden se skildery wat hy iewers tussen 1460 en 1463 geskilder het. Dit is vandag in die Uffizi-galery in Florence, Italië. (Wys vir die groep die foto.) Rondom die Christusfiguur is daar vyf ander mense, amper soos ʼn blom se blare uitgesprei. Jesus se ma, Maria, en sy dissipel Johannes hou sy hande vas. Voor sit Maria Magdalena en agter staan Nikodemus en Josef van Arimatea. Josef van Arimatea het duur klere aan, soos die ryk mense in die skilder se leeftyd gedra het. Sommige kenners sê die skilder het waarskynlik sy eie gesig geskilder as dié van Josef van Arimatea, wat reguit vir ons kyk. Ander sê weer Nikodemus het die skilder se gesig. Wonder nou met toe oë hieroor: As jy ʼn skildery moes maak, hoe sou jy dit doen? Vir wie sou jy almal skilder? By wie se lyf sou jy jou gesig geskilder het? (https://en.wikipedia.org/wiki/lamentati on_of_christ_(van_der_weyden)#/media /File:Rogier_van_der_Weyden_013.1.jpg)
8 Werksaam 1. Hieronder is twee kolomme. Verbind die naam in kolom A met die regte sin in kolom B. A Josef van Arimatea Soldaat Johannes Nikodemus Psalmskrywer Pilatus B Geen been van die regverdige sal gebreek word nie. Hy wat dit gesien het, getuig daarvan. Hy gee toestemming dat Josef van Arimatea Jesus se liggaam mag neem en gaan begrawe. Hy vra in die geheim of hy Jesus se liggaam mag neem om Hom te gaan begrawe. Hy breek die mense wat gekruisig is se bene. Hy het eenkeer in die nag na Jesus toe gegaan, en nou bring hy salf en kruie om Jesus se liggaam te versorg. 2. Rangskik die ses sinne in kolom B nou in die regte volgorde soos jy die verhaal onthou. Jy kan die syfers 1 tot 6 in die blokkies heel regs neerskryf. 3. In watter een van hierdie mense se skoene sou jy die graagste wou staan? Hoekom sê jy so? Wegstuur/Huisgeloof 1. Vertel vandag vir die mense by die huis watter letters in jou hand geskryf is en hoekom dit daar geskryf is. 2. Wat is die swaarste ding wat al ooit met iemand in julle huis gebeur het? Praat saam daaroor. 3. Die dood bring groot hartseer. Hoekom het Jesus se dood nie net hartseer gebring nie, maar maak dit ons ook bly?