DIE STRANDLOPER Hierdie is die eerste verslag van 2013. POLITIEK Tydens die Mangaungkongres is die magsbasis van die regerende party se president baie duidelik uitgestippel. Die vraag is hoe vloeibaar die politiek in die periode tot 2019 sal word en hoe rustig die huidige bewindhebbers sal kan vertoef in hul veilige woonkomplekse? Intussen word die hoop geplaas op die ANC vise-president om die swaeltjie te wees wat die somer bring en al die probleme van die land soos mis voor die somerson sal laat verdwyn! Noord-Afrika en die Midde-Ooste bly onrustig en geweldadig en beïnvloed soms die olie- en finansiëlemarkte. Tans lyk dit asof daar nie vinnige en daadwerklike oplossings vir hierdie probleme sal wees nie. Verdere sanksies teen Iran kan in Februarie ingestel word. In Japan is daar nuwe hoop dat die nuut verkose ou leierskorps daarin sal slaag om die ekonomie aan die gang te kry en negatiewe inflasie een of ander tyd tot by 2% te laat styg niemand waag n voorspelling of dit nog in hierdie eeu sal plaasvind nie! Die stryd met China om die onbewoonde eilande versuur steeds die handelsbetrekkinge tusse die twee lande. Europa is tans rustig omdat geglo word dat die ergste van die ekonomiese krisis agter die rug is. Ongelukkig bly Euroland-werkloosheid op amper rekord vlakke en in Spanje en Griekeland bo 25% met die aanduiding dat dit in die res van die jaar verder sal styg. Duitsland hou verkiesing teen September, terwyl Italië reeds in Februarie na die stembus gaan met die hupse mnr Berlusconi een van die sterk aanspraakmakers op die premierskap. In die VSA duur die politieke gekibbel oor die staatsfinansies voort, maar is daar wel die verwagting dat een of ander oplossing een of ander tyd gevind sal word mag die hoop nie beskaam nie! INTERNASIONAAL Aan die begin van die jaar is daar amper n hoorbare sug van verligting geslaak omdat die ergste nie gebeur het nie. Die VSA het amper oor die fiskale afgrond getuimel, maar wel die saak op die nippertjie beredder en dit uitgestel tot later; die euro is nog in een stuk en daar word tans gehoop dat die krake wel toegesmeer sal bly; Japan het nuwe hoop dat hul ekonomie weer aan die gang kan kom en inflasie eendag tot 2% kan styg; die Chinese ekonomie toon weer tekens van groei. Weens die bogenoemde, styg kommoditeitspryse; aandelebeurse klim; langtermynrentekoerse styg; sentrale banke hou steeds die geldkrane oop;
korttermynrentekoerse bly op lae vlakke; werkloosheid bly n probleem in verskeie lande. In die VSA word verwag dat die ekonomie vanjaar sowat 2% groei kan toon. Euroland kan weer eens negatiewe groei in 2013 beleef en dit kan ook die voorland van die VK wees. Binne Euroland kan Duitsland in 2013 groei van sowat 0.5% haal. Die Japanse regering wat in Desember aan bewind gekom het, is vasbeslote om die ekonomie teen sowat 2% te laat groei met sterk fiskale en monetêre stimulus wat massas geld in die ekonomie moet pomp. Die jongste inligting dui op n herstel van die Chinese ekonomie en n groeikoers van meer as 8% word verwag. In die VSA is Januarie werkloosheid 7.9%. Die Federal Reserve Board meld dat hy nie sy groeistimulus sal verminder alvorens werkloosheid tot 6.5% gedaal het nie. In Euroland is die Duitse werkloosheid van 6.8% op dieselfde lae vlak as twee dekades gelede, maar in Spanje en Griekeland meer as 25% en stygend. Nieteenstaande swak groei in die VK is werkloosheid van 7.7% steeds verbasend laag. In China en Japan is werkloosheid onderskeidelik 4.1% en 4.2%. Terselfdertyd bly inflasie in al hierdie lande op lae vlakke met die VSA op 1.7%; VK 2.7%; Eurogebied 2.0%; Duitsland 1.7%; China 2.5%; Japan -0.1%. Die aanduidings is dat inflasie geruime tyd nie n probleem behoort te wees nie. In Japan is die negatiewe koers wel n probleem en wil die owerhede poog om n positiewe inflasiekoers te bewerkstellig. Weens die matige of selfs negatiewe groei, tesame met lae inflasiekoerse wat in 2013 en in 2014 voorspel word, word verwag dat sentrale banke in die groot nywerheidslande steeds baie likiditeit in die markte sal pomp. Korttermynrentekoerse sal dus in hierdie periode steeds sywaarts beweeg. Tans is daar minder bekommernis dat die eurogebied sal verbrokkel en dat die VSA nie op een of ander manier sy staatsfinansies onder beheer sal kry nie. Die afgelope paar weke het fondse vanuit Duitse en VSA staatseffekte na staatseffekte in Portugal, Italië, Ierland, Spanje, en selfs Griekeland (PIIGS) beweeg. Gevolglik styg langtermynrentekoerse in die VSA, VK, Duitsland terwyl dié koerse in die PIIGS daal. VSA en Duitse koerse styg ook omdat daar verwag word dat groei in hierdie lande in 2013 sal verbeter. Sentimente bly egter broos en n ommeswaai in die bogenoemde tendense kan met enige terugslag van groeivooruitsigte of aanduidings dat gewaande vordering met lande se skuldsituasies nie realiseer nie, na vore kom. Aanduidings dat die Chinese ekonomie weer versnelde groei toon en dat die fiskale probleme van die VSA nie die herstel van die ekonomie sal kortwiek nie, het algemene kommoditeitspryse sedert die begin van 2013 ondersteun. Vraag en aanbod in die onderskeie markte speel egter ook n rol soos in die geval van die platinumbedryf waar produksie kan afneem weens die sluiting van myne. Rubberpryse het in Augustus n laagtepunt bereik, maar sedertdien herstel omdat die grootste produsente hul produksie verminder het of voorraad opgebou het. Die herstel van die motorbedryf ondersteun ook die rubberprys, maar nie soseer die platinumprys met die 20 miljoen motors wat vanjaar in China verkoop kan word nie. Die totale motormark word op sowat 82 miljoen voertuie vir 2013 geraam. Die swakker tendens van die dollar ondersteun tans kommoditeitspryse wat in dollat kwoteer word. Die goudprys het sedert die begin van 2013 verswak weens die aanduidings dat al die krisisse van 2012 nie so erg is nie en tans redelik goed onder beheer is. Die verwagting dat inflasie laag bly, is ook nie positief
vir goud nie, maar die voortgesette lae rentekoerse ondersteun die prys. Die goudprys word goedkoper met die dollar wat teenoor ander geldeenhede verswak. Die olieprys het sedert die begin van die jaar gestyg. Dit was weens die vermindering van produksie deur Saoedi- Arabië, die voortslepende politieke onrus in die Midde- Ooste en Noord-Afrika, die verswakking van die dollar asook die ysige winterweer in die Noordelike halfrond. Die gemiddelde Brent ru-olieprys van $111.68/vat in 2012, was n rekord. In die langer termyn word steeds verwag dat die olieprys wel kan verswak weens die matige groei wat vanjaar voorspel word, groter aanbod van lande soos Irak en Libië en die mededinging wat kom vanuit die lae natuurlike gasprys. Voorspellers verwag gemiddelde Brentprys van $101/vat in 2013 en $93/vat in 2014. Kom ons kyk wat gebeur! PLAASLIK Die plaaslike ekonomie kan vanjaar groei van net meer as 2.5% toon teenoor die verwagte net minder as 2.5% in 2012. Groei word steeds aangedryf deur privaatverbruiksbesteding wat ondersteun word deur loon- en salaristygings wat hoër is as die inflasiekoers en kredietskepping, voortgesette toenames van welsynsbetalings asook infrastruktuurbesteding deur Eskom, Transnet, Sanral. Die produksiesektore van die ekonomie het die afgelope jaar onder druk gekom weens arbeidsonrus en n verswakking van uitvoermarkte in China en Euroland. Aanduidings is dat negatiewe arbeidsonrus asook die positiewe verbetering van uitvoermarkte in 2013 kan voortduur Die voortgesette wanbalans tussen die binnelandse vraag en aanbod het tot n baie skerp styging van die buitelandse handelstekort gelei. Dit het van R16.89 miljard in 2011 tot R117.7 miljard in 2012 gestyg. Tesame met die tekort op die diensterekening van die betalingsbalans word n tekort van sowat R190 miljard op die lopenderekening van die betalingsbalans vir 2012 verwag en meer as R200 miljard in 2013. Hierdie tekort moet steeds deur die invloei van buitelandse kapitaal finansier word. Die vloei van hierdie fondse was die afgelope paar maande baie onstabiel veral weens die arbeidsonrus, die algemene onsekere politieke klimaat en die laer kredietgradering. Die betalingsbalanstekorte asook die finansiering daarvan sal n groter rol moet speel in die bepaling van owerheidsbeleid in komende maande. Weens die swakker as verwagte ekonomiese groei, word voorspel dat die sentrale regering se 2012/13 begrotingstekort groter as wat aanvanklik beraam is, sal wees. Die begroting wat op 27 Februarie ter tafel gelê sal word, sal heel waarskynlik weer eens gunstig vir verbruik en minder gunstig vir produksie wees. Dit sal dus nie die wesenlike wanbalans tussen vraag en aanbod, wat weerspieël word in die groter wordende tekort op die betalingsbalans, aanspreek nie. Die finansiële probleme van plaaslike owerhede sal voortduur en groter finansiële druk op plaaslike belastingbetalers plaas. Teen die tempo wat daar aanpassings in die standaarde van die onderwystelsel gemaak word, kan daar binne afsienbare tyd n 100% matriekslaagsyfer behaal word. Dit sal egter nie bydra om die werkloosheids- en gepaardgaande sosiale probleme op te los nie. Die probleme rondom opgeleide en kundige menslike hulpbronne bly steeds vir my een van die mees beperkende faktore vir langtermyn groei van die plaaslike ekonomie. Daar is
ongelukkig geen aanduiding dat hierdie probleme in die afsienbare tyd opgelos sal word nie. Inflasie styg weens die verswakking van die rand, salaris- en loonsverhogings wat hoër is as wat die inflasiekoers of enige produktiwiteitsverbetering regverdig, asook administratiewe tariefverhogings. Nogtans word verwag dat inflasie soos gemeet aan die verbruikersprysindeks slegs tydelik in die loop van 2013 bo die boonste mikpunt van 6% sal beweeg. n Gemiddelde koers van 5.7% word vir 2013 voorspel. Plaaslike korttermynrentekoerse sal na verwagting vanjaar sowel as in 2014 sywaarts beweeg. Die stygende inflasiekoers asook die tekort op die lopenderekening van die betalingsbalans noop eintlik n styging van hierdie koerse, maar sal verhinder word deur die voortgesette matige ekonomiese groeikoers asook plofbare hoë werkloosheidskoers. Langtermynrentekoerse sal steeds deur die in- en uitvloei van internasionale kapitaal beïnvloed word en kan in die loop van die jaar baie onstabiel vertoon. Die stygende inflasiekoers en groot tekort op die lopenderekening van die betalingsbalans sal opwaartse druk op hierdie koerse plaas, maar die verwagte stabiele kortkoerse behoort hierdie druk te demp. Die rand sal steeds baie onstabiel wees en veral die in- en uitvloei van buitelandse kapitaal weerspieël. Die groter wordende tekort op die lopenderekening van die betalingsbalans sal die rand verswak. Daarteenoor sal die bestaande rentekoersdifferensiaal tussen die RSA en veral die groot nywerheidslande, die rand in die langtermyn steeds ondersteun. BELEGGINGSOMGEWING Tans is die twee vernaamste tendense op die internasionale valutamarkte dat die euro teenoor alle geldeenhede versterk en dat die jen teenoor alle geldeenhede verswak. Die euro versterk omdat geglo word dat al die risiko s dat die geldeenheid sal verbrokkel nou verdwyn het en dat die finansieringsprobleme van al die lande onder beheer is. Die sterk euro sal egter die mededingingsvermoë van die lidlande ondermyn en beslis nie bydra om die steeds onderliggende skuldkrisis te laat verdwyn nie. Die jen verswak omdat geglo word dat die huidige regering daarin sal slaag om die sterk jen in die langer termyn te laat verswak sodat die Japanse ekonomie meer mededingend sal wees en inflasie tot 2% sal styg. Daar is aan beide hierdie tendense onderliggende risiko s wat in die loop van 2013 tot verdere onstabiliteit in die internasionale valutamarkte kan lei. Sentrale banke in die groot nywerheidslande sal steeds groot hoeveelhede likiditeit in die finansiële markte pomp. Die verwagting is dus dat internasionale kortkoerse tot in 2014 en selfs tot 2015 hoofsaaklik sywaarts sal beweeg op vlakke wat beleggers en spekulante noop om in die valuta-, kommoditeitsof aandelemarkte beter opbrengste te gaan soek. VSA, Britse en Duitse langtermynrentekoerse het die afgelope tyd aansienlik vanaf baie lae vlakke gestyg met fondse wat na die PIIGS lande gevloei het omdat geglo word dat hierdie laasgenoemde lande wel hul probleme binne die raamwerk van die monetêre unie te bowe sal kan kom. Daar word dus aanvaar dat die risiko om in hierdie lande se staatseffekte te belê minder is terwyl die opbrengste beter as in die VSA en Duitsland is. Die langkoerse van die VSA en Duitsland het ook gestyg omdat verwag word dat
ekonomiese groei in die res van die jaar sal verbeter. Die risiko s in hierdie markte bly baie hoog met sentimente wat oornag kan verander weens politieke, ekonomiese of finansiële probleme wat onverwags na vore kom. Weens die risiko van finansiële verliese weens stygende langkoerse, beweeg fondse vanuit staatseffekte ook na aandeleen kommoditeitsmarkte. Die VSA S&P 500 en Dow aandeleindekse was aan die einde van Januarie baie naby aan vorige rekordvlakke met maatskappye wat beter as verwagte resultate bekend gemaak het. Kommoditeitsmarkte het ook foncse gelok met die verwagting dat die vraag vanuit China sal verbeter. Plaaslike kortkoerse sal in die volgende twee jaar meestal sywaarts beweeg met die verwagting dat ekonomiese groei matig en werkloosheid onaanvaarbaar hoog sal wees. Hierdie koerse bied dus nie n aanvaarbare opbrengs nie met inflasie wat in baie gevalle hoër is as die rentekoerse. Plaaslike langkoerse sal beïnvloed word deur die inen uitvloei van internasionale fondse. Dit sal nie net ekonomiese tendense nie, maar ook politieke en arbeidsituasies asook sentimentsveranderings weerspieël. Die plaaslike aandelebeurs het sedert die einde van 2012 telkemale nuwe rekordvlakke bereik soos fondse beter opbrengste soek weens die verwagting dat rentekoerse geruime tyd op lae vlakke sal bly. Die rand weerspieël tans die sentimente van internasionale beleggers en spekulante wat deur die plaaslike politieke en arbeidsituasies beïnvloed word. Dit maak n reeds onstabiele situasie nog meer onstabiel. In die langer termyn behoort die hoër plaaslike as internasionale rentekoerse wel die rand te ondersteun. Ulrich Joubert 5 Februarie 2013 Hoewel moeite gedoen is om hierdie dokument so noukeurig moontlik op te stel, aanvaar die opsteller hiervan geen verantwoordelikheid vir die besluite wat op grond van die inligting hierin geneem word nie.