Die Kerk as staatskerk Keiser Konstantyn die Grote Dit is die jaar 312 n.c. Die Romeinse keiser, Konstantyn, staan aan die oewer van die Tiberrivier. Hy is nie die enigste keiser van die Romeinse ryk nie. Omdat die Ryk so groot is, is meer keisers aangestel. Boonop word sy keiseramp nie deur Rome erken nie, want hy is deur sy soldate tot keiser uitgeroep. Konstantyn wil keiser wees en daarom het hy opgetrek met sy leër teen Rome. Hy is bekommerd. Sy teëstander, keiser Maxentius, het drie maal soveel soldate as hy. Wat daar aan die Tiberrivier gebeur het, weet niemand nie. Slegs Konstantyn. Dit is sy woorde: Die son was besig om te sak. Skielik verskyn `n vlammende kruis met daarbo die woorde: In hoc signo vinces. (Dit beteken: Oorwin in hierdie teken.) Ek het geweet wat die kruis beteken. My ma is `n Christin. Deur die geloof in Christus sal ek oorwin. Terug in die laer het ek gaan slaap. In `n droom het Jesus Christus my beveel om die kruis tot `n veldteken te maak. Die volgende môre het ek die soldate opdrag gegee om `n kruis op die skilde en op die handvatsels van hul swaarde aan te bring. Ook het ons `n kruis gemaak met die Christus teken in goud en edelstene daarop. Dit het ons as veldteken saamgeneem in die stryd wat gevolg het. Die dag het ons `n verrassende oorwinning behaal oor keiser Maxentius. Dit is die verhaal wat keiser Konstantyn vertel het. `n Wonderlike verhaal. Of hy werklik die vlammende kruis gesien en of Jesus werklik tot hom gespreek het, weet ons nie. Wat ons wel weet is dat hy daarna groot veranderinge in sy Ryk aangebring het en die eerste Christenkeiser was. Die Edik van Milaan In die jaar 313, `n jaar nadat Konstantyn die groot oorwinning behaal het, word die Edik (wet) van Milaan uitgevaardig. Die edik het die volgende bepaal: Christene mag nie meer vervolg word nie. Christene mag in vryheid die Here dien. Kerke en ander eiendomme wat van die Christene weggeneem is, moet teruggegee word. So ook al die eiendomme van die martelare. Konstantyn word gedoop
Met die edik het daar `n einde gekom aan die vervolgings. Vir die Christene was dit heerlik om voortaan sonder vrees kerkdienste by te woon. Die regering onder leiding van keiser Konstantyn het goed gesorg vir die kerk: Die Sondag het `n verpligte rusdag geword. Pragtige kerke is gebou. Predikante is deur die regering betaal en vrygestel van belasting. Konstantyn het in die stad Konstantinopel, die stad wat hy vir homself laat bou het, geen beelde van afgode toegelaat, soos wat in daardie tyd die gewoonte was nie. Op die markplein het hy `n beeld opgerig van die Goeie Herder. Ander bekende standbeelde wat hy opgerig het, was van homself waar hy met `n kruis in sy een hand sit in Rome en by sy paleis waar hy sit met `n draak aan sy voete. Die draak is met `n pyl doodgemaak. Konstantyn staan bekend as Konstantyn die Grote. Dit is `n erenaam wat hy ontvang het, omdat hy soveel vir die Christene gedoen het. In sy tyd is die Christenvervolgings beeindig en het God sy Kerk baie geseën. Die Satan het egter ook hierdie tyd van vrede gebruik om sy saad te saai. Die kerk kry mag Omdat God die werk van die apologete (verdedigers van die geloof) geseën het, het die kerk sterker en sterker geword. Onder die keiserskap van Konstantyn het die kerk ook nou meer voorregte as die heidene gehad. Konstantyn het die hoogste priester van die hele Romeinse kerk geword. Deur hom het daar nou `n keiseroorheersing gekom wat teen die wil en gebooie van God was! Die keiser mag nie die kerk regeer nie. Na Konstantyn se dood het Theodosius die Grote hom opgevolg. Hy het die Christelike geloof in die jaar 380 die staatsgodsdiens gemaak. Voordele van `n staatskerk: Na al die vervolgings kon die kerk nou, sonder om bang te wees, die evangelie verkondig. Die kerk word ryk en magtig. Hulle kry geld by van die keiser om die mooiste geboue mee te bou. Daar kon nou aandag gegee word aan wat in die kerk geleer word. Die kerk het baie gegroei
Nadele van `n staatskerk: Die groot verandering het nie aleen net goeie dinge tot gevolg gehad nie: Baie mense het om verkeerde redes by die kerk aangesluit. Hulle het baie probleme veroorsaak binne die kerk Om `n goeie werk by die keiser te kon kry, moes jy aan die kerk behoort. Baie mense het daarom lidmate van die kerk geword. Daar was dus baie mense in die kerk wat nie in Jesus Christus geglo het nie, maar net daar was vir hul eie voordeel. Baie van die mense wat om verkeerde redes by die kerk aangesluit het, het `n klomp verkeerde gewoontes in die kerk ingebring. Omdat hulle nog heidene in hul harte was het heidense gewoontes vermeng met dit wat die kerk leer. Seker een van die verkeerdste dinge was dat die keiser nou gesê het wat in die kerk moes gebeur en wat nie. Die kerk word nou nie meer deur die ouderlinge geregeer nie, maar deur die koning. Heidense gewoontes sluip die kerk binne Die suiwere verkondiging van God se Woord het onder die dwaling van die staatskerk gely. Baie van die heidenchristene was belangrike mense is deur die Satan gebruik om God se kinders op `n dwaalspoor te bring. Die heidense godsdienste waaraan hulle eintlik nog in hul harte geglo het, het van hulle verwag om sekere dinge te doen (soos byvoorbeeld om hulself seer te maak). Hierdie slegte gewoontes het ook in die kerk ingekom en is Die plek waar Johannes die doper volgens oorlewering begrawe lê. deur die kerk gebruik. Indien iemand berou gehad het oor sy sondes, moes hy dit wys deur homself seer te maak. So was daar nog vir lank in die Christelike kerk (veral onder die priesters en die pelgrims) die gewoonte om hulself te pynig met swepe en gésels. Ten spyte van die feit dat God duidelik in sy wet gesê het dat geen afbeelding van Hom gemaak mag word nie, het die kerk beelde ingevoer om vir mense te wys wat in die Bybel staan. Dit was ook in hierdie tyd wat die verering van heiliges en martelare baie gegroei het. Baie mense het die grafte of standbeelde van hierdie heiliges gaan besoek en daar gebid. In hierdie tyd het die kerk ook begin om relekwië te versamel. Dit is heilige aandenkings van `n persoon of `n gebeurtenis. Voorbeelde van sulke relekwië is `n stuk van die kruis of `n spyker van die kruisiging of `n druppel van Jesus se bloed wat gevind is. Hierdie relekwië is dan uitgestal en mense het van heinde en verre gekom om die relekwie te sien en daar te bid. Natuurlik moes die besoekers dan geld betaal en die kerk het so ryk geword. Daar was natuurlik baie bygelowigheid rondom hierdie relekwië.
Die stryd tussen kerk en staat vandag Vir baie jare het die koning vir die kerk gesê wat om te doen. Vir lank was daar `n stryd oor wie die belangrikste was die kerk of die staat. Daar was selfs oorloë tussen die kerk en die staat! Vir baie kerkleiers was hierdie mag so belangrik, dat hulle net aan hulself gedink het in plaas van doen wat God van hulle vra. In Rom 13:1 lees ons dat elke mens hom moet onderwerp aan die magte wat oor hom aangestel is, want daar is geen mag behalwe van god nie en die wat daar is, is deur God ingestel. Dit beteken egter nie dat die staat vir die kerk mag voorskryf wat om te doen nie. Christus is die hoof van die kerk en ons moet in alles aan Hom alleen gehoorsaam wees (Matt. 23:9). Ook vandag kan dit maklik gebeur dat `n Christelike land met `n Christelike regering in hierdie slaggat trap. Daarom is dit ook belangrik dat ons ook in goeie tye vir ons regering bly bid vir wysheid. Vrae: 1. Op watter manier het keiser Konstantyn tot bekering gekom? 2. Wat is die edik van Milaan en waarom was dit so belangrik vir die Christene?
3. Op watter manier het die regering onder leiding van Konstantyn gesorg vir die kerk? 4. Noem drie standbeelde wat Konstantyn opgerig het. 5. Op watter manier kan ons die seën van die Here in hierdie tyd sien? 6. Op watter manier het die Satan hierdie tyd van vrede misbruik? 7. Watter voordele het die staatskerk vir die Christene gehad?
8. Watter nadele het die Staatskerk vir die Christene gehad? 9. Noem vier heidense gewoontes wat in die kerk ingesluip het. 10.Verduidelik wat relekwië is en noem twee voorbeelde. Op watter manier het die kerk hierdeur ryk geword?