IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA (ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING) Saak No : 510/2003 In die saak tussen: PROKUREURSORDE VAN DIE VRYSTAAT Applikant En PIETER JACOBUS BRITZ Respondent CORAM: MALHERBE RP et VAN COPPENHAGEN R AANGEHOOR OP: 28 AUGUSTUS 2003 UITSPRAAK DEUR: VAN COPPENHAGEN R DATUM GELEWER: 16 SEPTEMBER 2003 1. Respondent het as prokureur gepraktiseer tot 5 Augustus 1999 op welke datum die volgende bevel op aansoek van applikant verleen was: Die respondent se naam word van die rol van prokureurs geskrap. 2. Applikant beweer in die onderhawige aansoek dat respondent strydig met die bepalings van artikel 83(1) en (4) van die Prokureurswet, Wet No 53 van 1979 sekere werk verrig en dienste lewer. Op sterkte van voormelde bewerings het applikant in n kennisgewing van mosie
2 aansoek gedoen vir n bevel met die volgende bepalings: 1. DAT respondent verbied word om te praktiseer as prokureur of om enige regswerk te verrig wat gereserveer is vir prokureurs. 2. DAT respondent verbied word om die bepalings van Artikel 83(1) en (4) van die Prokureurswet No 53 van 1979 te oortree; 3. DAT respondent beveel word om die koste van hierdie aansoek te betaal insluitende die koste aangegaan deur applikant onder aansoeknommer 229/2003; 4. DAT sodanige verdere en/of alternatiewe regshulp aan applikant verleen word as wat die Agbare Hof mag behaag. 3. Respondent se aanvanklike opponering van die aansoek het verval toe respondent kennis gegee het dat hy sy opponerende verklaring terugtrek. Applikant het onder die begrip verdere en alternatiewe regshulp in die bede in die kennisgewing van mosie, versoek dat n bevel nisi uitgereik word waarkragtens respondent opgeroep moet word om redes, indien enige, aan te voer waarom hy nie skuldig bevind sal word aan minagting van die hof en dienooreenkomstig gevonnis sal word nie. Die volgende bevel was dan ook verleen:
3 1. Respondent verbied word om te praktiseer as prokureur of om enige regswerk te verrig wat gereserveer is vir prokureurs. 2. Respondent verbied word om die bepalings van Artikel 83(1) en (4) van die Wet op Prokureurs, No 53 van 1979, te oortree. 3. Respondent beveel word om die koste van hierdie aansoek te betaal, insluitende die koste aangegaan deur applikant onder aansoeknommer 229/2003. 4. Respondent word opgeroep om op 28 Augustus 2003 in hierdie Hof redes aan te voer waarom hy nie skuldig bevind sal word aan minagting van die Hof en gepas gestraf sal word nie. 5. Hierdie bevel moet aan respondent persoonlik beteken word. 4. Op die keerdatum was respondent nie in die hofsaal waarin die aansoek aangehoor sou word aanwesig nie, maar voordat n bevel in sy afwesigheid gemaak kon word, was die misverstand besef en was die aansoek uitgestel tot 11 September 2003. Respondent het op 8 September 2003 n beëdigde verklaring afgelewer. In die verklaring verduidelik respondent sy oorweging vir die terugtrekking van sy opponerende verklaring tot die aansoek en voer in konklusie aan dat hy in die bedryf van sy besigheid deurgaans onder die indruk was en steeds is dat hy nie die voorskrifte van artikel 83 van
4 Wet 53 van 1979 ootree nie. Respondent beroep hom dan ook verder op sy reg om mondelinge getuienis af te lê. 5. Op 11 September 2003 het respondent verskyn, en soos in sy beëdigde verklaring van 8 September 2003 in die vooruitsig gestel, wel mondelinge getuienis aangebied. Dit sal geen oorvereenvoudiging van respondent se hoofgetuienis wees deur te konstateer dat hy erken het dat hy bewus was dat hy as persoon wie se naam van die rol van prokureurs geskrap is, nie geregtig was om direk en/of indirek vir eie rekening of in vennootskap met enige ander persoon as prokureur te praktiseer nie. Sy verduideliking is ook eenvoudig dat die werk wat hy verrig het en die dienste wat hy gelewer het nie prokureurswerk was nie en ook dat hy nie as vennoot gepraktiseer het nie. Blykens die aansoekstukke en ook respondent se getuienis het persone wat in motorbotsings of ongevalle betrokke was, hetsy op grond van werwing deur hospitaal personeel of uit eie beweging, vir adviese na respondent wat onder die handelsnaam Legal Check funksioneer het, gegaan. Volgens respondent was die besigheid Legal Check op die 2de vloer in
5 dieselfde gebou as waar hy voor sy skrapping as prokureur op die 1ste vloer in vennootskap gepraktiseer het. Die eertydse firma met sy gewese vennoot ene Coetzee, het steeds as prokureur op die 1ste vloer praktiseer en wel onder die naam Britz & Coetzee. Die kantoor van Legal Check was deeltyds deur respondent, maar voltyds deur Hester Schoonraad, die persoon wat ook vir respondent sekretariële werk gedoen het in sy termyn as prokureur, beman. Die prosedure wanneer n kliënt om advies aangeklop het was, so het respondent getuig, kortliks die volgende: Volle besonderhede van die kliënt asook n verklaring oor die botsing of ongeval sou bekom word en magtigings om mediese rekords en mediese verslae aan te vra sou verkry word. Hierna sou n ondersoek begin word deur polisie planne en verslae, mediese rekords en verslae aan te vra, inligting oor die meriete, wat ook inspeksies kon insluit, in te win waarna al die versamelde inligting aan respondent se eertydse vernnoot oorhandig was vir indiening van die eis by die motorongelukkefonds. Respondent se rekening vir sy dienste gelewer was deurgaans, wanneer die eis suksesvol afgehandel was, deur respondent se eertydse vennoot wat as prokureur gepraktiseer het, betaal. Die werkswyse soos deur respondent voorgehou skep nie n oortreding
6 van die bepalings van die Prokureurswet, Wet 53 van1979 nie. 6. Die funderende asook repliserende verklarings weerspreek die getuienis van respondent reëlreg. Om met vers en kapittel na elke geval waar respondent se getuienis weerspreek word, te verwys, sal n omvangryke oefening wat eerder die verskille sal uitlig en beklemtoon wees as om n bydrae te lewer n gevolgtrekking. Belangrik en myns insiens deurslaggewend is respondent se, deur respondent erkende handtekening as vennoot op die finansiële state vir die jaar geëindig 28 Februarie 2002 asook n sertifikaat betreffende inkomste aangetoon in die finansiële jaarstate op 29 Februarie 2000 van Britz en Coetzee Prokureurs. Verdoemend is die feit dat die finansiële state deur respondent geteken was op 10 Mei 2002 terwyl voormelde sertifikaat geteken was op 19 Desember 2002, dws op twee afsonderlike geleenthede wat genoegsame geleentheid vir refleksie gebied het. Respondent se verduideliking dat hy voormelde dokumente as vennoot onderteken het omdat die bank die state in gemelde vorm onderteken weens sy borgstelling as eertydse vennoot vir die oortrokke rekening van die prokureursfirma vereis het, is n deursigtige leuen dit behoef nie n vennoot om n borgstelling te gee nie en applikant as gekwalifiseerde
7 persoon het dit en behoort dit te geweet het. Verwerping van respondent se getuienis dwing tot die afleiding as enigste redelike afleiding dat respondent inderdaad n vennoot in die firma Britz en Coetzee Prokureurs was, soos dan ook bevestig word deur sy winsdeling in die betrokke firma soos blyk uit die finansiële state uiteengesit en die sertifikaat wat aan respondent professionele gelde toeken. 7. Dit is applikant se submissie dat respondent die bevel van 5 Augustus 1999 ie die bevel waarkragtens respondent se naam van die rol van prokureurs geskrap was, geminag het. In uitbouing van voormelde submissie word voorgehou dat n skrappingsbevel n praktisyn, n prokureur, in casu ook respondent, by noodwendige implikasie verbied om as prokureur te praktiseer. 8. In S v BEYERS 1968(3) SA 70 (A) word onomwonde konstateer dat die minagting van n hofbevel n misdryf is. So beskou, kan minagting van n hofbevel in n siviele geding verleen, omskryf word as die opsetlike wederregtelike weiering of versuim om die bevel van n bevoegde hof na te kom [cf CONSOLIDATED FISH DISTRIBUTORS (PTY) LTD v ZIVE AND OTHERS 1968(2) SA 517 (K) te 522B C.]
8 9. Hierbo is reeds gemeld dat respondent erken het dat hy bewus was dat hy as gevolg van sy skrapping as prokureur nie direk of indirek hetsy vir eie rekening hetsy in vennootskap as prokureur mag praktiseer nie. Sy deelname as vennoot in die firma Britz en Coetzee Prokureurs was dus in stryd met sy skrappingsbevel en respondent se optrede was as enigste redelike afleiding opsetlik. 10. Vir sy oortreding moet respondent gestraf word. Direkte gevangenisstraf skyn nie aangewese te wees. [Vgl S v NEL 1991(1) SA 730 (AA) te 755F 756D.] 11. Die volgende bevele word gemaak: 1. Respondent word skuldig bevind aan minagting van die hof. 2. Respondent word gevonnis tot 6 maande gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar op voorwaarde dat respondent nie skuldig bevind word aan minagting van die hof of die oortreding van artikel 83(1) of 83(4) van Wet 53 van 1979 gepleeg tydens die periode van opskorting nie.
9 G VAN COPPENHAGEN, R EK STEM SAAM: JP MALHERBE, RP
10 Namens Applikant : Adv PJT de Wet Iov Symington & De Kok Namens Respondent : Adv PJ Loubser Iov Krohn Prokureurs /Jacobs