SEEPNETEL VIR BONSAI Hansie Bekker Waterberg Bonsaiklub (Mei 2009) Botaniese naam : Pouzolzia mixta Gewone naam : Seepnetel of Soap-nettle Familie : Urticaceae (Brandnetel familie / Nettle family) Die Seepnetel is een van ons inheemse bome / struike wat nog nie wyd vir bonsai gebruik word nie. Daar is ook min inligting oor die bome op die internet of in boeke beskikbaar en oor Pouzolzia mixta as bonsai, is daar net een verwysing Die Waterberg Bonsaiklub se webwerf. Die bome word in bosveld op rotsagtige plekke teen koppies of in klowe aangetref. Volgens n kaart in die Field guide to trees in Southern Africa (2007), p100, kom die bome in Suider Afrika in die Limpopo-provinsie, Noord Natal, Swaziland, Zimbabwe, Namibia en Botswana voor. Dit staan dikwels in n digte stand. Algemene beskrywing Die Seepnetel is n enkel of veelstammige struik of klein sagtehout boom met waterige lateks (melksap). Die blare is ovaalvormig (25 100 x 13 75 mm), donkergroen met n sagte tekstuur effe grof bo en n silwer filt-agtig onder. Die bas en stam is glad en donker-rooierig. By bonsai is die stamme egter meer grys. Die blare word gekook vir n groen groente terwyl die sterk vesels in die bas ook gebruik is. Die blare en sagte takke is seperig en skuim goed as hulle teen mekaar gevryf word in die water. Die blare amuseer kinders aangesien hulle aanmekaar vasklou en interresante vorms en bakkies kan gemaak word. Die Seepnetel is n baie interresante boom wat meer vir bonsai gebruik kan word. Die boom is reeds vir die kremetart- en verskeie ander style gebruik. Volgens die ervaring van kwekers in die Waterberg Bonsaiklub, is die volgende belangrik by die kweek van Seepnetels as bonsai: Die bome hou van vol son en dit hou ook die internodes korter. Seepnetels is baie gevoelig vir strawwe koue en ryp. Die bome moet verkieslik in die winter beskerm word. In kouer dele mag dit self nodig wees om dit binnenshuis te hou. Raamwerktakke kan terugvrek. Aangesien die Seepnetel n sagtehout stam het, benodig dit minder water as byvoorbeeld n doringboom maar dit benodig steeds water om te kan lewe. Water moet verminder word in die winter aangesien bome kan vrot as hulle te veel water kry. Seepnetels moet goedgedreineerde grond hê. In die veld groei hulle altyd teen klipperige rante. Seepnetels kan suksesvol in die veld of die tuin uitgehaal word. Gesnyde wortels kan voorkomend met blomswael behandel word om hulle
te beskerm teen wortelvrot. Laat snyplekke winddroog word voordat die boom weer geplant word. Bome groei ook baie maklik van stiggies. o Die bome groei van nature baie regop en dit is beter om takke wat reeds spitsvormig ( taper ) is te gebruik. o Stiggies groei beter as daar reeds takkies en blare aan is. o Sny die stiggie bo n stel blare van n tak af. Nuwe takkies kan dan by die blare vorm om so weer n volgende stiggie te skep. Daar word ook aanbeveel dat stiggies van dieselfde tak oor n tydperk gesny word. Die tak word dus, anders as bvvoorbeeld by n wildevytak wat afgesny en in stiggies opgesny word, aan die moederplant gelos sodat die stiggies daar vorm. o Stiggies kan vir die grootste deel van die jaar, maar nie in die winter, gemaak word. o Die stiggies groei baie maklik en dit is nie nodig om hormoonpoeier aan te sit voordat dit in riviersand geplant word nie. o As jong plantjies oorgeplant word, vorm hulle mooi oppervlakwortels as hulle nie te diep geplant word nie,. Plantjies moet dan gestut word. Klein boompies ontwikkel vinniger in groter groeipotte. As gevolg van hul kompakte wortelstelsel, moet die bome aan die begin verkieslik jaarliks oorgeplant word. Die bome reageer goed op snoei en hulle kan maklik in die kremetart of ander style gekweek word. Die knip-en-groei - metode werk beter aangesien die takke maklik kan beskadig indien die draad nie betyds verwyder word nie. Indien draad wel gebruik moet word, moet dit baie los om die takke gesit word en takke kan met raffia of iets soortgelyks beskerm word. Draad moet redelik lank om takke gehou word voordat hulle die nuwe vorm aanneem. By snoei, sny takke net bo n stel blare af om terugvrek van takke te voorkom. Stamme reageer baie goed op kneusing met n klou tang of vertikale snye met n skerp mes om karakter te gee as dit herstel. Dit moet egter versigtig gedoen word anders kan die stam permanent beskadig word en n jong boompie kan selfs vrek. Die bome is redelik bestand teen peste en plae. Soos wat dit die geval met baie reëls in bonsai is, is hierdie ook net riglyne wat elkeen maar self moet beproef en mettertyd sal ons almal beter weet hoe om Pouzolzia mixta as bonsai te kweek. Bronne Braam van Wyk & Piet van Wyk: Field guide to trees in Southern Africa (2007), p100 Charles Ceronio Notas oor Pouzolzia mixta. Danie de Bruin Persoonlike mededelings (Februarie 2009) Dereck Veldhuizen Voorlegging by Waterberg Bonsaiklub op 16 Mei 2009.
Seepnetellandskap van Dereck Veldhuizen (2008) Seepnetel in Kremetartstyl Dereck Veldhuizen Seepnetel op plat rots geplant Dereck Veldhuizen
Seepnetelstiggies Jannie Olivier Informeel regop Seepnetel Jannie Olivier
Moet hierdie tak bly of waai? Dereck en Jannie wat saam met Danie de Bruin heelwat seepnetels gekweek het, bespreek Jannie se boom tydens die Waterberg Bonsaiklub se byeenkoms op 16 Mei 2008 in Mookgophong.