DIE DOOP MET DIE HEILIGE GEES Hand.2:1-13 Oral waar die tempel van Christus verrys, rig die Satan sy kapel van misleiding op. Jesus berispe die kerklui van Sy tyd:.julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie (Mt.22:29). Dwaalleer is die gevolg van n gebrekkige kennis van die Bybel. Dis ook die tweelingbroer van ongeloof. Dwaalleer en ongeloof is soos twee kouse wat van dieselfde materiaal gemaak is. Dwaalleer versprei tans soos n Middeleeuse plaag deur Protestantse kerke en vervreem mense van die waarheid. As n kerk die waarheid nie meer beskerm nie, het dit geen bestaansreg nie, want die kerk is waar die Woord van God suiwer verkondig word. Dis moeilik om te sê watter dwaalleer die kerk die grootste skade aanrig omdat die leuen altyd skade veroorsaak. Die bekendste dwalings het a.g.v. onkunde oor die werking van die Heilige Gees ontstaan. Dwaalleraars versprei die leuen dat sondaars met hul bekering die Heilige Gees nie ten volle ontvang nie en na hulle bekering bewustelik na die volle seën daar van moet streef. Hulle praat van n tweede seën (second blessing) en noem dit die doop met die Heilige Gees. Daarbenewens dwaal hulle as hulle leer dat dit n eenmalige seën is wat die gelowige op n hoër geestelike vlak as diegene daar sonder plaas. Dis nie waar nie! Die Bybel leer dat gelowiges tydens hul bekering met die Heilige Gees gedoop word: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge (I Kor. 12:13). Dis hoe sondaars tot die kerk van ons Here Jesus toetree. Daar is geen Bybelse opdrag om op eie stoom na die doop met die Gees te soek nie. Gelowiges het dit alreeds met hul bekering ontvang. In Handelinge 2 en 8 is gelowiges wel ná hulle bekering aan die Heilige Gees bekend gestel, maar nie met die Gees gedoop nie. In hoofstukke 10 en 19 het die normale ding gebeur. Die strewe na die doop met die Gees is misplaas. Hand 2 sê baie duidelik dat gelowiges biddend op die vervulling van die Gees gewag het en nie daarna gesoek het nie. Dwaalleraars glo dat toe Jesus na Sy opstanding op die dissipels geblaas en gesê het: Ontvang die Heilige Gees (Joh. 20:22), hulle die Gees slegs gedeeltelik
ontvang het; n proses wat op Pinksterdag voltooi is toe hulle met die Heilige Gees gedoop is. Hoe getuig hierdie siening nie van onkunde nie! Nee, toe Jesus op die dissipels geblaas het, was dit n belofte dat die uitstorting van die Heilige Gees naby was. Daarom moes die dissipels Jerusalem nie verlaat nie, maar op die belofte van Jesus wag: En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid (Joh. 14:16). In Johannes 20 word hierdie belofte wesentlik herhaal omdat die vervulling ophande was. Die dissipels moes net baie geduldig wag: maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom... (Hand. 1:8). In Johannes 7:39 sê Jesus aan die dissipels dat Hy eers ten hemel moet vaar en verheerlik word alvorens die Heilige Gees bekend gestel kon word. Hulle moes nie na die Heilige Gees soek nie, maar op Hom wag. Dis die norm: Gelowiges wag op die vervulling van die Heilige Gees. Niemand het in die Bybel na die Gees gesoek nie, maar eerder biddend op Hom gewag. Toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, het n nuwe bedeling aangebreek wat deur wondertekens voorafgegaan is. Daarna het die Gees met die bekering in gelowige kom woon. julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon... (Rom. 8:9). God het op Pinksterdag wondertekens in die tempel gegee sodat almal kon weet dat die Heilige Gees Sy intrek in die kerk geneem het. Handelinge 2 was n eenmalige gebeure en nie normatief vir die kerk nie. Daarom mag ons nie bid dat die Heilige Gees weer uitgestort moet word nie. Dit was n eenmalige bekendstelling. Ons bid slegs om die vervulling met die Heilige Gees. Dwaalleraars gebruik ook Hand.8 verkeerdelik as n bewysplaas vir die leer oor die doop met die Heilige Gees. Hulle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus (Hand. 8:15-16). Hand. 8 was n uitsonderlike geval. Die Samaritane moes, net soos die Jode in Jerusalem, ook aan die Heilige Gees bekend gestel word omdat die saligheid aan almal beloof is. God het dus n besonderse doel met hierdie gebeure in Samaria gehad. Die Jode en die Samaritane was van meet af vyandig teenoor mekaar en geen gemene sake met mekaar gehad nie. Toe die Samaritane die Evangelie van verlossing uit die mond van Jesus verneem, het talle bekerings plaasgevind en is hulle gedoop.
Hoe het die kerk die bekeerde Samaritane hanteer? Het die nasionale vyandskap voortgeduur? Nee, die Christelike kerk volg geen vyandige volks skeidingslyn nie. Dit vertoon wel die karakter van volkere verskeidenheid. Jesus sê by geleentheid: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder (Joh. 10:16). Familie bly mos nie almal in een huis saam nie. Die Samaritane wat geheel en al van die Joodse kerk geskei was, het deur die bekering deel van die Christelike kerk met hul eie plekke van aanbidding geword - verskillende stalle maar een Herder. Deur die Heilige Gees ook aan Samaritane bekend te stel, het God getoon dat die Joodse Christene nie God se witbroodjies was nie. Dit was bloot n ander stal. In Hand.10 skryf Lukas oor die bekering van Cornelius, n Romeinse offisier. Die Jode het die Romeine gehaat wat hulle onderdruk het. Na die gesig wat Petrus oor die rein en onrein diere ontvang het, het Cornelius hom laat roep en saam met n klompie aanwesiges tot bekering gekom: En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak... (Hand.10:45-46). Daar was geen verposing tussen Cornelius en sy volksgenote se bekering en hul vervulling met die Heilige Gees nie. Cornelius het geweet wat op Pinksterdag in die tempel gebeur het. Met sy bekering het God getoon Hy nie uitsluitlik n Joodse God was nie, maar ook God van nie-jode. Die bekendstelling aan die Heilige Gees op Pinksterdag in Jerusalem is daardie dag net op n kleiner skaal in Caesarea herhaal. In Hand.19 skryf Lukas van Paulus wat in Efese aangekom en onkundige gelowiges aangetref het. Hulle het geen kennis van die Heilige Gees gehad nie. Nadat hy die Evangelie aan hulle verkondig het, is hulle met die Gees vervul. Hulle het nie bewustelik na die Heilige Gees gesoek nie. Ons het nie eens gehoor dat daar n Heilige Gees is nie (:2). Gevolglik was dit wat daardie dag in Efese gebeur het, soos in Caesarea, n verlenging van dit wat in Jerusalem gebeur het. So het die kerk gegroei; een familie elkeen in sy eie afsonderlike woonplek. Handelinge vertel van die begin van n nuwe era in die geskiedenis; dié van die Heilige Gees. Die werking van die Gees word gereeld in die NT briewe van Paulus, Petrus, Johannes en Jakobus behandel. Maar nêrens word in enigeen daarvan van n tweede seën melding gemaak nie.
In Hand.8 skryf Lukas van Simon die towenaar wat vir eie gewin bonatuurlike krag gesoek het. Toe hy die formule van die apostels se wondertekens wou koop, het Petrus hom sterk berispe. Baie gelowiges soek ook na krag; krag om te getuig, dissipels te maak en om mense met die Evangelie te bereik. Dit as sulks is nie verkeerd nie. Sommige soek dit egter vir die verkeerde redes; om soos Simon die towenaar deur mense raakgesien en bewonder te word. Die gees van Simon die towenaar leef onder baie mense voort. Hulle dors na iets meer, groter en skouspelagtig. Hulle soek na iets wat eeue gelede afgehandel en verdwyn het en klee hul onkunde in n godsdienstige gewaad. Nee, God roep nie gelowiges om bonatuurlike tekens en wonders te soek nie, maar om Jesus beter te leer ken en hul ten volle met Sy lyding en sterwe te vereenselwig (Heb. 13:13). Die doop met die Heilige Gees staan nie los van die bekering nie, maar is n onlosmaaklike deel daarvan: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam... (I Kor. 12:13). Dit verbind gelowiges tot n geestelike eenheid in Christus wat die liggaam van Christus genoem word. Dit is n heilsfeit en nie n gevoel nie. Ons ontvang almal die Heilige Gees met ons bekering. Dis die doop met die Heilige Gees. Hoe gehoorsamer ons aan God is, hoe meer is ons vervul. Hoe ongehoorsamer, hoe minder vervul. Ons bly egter met die Gees gedoop. Nêrens in die Bybel ontvang gelowiges n opdrag om met die Heilige Gees gedoop te word nie. Dit het reeds met die bekering plaasgevind toe hulle in die liggaam van Christus gedoop is: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne, en ons is almal van een Gees deurdronge (I Kor. 12:13). Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van God nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie (Rom. 8:9). Die NT verwys sewe keer na die doop met die Heilige Gees maar nooit as n opdrag nie. Gelowiges moet wel deur die Heilige Gees beheer word. Wanneer die Heilige Gees n gelowige vervul, beheer Hy hom en doen hy die regte dinge soos toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verskyn het: En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek (Hand. 4:31). Die vervulling met die Heilige Gees laat gelowiges die regte dinge doen. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en
by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie (II Pet. 1:5-8). Die vervulling met die Heilige Gees gaan nie met verruklike, bonatuurlike ervarings en wonders gepaard nie. Die Bybel sê dat gelowiges die vrug en nie die gawes van die Gees moet voortbring nie. Om met die Gees vervul te wees, beteken vir die gelowige om elke dag so te leef asof Jesus by hom staan. Dis praktiese Christus-bewustheid. As hy met Hom wil praat, praat hy met Hom asof Hy fisies by hom is. As hy n besluit moet neem, praat hy met Jesus daaroor asof Hy by hom staan. Jesus kan egter nie by ons staan indien ons die Satan langs ons duld nie: een van die twee gaan tweede kom. Hoe meer ons Jesus uitsluit, hoe meer kry die vleeslike dinge oorhand in ons lewe. Hoe meer ons Jesus toelaat, hoe meer vervul die Gees ons.