1. Die agteruitgang van ons natuurlike landbouhulpbronne Theunis Meyer Sentrum vir Omgewingsbestuur, Potchefstroom Universiteit vir CHO, Privaatsak X6001, Potchefstroom, 2520 Inleiding Veldagteruitgang en gronderosie is lank reeds bekende begrippe wanneer daar oor bewaring binne die boerdery-omgewing in Suid-Afrika gepraat word. Gedurende die laaste dekade word die begrip verwoestyning al meer gebruik, veral ook in n internasionale konteks. Daar is waarskynlik baie lesers wat al gewonder het waar hierdie nuwe term vandaan kom en wat dit beteken. En of dit enigsins iets is waaroor ons ons moet bekommer. Wat is verwoestyning? Die konvensie of ooreenkoms vir die bekamping van verwoestyning (UNCCD) is gedurende Junie 1994 internasionaal onder die leiding van die Verenigde Nasies (UN) aanvaar en het aan die einde van 1997 in Suid-Afrika van krag geraak. Die konvensie handel oor die agteruitgang ( degradation ) van grond en plantegroei ( land ) in daardie lande wat ernstige droogtes en/of verwoestyning ervaar, veral in Afrika. Verwoestyning verwys na die vermindering of verlies van die langtermyn biologiese of ekonomiese produktiwiteit van akkerbougrond en veld in ariede en semi-ariede gebiede. Dit wil sê die agteruitgang van natuurlike hulpbronne in droë gebiede. Dit sluit prosesse in wat uit menslike aktiwiteite en vestigingspatrone voortspruit, soos byvoorbeeld gronderosie deur wind en/of water, die agteruitgang van die fisiese, chemiese en biologiese of ekonomiese eienskappe van grond en die langtermyn verlies van natuurlike plantegroei. Grondagteruitgang ( soil degradation ) omvat twee begrippe, naamlik gronderosie en die agteruitgang van grondkwaliteit. Gronderosie word beskou as die belangrikste komponent. Dit behels nie net die verlies van grond self nie, maar ook die verlies van belangrike plantvoedingstowwe. Daar word beraam dat die 20 ton grond verlore gaan vir elke ton landbougewasse wat jaarliks in Suid-Afrika geproduseer word. Verder word daar ook beraam dat die vervangingskoste van plantvoedingstowwe, soos stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K), wat jaarliks verlore gaan vanweë erosie meer as R1000 miljoen rand bedra. Die grond wat verlore gaan, besoedel ook waterbronne soos strome, riviere en veroorsaak dat damme toeslik. Die agteruitgang van grondkwaliteit word hoofsaaklik veroorsaak deur verbrakking en grondbesoedeling deur swaar metale, asook onkruid- en plaagdoders. Hierdie stowwe bly baie langer gevaarlik in grond voortbestaan as in plante, water of lug en kan n nadelige invloed hê op talle komponente van ekostelsels wat van daardie grond afhanklik is. Veldagteruitgang ( Veld degradation ) verwys na die algemene afname in die produktiwiteit en natuurlike funksionering van die veldekosisteem. Volgens n onlangse studie oor die onderwerp is daar hoofsaaklik ses vorme van veldagteruitgang in Suid-Afrika. Dit is: n Verlies aan plantbedekking, hoofsaaklik as gevolg van beweiding en vertrapping deur vee; n Verandering in die spesiesamestelling van plantegroei, hoofsaaklik as gevolg van selektiewe beweiding deur vee; Bosindringing as gevolg van die toename in bedekking van inheemse bome en struike; Indringing van uitheemse plante;
Ontbossing as gevolg van die verwydering van bome en struike deur mense, gewoonlik vir vuurmaakhout of boumateriaal; Ander vorme van veldagteruitgang, gewoonlik die verwydering van die natuurlike plante om lande te maak of die vernietiging daarvan deur mynboubedrywighede. Wat veroorsaak verwoestyning? Klimaatskommelings en onoordeelkundige of nie-volhoubare menslike aktiwiteite is die vernaamste oorsake van verwoestyning. Die mees algemene vorme van nie-volhoubare grondgebruikspraktyke wêreldwyd is oormatige grondbewerking, oorbeweiding, ontbossing en swak besproeiingspraktyke. Sommige van die belangrike dryfkragte agter die agteruitgang van ons natuurlike hulpbronne is bevolkingsgroei, nasionale beleid en wetgewing, die beweeglikheid van die bevolking en natuurlike versteurings. Hierdie dryfkragte is dikwels ineengestrengel en kan gesamentlik baie groter invloede hê as elkeen afsonderlik. Bevolkingsgroei verhoog die behoefte aan die transformasie van grondgebruik vir nedersettings-, landbou- en ontspanningsdoeleindes, maar ook die behoefte aan hulpbronne soos voedsel, brandstof, boumateriaal, papier, hout, minerale en water. Dit lei ook tot verstedeliking, die ontwikkeling van infrastruktuur, industrialisering en besoedeling. Hoë bevolkingsgroeitempo s is ook n belangrike bydraende faktor tot die ontstaan van armoede. Regeringsbeleid en wetgewing kan potensieel positiewe of negatiewe dryfkragte wees in terme van hulpbronagteruitgang. Sommige mense beweer dat geen ander beleidsrigtings en wette so n groot impak op die natuurlike omgewing van ons land gehad het nie as die historiese grond- en ontwikkelingsbeleid, wat tot n groot mate bygedra het tot verwronge demografiese- en vestigingspatrone. So byvoorbeeld is die kommersiële en kommunale gebiede in die Noordwes provinsie grootliks vergelykbaar wat biofisiese- en klimaatsfaktore betref. Die bevolkingsdigtheid en werkloosheid in die kommunale gebiede is feitlik vier maal hoër as in die kommersiële gebiede, terwyl n derde meer mense in landelike gebiede woon. Die bruto geografiese produk (BGP) in terme van rand per persoon is feitlik vier maal laer in die kommunale gebiede, terwyl dubbel soveel mense afhanklik is van een werker se salaris as in die kommersiële gebiede. In terme van grondgebruik word ongeveer die helfte minder grond in die kommunale gebiede vir gewasverbouing en feitlik vier maal soveel grond vir nedersettings gebruik as in die kommersiële gebiede. Armoede dwing mense om natuurlike hulpbronne te ontgin en nie-volhoubare praktyke toe te pas in hulle stryd om oorlewing. In onderontwikkelde landelike gebiede met baie lae huishoudelike inkomstes is mense grootliks afhanklik van natuurlike hulpbronne om in hulle eie voedsel-, medisinale-, behuisings- en energiebehoeftes te voorsien. Verder versamel (en dikwels oorbenut) hulle die natuurlike hulpbronne in hierdie gebiede om n broodnodige inkomste te genereer deur die verskaffing van sulke produkte aan mense in stedelike of meer ontwikkelde gebiede. Dit alles lei tot oorbenutting van die natuurlike hulpbronne oor die kort termyn, met negatiewe langtermyn gevolge. Klimaatsveranderinge kan tot veranderinge in die fisiese omgewing lei wat lewende organismes direk beïnvloed. Veranderende temperatuurs- en waterbeskikbaarheidstoestande kan waarskynlik lei tot die stremming van die natuurlike plantegroei en individuele plantspesies; n toenemende druk op die toleransievlakke van inheemse spesies; en veranderende medium- tot langtermyn verspreidingspatrone van beweeglike organismes, wat die suksesvolle verspreiding van uitheemse spesies kan bevorder.
Natuurlike versteurings soos droogtes, vloede, winde, vuur, aardskuddings en die uitbreek van peste en plae kom van tyd tot tyd voor. Alhoewel die mens min of geen beheer oor hierdie verskynsels het nie, is risikobestuur belangrik om die ekologiese, ekonomiese en sosiale invloede daarvan te beperk. Verantwoordelike hulpbronbenuttingspraktyke wat help om die behoorlike funksionering van natuurlike stelsels te verseker, bevorder ook die herstel van sulke stelsels na natuurlike versteurings. Byvoorbeeld: Droogte is dikwels n katalisator vir verwoestyning. Grond in n swak fisiese of chemiese toestand is dikwels meer vatbaar vir droogte en die invloed van n droogte op sulke gronde is baie ernstiger. Die verhoogde beweeglikheid van mense en versnelde internasionale beweging en handel het alreeds gelei tot die vrylating van baie uitheemse spesies in Suid-Afrika, bewustelik en onbewustelik. Sekere uitheemse spesies het die vermoë om baie vinnig ekostelsels te domineer, veral waar die natuurlike organismes versteur word of onder stremming verkeer. Dit kan daartoe lei dat inheemse plant en/of diere verplaas word of onnatuurlik groot hoeveelhede water gebruik word. Dit verlaag die funksionaliteit van natuurlike stelsels en verlaag die vermoë daarvan om natuurlike lewensvorme, insluitende mense, te onderhou. Bogenoemde dryfkragte lei tot n voortdurend toenemende vraag na hulpbronne. Hierdie toenemende vraag manifesteer as toenemende druk om natuurlike hulpbronne te ontgin, om grondgebruik om te skakel van natuurlike na mensgemaakte stelsels en om die produktiwiteit van landbou-, bosbou- en industriële stelsels te verhoog. Verhoogde produktiwiteit word dikwels ook geassosieer met die voortbring van afval- en besoedelingstowwe, wat ook die omgewing se vermoë om normaal te funksioneer, aantas. Die toenemende druk om die natuurlike hulpbronne te ontgin, lei tot die agteruitgang van hierdie hulpbronne. Toenemende gronderosie, veldagteruitgang, bosverdigting en ontbossing is bewyse hiervan. Aan die ander kant is praktyke soos wildboerdery en ekotoerisme voorbeelde van natuurlike hulpbronbenuttingsvorme met voordelige gevolge. Dit kan lei tot n toename in die aantal en verskeidenheid van spesies in n gebied, deurdat n verskeidenheid klein soogdiere, voëls en insekte na sulke gebiede gelok word. Dit kan ook lei tot die herstel of handhawing van natuurlike habitattoestande. So n situasie het verdere byvoordele, deurdat sulke gebiede ook as saadbronne van die natuurlike plantegroei dien. Vanweë die omskakeling van natuurlike habitatte na stedelike, industriële of landbou gebruike is al hoe minder grond beskikbaar is vir boerdery. Sulke omskakelings is dikwels permanent (in terme van menslike lewensduur) en het gewoonlik verreikende ongewenste gevolge. Al bogenoemde veranderings veroorsaak dikwels dat natuurlike of half-natuurlike habitatte vernietig word. In die proses word die oppervlaktes van natuurlike habitatte verminder en gefragmenteer. Natuurlike habitatte word verder ook negatief beïnvloed deur besoedeling, die verandering van hidrologiese siklusse en bestuurspraktyke wat daarop gemik is om die produktiwiteit te verhoog. n Vermindering in die hoeveelheid grond beskikbaar vir boerdery dwing boere dikwels om hulle intensiteit van benutting te verhoog ten einde die produktiwiteit van mensgemaakte stelsels te verhoog. Dit word verder ook genoodsaak deur verhoogde veegetalle gekoppel aan verhoogde bevolkingsgetalle. Die ekonomiese marginalisering van boere dwing hulle dikwels om nie-volhoubare boerderypraktyke te gebruik in gebiede met groot klimaatsrisiko s, ten einde produksie en hulle inkomste te verhoog. In gewasproduksie gaan veranderinge in die intensiteit van grondgebruik gewoonlik gepaard met n toenemende afhanklikheid van besproeiing, bemestingstowwe, pes- en plaagdoders en in die meer onlangse verlede ook die gebruik van geneties gemanipuleerde gewasse. Ononderbroke- en in besonder monokultuur gewasverbouing, wat die voedingstof- en
organiese materiaalinhoud van die grond uitput, verminder die produktiwiteit daarvan en lei tot wind- en watererosie. Verkeerde besproeiingspraktyke, veral in swak gedreineerde gronde, lei tot die verbrakking van sulke gronde. Dit veroorsaak dat plantgroei belemmer en die produksie van sensitiewe gewasse onderdruk word. In veeboerdery word veranderinge in die intensiteit van grondgebruik onder andere gekenmerk deur verbeterde infrastruktuur en die implementering van verbeterde bestuurstelsels. Dit word egter hoofsaaklik gekenmerk deur verhoogde veegetalle (bo die aanbevole norme) wat aanleiding gee tot oorbeweiding en veldagteruitgang. Grondbesoedeling as gevolg van veranderende mynbou-, landbou-, industriële en vervaardigingsbedrywighede het n belangrike invloed op grondkwaliteit. Die uitbreiding van industriële- en vervaardigingsaktiwiteite in die groter dorpe en stede en lei tot die verhoogde gebruik van organiese en anorganiese chemikalieë en tot die verhoogde storting van gepaardgaande afvalstowwe. Die inkrimping van die goudmynbedryf oor die afgelope dekade het tot gevolg dat n groot aantal myne gesluit en die infrastruktuur afgetakel is. Die mynbou-afval in die vorm van ongerehabiliteerde slikdamme en mynhope veroorsaak egter dat nadelige organiese en anorganiese stowwe voortdurend in die omliggende grond vrygestel word. Die radikale toename in diamantmynbedrywighede oor die afgelope dekade lei tot grondversteuring en die gepaardgaande besoedeling van gronde deur chemikalieë wat in die mynbouproses gebruik word. Laastens veroorsaak die afname in die vrugbaarheidstatus van akkerbougrond en die boere se behoefte om produksie te verhoog n al hoe groter druk om die gebruik van landbouchemikalieë te verhoog. Marginale gronde word dikwels oorbemes en groot hoeveelhede pes- en plaagdoders gebruik. Al hierdie wanpraktyke lei ook tot die besoedeling van gronde en grondwater. Iets om ons oor te bekommer? Soos in baie ander ariede en semi-ariede wêrelddele, maar veral op die Afrika-kontinent, raak verwoestyning n al hoe belangriker begrip vir grondgebruikers, wetenskaplikes en beleidmakers. In die verlede het droër wêrelddele maklik herstel ná lang droogtes, maar onder huidige toestande verloor sulke dele dikwels hulle biologiese en ekonomiese produktiwiteit tensy dit volhoubaar bestuur word. As gevolg van die immer groeiende menslike bevolking en die gepaardgaande groeiende vraag na kos en water, was die druk op grond en ander natuurlike hulpbronne nog nooit groter as nou nie. Verder dra veranderlike klimaatstoestande en onbetroubare reënpatrone, gepaard met verskynsels soos globale verhitting en nie-volhoubare bestuurstrategieë, alles by tot die agteruitgang van ons natuurlike landbouhulpbronne. Die meeste van die huidige inisiatiewe om hierdie probleem aan te spreek, is gemik op die kommunale en voorheen benadeelde gebiede. Dit is onwaarskynlik dat die kommersiële landbousektor in die toekoms dieselfde aandag as in die verlede sal ontvang. Dit beteken egter nie dat die jarelange ervarings, asook data en beginsels wat deur navorsing in die kommersiële sektor vasgestel is, geïgnoreer of buite berekening gelaat moet word wanneer die probleem van hulpbronagteruitgang aangespreek word nie. Van die belangrikste maatreëls wat boere kan toepas in die bekamping van die agteruitgang van ons landbouhulpbronne behels: Vermindering van veegetalle op veld, veral gedurende droogtes; Verbetering van die weidingkapasiteit van die veld deur volhoubare veldbestuurspraktyke toe te pas en bosindringing en uitheemse indringerplante te beheer; Implementering van veldherwinningspraktyke in erg gedegradeerde gebiede;
Vermyding van die gebruik van marginale gebiede vir gewasproduksie; Verbetering van die gedegradeerde grond deur die byvoeging van organiese materiaal om waterindringing en groeitoestande vir geskikte gewasse te verbeter, en waterafloop en erosie te beperk. Hierdie artikel is die eerste in n reeks wat sal fokus op die agteruitgang van ons natuurlike hulpbronne. Die res van die reeks sal as volg daar uitsien: 2. Die huidige toestand van die natuurlike landbouhulpbronne in die SWK-bedieningsgebied: grondagteruitgang, veldtoestand., bosindringing, uitheemse indringerplante en ontbossing. 3. Die gevolge van die agteruitgang van die natuurlike landbouhulpbronne en aktiwiteite om die agteruitgang te bekamp.