Menslike Hulpbronne Mentorskapprogram vir US personeel GEREELDE VRAE EN ANTWOORDE Ek weet niks van mentorskap nie. Wat beteken dit? Mentorskap [mentoring in Engels] is ʼn vennootskap waarin ʼn mentee [ n persoon wat gementor word] daarin bygestaan word om beduidende vooruitgang in kennis, perspektief en visie te maak ten einde sy of haar volle potensiaal te ontwikkel. Die mentor se wysheid word deur die mentee gebruik om nuwe leer en insig te fasiliteer en te versterk. COMENSA Mentorskap is ʼn geleentheid om die tempo waarteen iemand leer te versnel en om u kennis en wysheid by te dra om bystand te verleen met n ander persoon se lewenslange leer. Wat is die rede vir ʼn meer geformaliseerde inisiatief vir mentorontwikkeling? Die Universiteit Stellenbosch erken die waarde van mentorskap as ʼn instrument van organisatoriese leer. Mentorskap is ʼn strategiese ontwikkelingsaktiwiteit wat die universiteit se visie, doelstellings en waardes en die mentee se eie ontwikkelingsbehoeftes en begeertes ondersteun. Hierdie program sal ʼn geleentheid bied vir mentors om hul wyse raad en kennis te deel, en nuwe of junior werknemers te adviseer. Ons hoop om deur mentorskap ʼn omgewing te skep waar alle personeellede voel dat hulle ondersteun word in hulle strewe na ʼn bevredigende en suksesvolle loopbaan. Deur opleiding te ontvang om ʼn mentor te word, sal individue ook bemagtig word met ʼn reeks generiese vaardighede wat gebruik kan word in enige interpersoonlike interaksie met medewerknemers/personeel wat aan hulle verantwoordbaar is. Daar word voorsien dat die bemagtiging van mentors en hulle pas met diegene wat gementor word, die onderstaande uitkomste sal hê: Oriëntering tot die instelling / inlywing in ʼn nuwe werk en kultuur / begrip van die organisasie se formele en informele strukture Versterking van die gewenste organisatoriese kultuur Bestuur van verwagtinge vir prestasie Geleentheid vir die ontwikkeling van professionele en persoonlike netwerke / Ontwikkeling van kollegialiteit en gemeenskap Bladsy 1 van 5
Bystand met identifisering van ondersteuningsbronne Skep van balans tussen professionele rolle en ook tussen werk- en gesinslewe Bystand aan individue met loopbaanbevordering, selfontwikkeling en voortgesette professionele ontwikkeling Aanmoediging en ondersteuning aan top talent Verbetering van loopbaanbevrediging Verbetering van die behoud van personeel Hulp aan individue om oorgange soos verskuiwing na ʼn nuwe werk of rol die hoof te kan bied Bydrae tot kennisoordrag en -kontinuïteit in die organisasie Kan u my meer vertel van wat die opleiding sal behels? Die Program vir die Ontwikkeling van Mentorvaardighede stel kursusgangers in staat om in verskeie kontekste effektiewe mentorgesprekke te kan voer. Die inhoud strek van die benutting van ʼn mentorskap-benadering as ʼn leier of bestuurder, tot die uitvoering van ʼn formele mentorskapprogram. Vaardighede word verken en beoefen, mentorskapinstrumente en wenke word gedeel. Mentors sal tydens ʼn opleidingsprogram wat oor twee dae sal strek opleiding ontvang, met ʼn opvolg-werkswinkel van een dag ná nagenoeg twee maande, waartydens daar geleentheid sal wees om oor u mentorskapervaringe te besin, en mentorskapvaardighede, instrumente, en begrip van die mentorskapproses verder te ontwikkel. Uitkomste van die werkswinkel: Kursusgangers kan die rolle wat hulle vertolk, verstaan, en tussen bestuur, opleiding, afrigting en mentorskap differensieer Kursusgangers begryp mentorskapvaardighede en pas dit toe deur ʼn verskeidenheid instrumente te gebruik Kursusgangers identifiseer die proses om mentees in hulle omgewing te mentor Kursusgangers verkry begrip van verskeie instrumente om bewustheid te verhoog, wat meer ingeligte besluite en optimum beweging in die rigting van doelstellings moontlik maak. Inhoud: Verduideliking van en onderskeiding tussen opleiding, mentorskap, bestuur en afrigting Toepassings en voordele van mentorskap Kontrakteringsproses, en ooreenkoms oor ʼn mentorskapprogram met hulle mentee Afrigtingsmodelle wat in mentorskap aangewend kan word Bladsy 2 van 5
Hantering van ʼn mentorskapsessie Mentorskapvaardighede: vraagstelling, luister, reflekteer, verskaf terugvoer, stel uitdagings, deel kennis en ervaring. Mentorskapteorie en instrumente vir fasilitering van leer en bystand aan ander om verandering te kan baasraak Wie is geskik om ʼn mentor te wees? Mentors is gewoonlik ervare personeellede wat met die stelsel vertroud is, erkende onderriggewers/geleerdes/kundiges op hulle gebied en gewoonlik hoër op teen die organisatoriese leer as die mentee. Die mentor is nie gewoonlik die mentee se assessor of departementshoof of ekwivalent nie (ten einde die rol van mentor van lynbestuur en uitsprake wat oor proeftyd, bevordering ens. vereis word, te kan skei). Daar sal van alle personeellede wat 60 jaar en ouer is en steeds aanhou werk, verwag word om, as deel van hulle indiensnemingskontrakte, hulleself as potensiële mentors beskikbaar te stel. Individue wat passievol is oor die loopbaanontwikkeling van ander en wat ʼn mentor wil word, sal genooi word om as vrywilligers betrokke te raak. Wat is die eienskappe en kenmerke van goeie mentors? Toegewydheid ʼn Goeie mentor is toegewy aan die rol van mentorskap en glo aan die waarde van mentorskap. Goeie mentors het ʼn belangstelling in die ontwikkeling van ander en is verbind tot lewenslange leer Aanvaarding ʼn Goeie mentor aanvaar sy of haar mentees, is empaties en vry van oordeel of verwerping Onderrig ʼn Goeie mentor is ʼn reflektiewe instrukteur, onderriggewer en ondersteuner van die leerproses wat waarnemingsterugvoer verskaf en ervaringe deel. Kommunikasie ʼn Goeie mentor is doeltreffend in verskillende interpersoonlike kontekste, en pas sy of haar mentorskapkommunikasie aan om in die behoeftes van mentees te voorsien. Leer ʼn Goeie mentor waardeer en modelleer voortgesette leer deur mentees aktief in hulle eie leer- en denkprosesse te betrek. Optimisme ʼn Goeie mentor bevestig openlik en privaat die menslike potensiaal van mentees. Bladsy 3 van 5
Daar is vaardighede en bevoegdhede in mentorskap wat aangeleer kan word. Die sukses van enige mentorskapverhouding is egter gebaseer op n mentor wat belang stel in en verbind is tot die ontwikkeling van ander. Watter ondersteuning sal daar vir mentors wees? MH (Menslike Hulpbronne) sal kontroleprosesse en geleenthede identifiseer waar mentors en mentees kan ontmoet om te reflekteer, te deel en te leer in die proses, asook om terugvoer te verskaf. Sal die mentees ook opleiding ontvang? Ja, mentees sal n oriënteringsessie van een dag bywoon waar hulle voorberei sal word sodat hulle die optimale resultate uit mentorskap kan verkry. Hoe sal mentors en mentees afgepaar word? ʼn Lys van mentors en ʼn profiel van hulle areas van kundigheid en gebiede waar hulle gewillig is om te mentor, sal aan potensiële mentees beskikbaar gestel word. Daar word voorgestel dat mentees potensiële mentors ontmoet om die moontlikhede van mentorskap te verken. Wanneer ʼn mentee besluit het, sal MH ingelig word en bystand verleen met die reëling en ondersteuning aan sowel mentors as mentees verskaf. Wat gebeur as ek en my mentee nie oor die weg kom nie, of as ons probleme het tydens die mentorskapproses? MH sal aan u bystand verleen om enige kwessies wat in hierdie verband kan ontstaan, die hoof te bied. Hoeveel van my tyd sal vereis word as ek ʼn mentor is? Daar word aanbeveel dat mentors en mentees gereeld bymekaarkom (een tot twee uur een maal per maand). Daar word ook aanbeveel dat ʼn mentor nie meer nie as drie mentees tegelyk mentor nie, weens die verbintenis wat vereis word ten opsigte van tyd. Sal ek vergoed word vir my tyd en moeite? Daar sal geen monetêre vergoeding wees nie. Die grootste beloning is die belegging van u tyd en energie in die ontwikkeling van ander en die wete dat u ʼn verskil sal maak en ʼn nalatenskap sal agterlaat. Bladsy 4 van 5
Deur die opleiding wat u ontvang, sal u ook toegerus word met vaardighede en kennis wat n goeie toevoeging tot u repertoire as ʼn bestuurder/leier sal wees. Hierdie vaardighede is algemeen toepasbaar in enige interpersoonlike interaksie binne en buite die werkplek. Ek verskaf alreeds mentorskap. Moet ek steeds die opleiding ondergaan? U sal steeds voordeel trek uit die opleidingsprogram aangesien dit u sal bemagtig met mentorskapvaardighede soos vraagstelling, uitdaging, luister, besinning en die verskaffing van terugvoer om mentees op die beste wyse moontlik by te staan en te ondersteun. Almene Potgieter Menslike Hulpbronne ap@sun.ac.za 021 808 4590 Bladsy 5 van 5