HOËR VOLKSKOOL HEIDELBERG Posbus 215, Heidelberg, Gauteng, 1438 Tel: (016) 341 3165/6 Faks: (016) 341 3987 Epos: hvhadmin@lantic.net 22 Augustus 2016 Geagte Ouer/Voogde NUUSBRIEF 12 VAN 2016 1. UIT DIE HOOF SE KANTOOR Die positiewe puntestate is op 12 Augustus 2016 aan die leerders uitgegee. Baie geluk aan elke leerder wat alreeds kwalifiseer vir n groen-, geel- of witbalkie. Daar is leerders wat al meer as 1000 positiewe punte vir die jaar ontvang het. Met die positiewe punte kan ons duidelik sien watter leerders is lojaal en passievol teenoor Hoër Volkskool. Baie dankie vir elke ouer / voog wat hulle kind(ers) so getrou ondersteun en motiveer sodat hulle betrokke Volkies kan wees. 2. AKADEMIE: VOORBEREIDENDE EKSAMEN begin op 29 Augustus 2016. Elke graad 12 leerder het alreeds sy/haar eksamenrooster ontvang. U as ouer / voog moet toesien dat u kind elke dag deeglik sal voorberei vir die vraestelle wat geskryf word. Geen leerder sal tot die eksamenlokaal toegelaat word indien daar nie aan die voorkomsreëls van die skool voldoen word nie. Elke leerder moet weet dat laat kom vir die skryf van die vraestelle nie geduld sal word nie. Die graad 12 leerders sal op 24, 25 en 26 Augustus 2016 die geleentheid kry om tuis te bly om te studeer. Ons wens elke matrikulant sterkte toe vir die Voorbereidende eksamen! Onthou: Harde werk span die kroon op sukses. TOETSREEKS vir die graad 8- tot 11- leerders het alreeds op 10 Augustus 2016 begin. Elke leerder moet seker maak dat hy/sy voldoende voorberei vir die toetse. Dit is vir ons belangrik dat elke leerder volgens sy/haar potensiaal sal presteer. KWALITEIT VAN ONDERRIG. Elke leerder by Hoër Volkskool het die konstitusionele reg om kwaliteit onderrig te ontvang. Indien daar nie in klasse gewerk word nie, moet dit onmiddellik onder die aandag van die skoolhoof gebring word. EKSTRA KLASSE. Die vakonderwysers is op afspraak elke dag tussen 14:00 en 15:00 beskikbaar om leerders wat sukkel by te staan. Daar is heelwat leerders wat nie hierdie ekstra klasse bywoon nie. Dit is in die beste belang van u kind om hierdie klasse by te woon. Elke vakonderwyser is self verantwoordelik om aan sy/haar leerders ekstra hulp te verleen. BOAT, CARAVAN & CAMPING NIGEL Tel: (011) 814-1452 72 Spings Road Nigel Web: www.boatcc.co.za 1
3. FOTODAG Die fotodag vind op 26 Augustus 2016 plaas. U as ouer / voog moet toesien dat u kind(ers) die nodige sportklere sal saambring. Hierdie foto s word gebruik vir die samestelling van die jaarblad. Hoër Volkskool is een van min skole in die land wat kan spog met al die jaarblaaie vanaf die ontstaan van die skool. 4. SKOOLGELDE Ons wil graag die ouers / voogde wie se skoolgeld op datum betaal of selfs vooruitbetaal is, bedank. Daarmee maak u die finansiële bestuur van die skool soveel makliker. Ouers / voogde wie se skoolgeld rekening agterstallig is, word versoek om asseblief u rekening so gou moontlik op datum te bring. Ongereelde betalings veroorsaak dat daar nie altyd geld is om salarisse aan die einde van die maand te betaal en ook nie ander verpligtinge na te kom nie. Die betaling van skoolgelde is verpligtend by Hoër Volkskool en beide ouers of wettige voog is verantwoordelik vir die betaling van skoolgelde. Skoolgeld is betaalbaar op die eerste skooldag van elke maand vanaf Januarie tot November 2016. 5. TOP 10 AKADEMIESE PRESTEERDERS (KWARTAAL 2) Baie geluk aan die volgende leerders wat aangewys is as die Top 10 Akademiese presteerders in hulle onderskeie grade vir kwartaal 2: POSISIE GRAAD 12 GRAAD 11 GRAAD 10 GRAAD 9 GRAAD 8 1 T van Buren Z du Preez M Joubert Z Vorster D Janse van Vuuren 2 Y Bhabha K Spykerman N Human W Wiersma B van Zyl K Beukes 3 Z Minnaar J Cronje M Baird A Bothma B Erasmus 4 B van der Merwe A Hattingh C Olwage L la Grange H van der Merwe K van Schalkwyk 5 N Dyavu H Botha B Schoeman M Viljoen L Coetzee 6 B Wiersma L Uys L Verwoerd D du Plessis P van Wyk 7 A de Villiers T Heyns A van Wyk J van der Vyver H Hartley 8 A Pretorius E du Plessis C Steyn H Beyers Z Botha 9 S Louw M van der Vyver D Brown M Thompson T te Baerts 10 J van Vollenstee E Viljoen N van der Merwe C Steenekamp E Baird 6. PRODUKSIE: LIEWE HEKSIE & DIE GROTHELD Die produksies Liewe Heksie en Die Grotheld vind op 1 September 2016 in die skoolsaal plaas. Die kostes en tye vir die produksies is as volg: Liewe Heksie: R 60-00 per persoon (10:00 die oggend) Die Grotheld: R100-00 per persoon (19:00 die aand) Ons wil u as ouer / voogde aanmoedig om die produksies te ondersteun. Dit is die enigste fondsinsamelingsprojek wat vir die kwartaal geskeduleer is. Ons vertrou dat 2
ons op u samewerking kan staatmaak en dat ons u by die vertoning(s) sal sien. 7. LEERDERS MET GEDRAGSPROBLEME Leerders met herhaalde gedragsoortredings sal skriftelik deur die Beheerliggaam van die skool in kennis gestel word om heraansoek te doen vir toelating in 2017 tot Hoër Volkskool. 8. GRAADDRUIPELINGE AAN DIE EINDE VAN DIE JAAR Elke leerder wat in Graad 8-11 druip, moet heraansoek doen om toelating vir 2017 by Hoër Volkskool te kry. Leerders wat slaag en bevorder word na die volgende graad kry voorkeur bo druipelinge. Hoër Volkskool het beperkte kapasiteit vir elke graad in 2017 beskikbaar. 9. LEERDERS SE WELSYN EN U AS OUER SE VERANTWOORDELIKHEID Ouers / voogde moet toesien dat die leerders netjies versorg skool toe kom. U kind moet n goeie ontbyt kry, voordat hy of sy skool toe kom. Ons vind dat te veel leerders na n naweek doodmoeg by die skool aankom. Dit beïnvloed hulle leer en evalueringsproses. Te veel leerders doen nie hulle huiswerk nie. Dit beïnvloed hul evaluering. U as ouer / voog is verantwoordelik om toe te sien dat dit gedoen moet word. Te veel kinders word op gereelde basis vroeg by die skool kom haal. Dit het n invloed op hul assessering en vordering. U moet onthou dat ons net vyf uur in n dag het om met leerders te werk waarin baie gedoen moet word. ELKE MINUUT TEL. 10. VOORKOMS VAN LEERDERS Ons vra dat elke ouer / voog sal toesien dat u kind nie die huis sal verlaat indien hy/sy aan die skool se gedragskode, rakende voorkoms, voldoen nie. Ons is baie trots op ons skool en daarom is dit belangrik dat elke leerder sal help om n positiewe beeld na die gemeenskap uit te dra. Elke leerder is verplig om die formele baadjie daagliks te dra. Leerders mag op Vrydae slegs die skoolsweetpak dra. Indien u kind nie n skoolsweetpak het nie, dan moet skoolklere gedra word. Geen verskonings word aanvaar nie. 11. AANSOEKE VIR KOSHUIS IN 2017 Leerders wat belangstel (voltyds / deeltyds) om in 2017 koshuis toe te kom, moet n aansoekvorm gaan afhaal in die kantoor. Daar is beperkte kapasiteit beskikbaar. Daar sal streng keuringsonderhoude met potensiële aansoekers se ouers / voogde gevoer word vir toelating tot die koshuis. 12. ALGEMENE JAARVERGADERING Die Algemene Jaarvergadering vir die ouers / voogde sal op 26 Oktober 2016 in die skoolsaal plaasvind. Die begroting vir 2017 sal tydens die vergadering aan die ouers / voogde voorgelê word vir finale goedkeuring. Die voorlopige begroting sal vanaf 10 Oktober 2016 in die finansiële kantoor by mev. D Oberholzer beskikbaar wees. 13. MNR. EN MEJ. VOLKIE Die Mnr. en Mej. Volkie het op 4 Augustus 2016 in die skoolsaal plaasgevind. Dit was n spogaand wat die leerders baie geniet het. n Woord van dank aan 3
mev. Dalhouzie wat as organiseerder opgetree het. Mev. Dalhouzie verdien groot lof vir die hoë standaard van die aand. Baie geluk aan die volgende wenners: Mej. Volkie: Monique Minnie Mnr. Volkie: Ruan Venter 1 ste Prinses: Lisa-Marie Verwoerd 1 ste Prins: Jacques Pieterse 2 de Prinses: Carli Engelbrecht 2 de Prins: Juandré Griesel Mej. Fotogenies: Nica Human Mnr. Fotogenies: Brendon Hilligenn Mej. Persoonlikheid: Claudine Steyn Mnr. Persoonlikheid: Armand Malherbe 14. KULTUUR SKOOLKOOR Die skoolkoor het geskiedenis gemaak om vir die eerste keer in 9 jaar op 23 Julie 2016 te Pretoria en 30 Augustus 2016 te NG Kerk Suikerbosrand op te tree. n Woord van dank aan mnr. Vaughan van Zyl (koorleier), mej. S Jordaan (koördineerder) en die leerders vir hulle harde werk en lang ure. As skool is ons baie trots op julle! TIENERTONEEL Die tienertoneel het op 9 Augustus 2016 te Sasolburg plaasgevind. Die twee groepe is onderskeidelik deur mev. Jordaan en Marissa Joubert (Gr.10) afgerig. Die volgende leerders het ATKV-Sertifikate na hulle optrede(s) ontvang: Silwer vir dans: Jacques Pieterse Silwer vir verhoogbestuur: Thenicia Schultz Brons vir Acting : Nkanyezi Gwebu Brons vir kostuumontwerp en stelontwerp: Suzaan Jordaan Brons vir kostuumontwerp: Marissa Joubert Brons vir beligting en klank: Arno van Niekerk Brons vir verhoogbestuur: Bianca van Buuren en Mathys Strydom EISTEDDFOD Die Eisteddfod uitslae sal in die volgende nuusbrief verskyn. Elke leerder wat deelgeneem het aan die Eisteddfod Heidelberg moet hulle prestasies so gou moontlik by die kantoor inhandig. Daar is alreeds uitslae ontvang, maar die skool wil geen leerder uitsluit nie. VINKNES Die Vinknes het op 18 Augustus 2016 plaasgevind. Die spoggeleentheid kan in drie woorde beskryf word naamlik: Manjifiek, stylvol en talentvol. Baie dankie aan elke gasvrou en -heer wat hulle tafels versier het en hulle gaste bederf het met heerlike eetgoed. Baie dankie aan elke leerder wat die gaste met hulle besonderse talente gedurende die aand vermaak het. n Spesiale woord van dank aan mev. M du Plessis wat as organiseerder opgetree het. Dit is n funksie wat grens aan uitnemendheid. Baie geluk! 4
15. SPORT NETBAL 0/16A: GAUTENG KAMPIOENSKAPPE Die 0/16A-netbalspan het aan die Gauteng kampioenskappe te EG Jansen (12-13 Junie 2016) deelgeneem. Die dogters het puik presteer en n paar groot skole gewen. Die span het algeheel negende in Gauteng geëindig. HOKKIE 0/16A: NOORDVAAL-KOMPETISIE Die 0/16A-hokkiespan het aan die Noordvaal-kompetisie (27-29 Julie 2016) deelgeneem as die provinsie-wenners. Die dogters het drie wedstryde gespeel waarvan hulle een wedstryd gewen, een gelykop en een verloor het. Daar het sestien spanne deelgeneem en die span het algeheel sesde geëindig. Baie geluk met julle prestasie. Ons is trots op julle! TENNIS: WINTERSPELE TE DURBAN Monjah Holtzhausen en Hanjo Minnaar het die Gauteng-Oos 0/17-tennisspan tydens die Julie-vakansie teenwoordig. Monjah het slegs een enkelwedstryd as die nommer 1 verloor en Hanjo het al sy enkelwedstryde as nommer 2 gewen. Die Gauteng tennisspan het algeheel tweede geëindig. Ons as Volkies is baie trots op julle prestasie! RUGBY 0/14A: BEELDTROFEE Die 0/14A-rugbyspan het op 30 Julie 2016 gekwalifiseer om aan die kwartfinaal van die Beeldtrofee deel te neem. Die 0/14A-rugbyspan het H/S Pietersburg (Limpopo-wenner) met 26-14 geklop. Die seuns het ongelukkig in die kwartfinaal van die Beeldtrofee teen H/S Rob Ferreira (Mpumalanga-wenners) verloor. Die seuns het n uitstekende seisoen beleef. Ons as Volkies is baie trots op julle prestasies! SKAAK: SEDIBENG KAMPIOENSKAPPE Die junior- en senior skaakspanne het op 12 en 13 Augustus 2016 aan die Sedibeng- kampioenskappe te Dr. Malan deelgeneem. Die skool is vir die vierde jaar agtereenvolgens as die algehele wenner aangewys. Die seniors het n eerste plek en die juniors n derde plek behaal. As skool is ons baie trots op julle puik prestasies. Baie geluk! ATLETIEK: VOORSEISOEN Elke ouer / voog wie se kind n atleet is, moet toesien dat hy/sy die oefening bywoon. Ons gaan aan drie atletiekbyeenkomste in die voorseisoen deelneem waarvan een weg en twee tuis sal wees. Die eerste byeenkoms vind op 25 September 2016 te Pretoria (H/S Zwartkop) plaas. Die twee tuisbyeenkomste sal later aan u as ouers / voogde deurgegee word. Die oefentye is as volg: Maandag tot Donderdag (15:00): Spoedwerk / Langafstande Maandag, Dinsdag en Donderdag (15:00): Worpe 5
16. GEDAGTE VIR DIE WEEK Wie n ander probeer bly maak sal genoeg blydskap oorhê vir die hele week. Volkiegroete. J.H. PIETERSE SKOOLHOOF 6