---------Rapporteerbaar: Ja / Nee Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA (Noord-Kaapse Hoë hof, Kimberley) In die saak tussen: Saak No: CA&R 23/2010 Saak Aangehoor: 24/05/2010 Datum gelewer: 28/05/2010 Guys Farao Appellant en Die Staat Respondent Coram: Olivier R et Mjali WnR UITSPRAAK Olivier R: [1]. Die appellant is in die Streekhof skuldig bevind op ʼn aanklag van poging tot verkragting en is verklaar tot gewoontemisdadiger. Op petisie is aan hom verlof toegestaan om teen beide se skuldigbevinding en vonnis te appelleer.
2 [2]. Dit moet onmiddellik gemeld word dat die petisie toegestaan is op ʼn stadium toe die oorkonde van die verrigtinge onvolledig was en die ontbrekende gedeelte, wat geslaan het op die appellant se getuienis, die uitspraak en die vonnis-verrigtinge, nie getranskribeer kon word nie. Die gedeelte van die verrigtinge wat geslaan het op die appellant se getuienis is egter sedertdien gerekonstrueer deur die streeklanddros, in samewerking met die betrokke aanklaer en die appellant se destydse regsverteenwoordiger, en daar is na afloop van die rekonstruksieverrigtinge ooreengekom dat dit ʼn korrekte weergawe is. [3]. Wat die uitspraak betref, kon dit nie gerekonstrueer word nie, maar het die streeklanddros sedertdien volledige redes verskaf ten aansien van die skuldigbevinding, asook die vonnis. [4]. Die appèl is dan ook namens die appellant benader, wat die skuldigbevinding betref, op die basis dat die oorkonde volledig en akkuraat genoeg is vir die doeleindes van die appel. [5]. Mnr Setouto, die advokaat wat die appellant op appèl verteenwoordig het, het die appel teen die vonnis reeds in sy betoogshoofde laat vaar. [6]. Die appellant het, toe die aanklag destyds gestel is, onskuldig gepleit, sy swygreg uitgeoefen en geen pleitverduideliking verskaf nie. Die kruisverhoor van die klaagster en die ander getuies vir die vervolging was egter op die grondslag dat die appellant nie die aanvaller was nie. [7]. Mnr Setouto het egter reeds in sy betoogshoofde toegegee dat dit wel die appellant was wat die klaagster aangeval het, en die kwessie van identiteit hoef dus nie verder oorweeg te word nie. [8]. Die enigste submissies wat op appèl namens die appellant gemaak is, is dat dit nie bo redelike twyfel bewys is dat die appellant se handelinge reeds uitvoeringshandelinge (in teenstelling met
3 voorbereidingshandelinge 1 ) was nie, en ook nie dat die appellant die opset gehad het om die klaagster te verkrag nie. [9]. Dit is geyk dat ʼn Hof van appèl nie sal inmeng met ʼn verhoorhof se feitebevindinge nie, tensy hulle duidelik op die oorkonde blyk verkeerd te wees 2. Ek is van oordeel dat daar in die onderhawige geval geen basis vir so ʼn bevinding bestaan nie. [10]. Die feit die appellant se weergawe dat hy glad nie eers die aanvaller was nie, vals was (soos in effek ook nou toegegee deur mnr Setouto namens die appellant), beteken dat daar van die kant van die appellant geen weergawe is rakende die opset waarmee hy dan wel die klaagster aangeval het nie. [11]. Afgesien daarvan dat die appellant nie in die omstandighede daarop geregtig is dat daar in hierdie verband in sy guns bespiegel moet word nie 3, is daar na my oordeel in elk geval op die getuienis slegs een redelike afleiding, tot die uitsluiting van alle ander moontlike afleidings, en dit is dat die appellant die klaagster aangeval het met die opset om haar te verkrag 4. [12]. Die appellant het al vroeër in die aand, terwyl hy gesit en drink het, vir die klaagster (wat ʼn jong dogter was) geknipoog en vir haar goed gesê wat so duidelik suggestief was dat die klaagster se niggie me C Klein, ʼn volwasse vrou, vir hom gesê het om daarmee op te hou. [13]. Toe die klaagster en twee jong seuns later in ʼn kamer lê en slaap saam met me Klein, wat tot die kennis van die appellant hopeloos dronk was en nooit in staat sou gewees het om die klaagster te beskerm nie, gaan die appellant die vertrek binne en val die klaagster aan. 1 Strafreg, Snyman, 5de uitgawe, bl 287; S v Newman en n Ander 1998 (1) SACR 94 (C) 2 S v Hadebe 1997 (2) SACR 641 (SCA) 645e-f 3 R v Mlambo 1957 (4) SA 727 (AD) 738B; Rex v N 1947 (3) SA 560 (T) 565; Rex v L 1946 AD 190,196 4 R v Blom 1939 AD 188, 202-203
4 [14]. Die appellant wurg die klaagster en hou ʼn skerp voorwerp teen haar keel om haar stil te hou. Hoekom sou hy haar wou stilhou as hy haar byvoorbeeld net wou aanrand of selfs wou dood? Dieselfde vraag kan gevra word ten aansien van die feit dat die appellant ook die klaagster se broek en damesbroekie gedeeltelik afgetrek het voordat sy daarin geslaag het om uit sy greep los te kom. [15]. Toe is die appellant so desperaat om die klaagster in die hande te kry dat hy die twee jong seuntjies van die bed af gooi in sy soektog na die klaagster in die donker kamer. [16]. Die feit dat die appellant, toe daarin geslaag is om die lig aan te skakel en hy beskuldig is daarvan dat hy gepoog het om die klaagster te verkrag, dit ontken het, neem nie die saak vir die appellant enigsins verder nie. Hy het immers later besluit om valslik heeltemal te ontken dat hy enigsins in die kamer was, en dit sou dus nie gesê kon word dat die appellant konsekwent was in sy ontkenning dat dit wat hy daar gedoen het, was om die klaagster te probeer verkrag nie. [17]. Mnr Setouto het gesteun op die beslissing van Marwana v S 5 vir sy argument dat die afleiding van ʼn opset om te verkrag nie teen die appellant gemaak moes gewees het nie. Die feite van daardie saak is egter totaal te onderskei van dié van die onderhawige saak. [18]. Die Hof het in daardie saak bevind dat die feit dat die betrokke appellant die klaagster sewe-en-twintig steekwonde toegedien het eerder aanduidend was daarvan dat hy haar aangeval het met die opset om haar te dood, as met die opset om haar te verkrag. [19]. In die onderhawige geval kan daar geen sprake wees van so-iets nie. Dit is hier na my oordeel duidelik dat die appellant die klaagster met alle mag wou stilhou en onderwerp, en die enigste redelike afleiding is dat sy plan was om haar te verkrag. 5 [2010] JOL 24821 (ECG)
5 [20]. By die verhoor is gewag gemaak daarvan dat die klaagster maar net ʼn klag gelê het omdat haar suster ʼn klag gaan lê het dat sy (die suster) ook verkrag is, en is gesuggereer dat die klaagster aangestig is om die klag teen die appellant te gaan lê. Ons weet egter nou dat die klaagster nie die aanval, of die appellant se teenwoordigheid in die kamer dié nag, uit haar duim gesuig het nie. Tydens ʼn mediese ondersoek enkele dae ná die voorval is daar dan ook beserings gevind aan die klaagster, onder andere aan haar nek. [21]. Die appellant se ingaan by die kamer, sy vasdruk van die klaagster, sy poging om haar stil te hou deur haar te wurg en ʼn skerp voorwerp teen haar nek te druk en ook deur haar aan te sê om stil te bly en sy gedeeltelike aftrek van haar broek en damesbroekie het na my oordeel heeltemal ver genoeg gegaan om as uitvoeringshandelinge aangemerk te word; destemeer nog teen die agtergrond daarvan dat die appellant duidelik die opset gevorm het om die klaagster te verkrag 6. [22]. In die omstandighede kan die appèl na my oordeel nie slaag nie en word die volgende bevel hierin gemaak: Die appèl word afgewys en die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig. C J OLIVIER REGTER NOORD-KAAPSE PROVINSIALE AFDELING Ek stem saam: 6 Rex v Schoombie 1945 AD 541, 547; R v B 1958 (1) SA 199 (AD) 204 C-D.
6 G N Z MJALI WAARNEMENDE REGTER NOORD-KAAPSE PROVINSIALE AFDELING Nms Applikant: Namens: Nms Respondent: Namens: Adv L Setouto Kimberley Regshulpsentrum, KIMBERLEY Adv J Mabaso Direkteur van Openbare Vervolging, KIMBERLEY