Die Hoërskool DF Malan Akademie is ons besigheid Nuusbrief: September 2017 Beste DF-ouers Die derde kwartaal van die jaar is agter die rug en die einde van die jaar is op ons voorstoep. Dit is geen rede dat die aktiwiteite by DF afneem nie. Talle leerders is nog by verskeie sport- en kulturele aktiwiteite betrokke. Daar word selfs beplan en voorberei vir afseisoen-oefensessies met die oog op die voorbereiding vir volgende jaar. Graag spreek ek my dank uit teenoor die entoesiastiese organiseerders, afrigters, leerders en ouers vir hul aandeel in die suksesse van die skool. Ons is besig met die afhandeling van die ou jaar en beplanning vir die nuwe jaar. Met die afhandeling van hierdie jaar, word grootliks gefokus op die akademie met die aflê van die eindeksamens. Die matrieks begin reeds op 16 en 17 Oktober met RTT- en IT-prakties en op 23 Oktober met die res van die vraestelle. Gr. 10 en 11 begin op 6 November met hul eksamen en gr. 8 en 9 sal op 13 November begin. Die finale eksamenroosters vir gr. 8 11 sal vroeg volgende kwartaal beskikbaar gestel word. Graag doen ek `n beroep op u as ouers om toe te sien dat die leerders elke dag by die skool sal wees om elke klas by te woon om sodoende te verseker dat hulle slaggereed vir die eksamens sal wees. Verder is ons besig met die finalisering van die begroting vir 2018 en ons vestig u aandag op die Begrotingsvergadering van 9 November, waar die be- groting aan u voorgehou sal word. U sal verdere kommunikasie in dié verband later ontvang. Aangesien dit die laaste nuusbrief voor die matrieks se eindeksamen is, wil ek van die geleentheid gebruik maak om almal sterkte toe te wens met die voorbereiding en die skryf daarvan. Ek vertrou dat dit met elkeen goed sal gaan. Ons sien daarna uit om vroeg volgende jaar saam met julle fees te vier. Verder wens ek elkeen `n rustige vakansie toe. DF-groete. Sias Conradie Belangrike Datums vir Oktober 2017 9: Skool heropen 10: Opening: Kunsuitstalling 11: Matriekontbyt 12: Prysuitdeling 13: Matrieks: Uitstapdag Interhuis-atletiek 18: Konsert: Repetisie 19: Konsert 27: Bloedskenk 30: LO-Eksamen
Gelukwense aan Sias Conradie Sias Conradie het in September 2016 by DFM aangemeld as die verkose nuwe skoolhoof, na n lang en deeglike proses wat deur die Beheerliggaam gevolg is. Dit is vir ons as Beheerliggaam aangenaam om hom geluk te wens met sy eerste jaar hier by DF. Sias het reeds in dié jaar sy eiesoortige professionele bestuursvermoë getoon in die uitvoerende bestuur van die skool. Ons wil hom gelukwens met die wyse waarop hy die leerders, onderwysers en ander personeel by die skool hanteer. Ook Sias se skakeling met die ouers van die skool is ondersteunend tot die welwillendheid van Hoërskool DF Malan teenoor die ouerkorps. Dit is aangenaam en bemoedigend vir ons as Beheerliggaam om met hom saam te werk, veral in die dag tot dag bestuur van die skool. Na dié jaar kan ons met dank teenoor hom bevestig dat hy hom uitstekend van sy taak kwyt en dat hy die volle ondersteuning hierin van die Beheerligaam geniet. Sias, ons wens jou n vrugbare en gelukkige toekoms by DF toe. DF Beheerliggaam. #VREESloos2017 Kom ondersteun asseblief ons vreeslose graad 11-seuns hierdie vakansie. Hulle gaan vanaf 7-9 Oktober aan die opwindende #VREESloos2017-kompetisie by Tygervallei deelneem. Moedig asseblief alle Dee-Effers aan om óf hul skooluniforms óf DF-reënbaadjies te dra. As u n foto of video van hulle wil neem, gebruik asseblief #DFMalan en #VREESloos2017 sodat ons die sosiale media-afdeling van die kompetisie teen die ander MTBS-skole kan wen.
DF Malan praat die heel beste in die land! DF Malan het die afgelope naweek uitstekend in die landwye Dink of Sink-finaal gevaar. Beide die junior en senior span het tot die finaal deurgedring sonder om een debat te verloor. Die juniors het koning gekraai oor Helpmekaar College en die seniors het n tweede plek in hul afdeling behaal. Die leerders het die kans gehad om met advokaat Gerrie Nel te gesels wat as een van die beoordelaars opgetree het. Insetsels van die kompetisie sal op die oggendprogram Die Groot Ontbyt op Kyknet uitgesaai word. Ons is baie trots op hierdie uitmuntende prestasies.
Dynamics: Baie geluk aan Dynamics, DF Malan se eie Glee-groep. Hulle is genooi om Vrydagaand (29 September) by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod se prestige-aand op te tree. Voorwaar n eer en voorreg. Baie geluk! Ons is trots op julle harde werk en toewyding. So presteer DF in Wiskunde: Die Burger se jaarlikse ontleding van Wiskunde-prestasie gemeet teenoor die welvaartindeks het DF weer as een van die top-wiskundeskole geplaas. Om hierdie posisie te bepaal, word die volgende formule gebruik: die wiskundeprestasie en die gemeenskap se welvaartsindeks word in ag geneem. Elke kind wat meer as 90% het, het 9 punte ontvang en die wat 80% het, het 8 punte ontvang, ensovoorts. Al die punte is opgetel en gedeel deur die getal matrikulante in die skool. Die hele matriekklas is dus in berekening gebring en nie net dié wat Wiskunde as vak neem nie. Ons wil dus spog met die feit dat ons volgens die gemiddelde prestasie in Wiskunde aangewys is as die derde skool. DF is egter die enigste gemengde skool wat die top 3 behaal het. As die welvaart ook in ag geneem word, is ons nog steeds die derde beste. Ons is baie trots op hierdie prestasie en die gehalte van die Wiskunde-onderrig in die skool. Dat Akademie ons besigheid is, word deur hierdie prestasies bevestig. Verder het DF baie goed in Die Burger Wiskunde-kompetisie gevaar. Ons het 2 leerders onder die top 50 (Jamie van der Merwe en Daniël Hugo).
Wiskunde: Drie graad 8-leerders van Hoërskool DF Malan (Renke Lorio, Arnold Hattingh en Henry van der Merwe) is in die SA Boland Wiskunde B-span opgeneem. Hulle het individueel en in n span van 10 deelgeneem. In die individuele kompetisie het hulle onderskeidelik 65%, 61% en 85% gekry. Geluk aan hierdie leerders wat uitstekend gevaar het! Derde kwartaal skaak Gedurende die derde kwartaal was DF se skaakspanne baie bedrywig en ons het met die meerderheid van ons opponente afgereken. Die uitslae is soos volg: Durbanville: o.15 wen 6-0 en o.18 wen 4, 5-0 Range: o.15 wen 5-1 en o.18 verloor 2,5-3,5 Interskole teen Bellville: o.15 wen 6-0 en o.18 verloor 0-6 Elsiesrivier: o.15 wen 6-0 en o.18 wen 5-1 Settlers: o.15 wen 5,5-0,5 en o.18 verloor 0-6 Symphony: o.15 wen 6-0 en o.18 speel gelykop 3-3 Die skaakseisoen sluit af op 27 September en sal weer in 2018 begin. Inligting rondom toernooie in die af-seisoen sal deurgegee word aan spelers. Baie dankie aan Gawie Hendriksz, ons afrigter vir die jaar.
Krieket: Ons is trots om ons Eerstespan Krieket voor te stel: Voor (van links na regs): Jaden Lloyd, Karl Schreiber, Kyle Beck, Werner Bredell en David le Roux. Agter (van links na regs): Ulrich van Zyl, Jaun van Zyl, Christiaan Liebenberg, Justin Beck (kaptein), Matthew Pole (onderkaptein), Jean-Louis Burger, Marcel Krynauw, Kyle Smuts en mnr. Marius Mells. Gedurende hierdie vakansie gaan hulle aan die KFC Punt Kriekettoer deelneem. Ons sien uit daarna om te hoor hoe dit gegaan het en wil vir hulle alle sterkte toewens. DF wil graag met ons o.14- en o.16-rugbyspanne spog: Hierdie twee spanne het hierdie maand skoonskip in hul onderskeie 7 s-toernooie gemaak. Die o.14 s het die skild gewen toe hul Bellville 14-5 gewen het in die toernooi wat by HS Durbanville aangebied is. Die o.16 s het die skild gewen toe hulle 33-0 teen HTS Bellville by Brackenfell se 7 stoernooi gespeel het. Mooi so, manne! Ons sien uit na volgende seisoen.
Dee-Effers kraai koning by Tygerberg Eisteddfod Een van DF Malan se fotoklublede, Gerhard Erasmus (Graad 11) het met die louere weggestap tydens die Tygerberg Eisteddfod se prysuitdeling wat Woensdagaand, 16 Augustus, plaasgevind het. Hy is as algehele wenner van sy kategorie aangewys deur 98% te behaal. Altesaam sewentien Dee-Effers het hul besonderse talente (in onderskeidelik die Visuele Kuns- en Fotografiekategorie) tydens vanjaar se kunseisteddfod ten toon gestel. Hulle het altesaam sewe Lof- en vyf Hoogste Lof-puntetoekennings behaal inderdaad n prestasie om op trots te wees! Graad 8 gee om: Die Graad 8 s van DF Malan het as deel van hul graadprojek kinderboeke en balle bymekaar gemaak. Hulle het die 85 boeke en 20 balle op 4 September aan die Blue Mountain Laerskool, buite Durbanville geskenk. Hier is Heinrich Leeuw en Tia Crous by van die leerders van die skooltjie.
Baie geluk aan die Monitors van 2018! Agter (v.l.n.r.): Barry Vorster, Cara du Toit, Alné van der Linde, Carla Laubscher, Claudia van der Westhuizen, Margot Rothman, Pierre Vermeulen, Emma Pretorius, Duan Warnich, Petri Smit. Middel (v.l.n.r.): Hennie du Plessis, Talitha Nieuwenhuizen, Rialet van Heerden, Anja van Heerden, Jana Fauré, Michelle Huskisson, Lamé van Zyl, Erin Vercellotti. Voor (v.l.n.r.): Mev. Pauw, Zetah Willemse, Shae Barnes, Melanie du Toit, Anke Wagener, Mila de Jongh, Iné Fouché, Phoebe van Heerden, Gina-May Venter. DF gee (om) vir gidshonde Avril Salo van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging het die skool besoek saam met Roy Abbott en sy hond van die afgelope 6 jaar, Georgia. Roy het n oogsiekte gekry en 20 jaar gelede blind geword. Georgia is sy derde gidshond. Een van die projekte wat Mnr. en Mej. DF se fondsinsameling hierdie jaar gaan ondersteun, is om n babahondjie te laat oplei as n gidshond vir n gesiggestremde persoon. Hulle besoek die skool binnekort weer om die babawoef vir die kinders te kom wys sodat hulle sy naam kan kies.
Netbal : Veertien netbalspanne het deurgedring na die Westelike Provinsie Liga-eindstryd wat op 9 September by Bellville Hoërskool se bane plaasgevind het. Drie spanne het brons gewen en DF se o.17b-span het goud in die C-afdeling verkry. Al DF se A-spanne in die Super-liga het 4de geëindig. Fotos: 1. Voor (van links na regs):tania Hakker, Kaylen Beck (kaptein), Nika Lambrechts. Agter (van links na regs): Lumé van Eck, Alexia van Wyk, Karla Nortier. Afwesig: Imke van der Bergh. 2. Voor (van links na regs): Lamé van Zyl, Marguerite Gerber, Phillipa Van der Spuy en Erin Erasmus Agter: Tenique Olivier (kaptein), Madré Meyer, me. Tinsie Janse van Rensburg, Erin Vercellotti en Nadia Zondie. 3. Voor (van links na regs): Carla Rossouw, Jessica Morey en Mila de Villiers. Agter (van links na regs): Lelani Viljoen en Jamie Petersen. Afwesig: Elke Vermeulen, Carla Stander en Ila Alberts. Gimnastiek: Baie geluk aan Walt Stodart en Dayna Janson wat verlede week aan die National High Performance Artistic Gymnastics in Centurion deelgeneem het. Walt het in Vlak 9 1ste gekom, en Dayna het in die "Olympic Entry level" 'n algehele 3de plek verwerf.
Ons eie juf. Gerstner! Juanita Gerstner onderwyser by DF Malan - het op 6 Mei 2017 deelgeneem aan die SAMA-Kampioenskappe (Suid-Afrikaanse Meesters Assossiasie), Meesters-kampioenskap, in Groenpunt stadion en het in haar kategorie Goud in Diskus gekry. (By die WP-Kampioenskappe het sy ook Goud vir Diskus gekry en ook die rekord gebreek.) Sy het van 10-15 Julie 2017 by die SACD (South African Country Districts) IPT Hokkie Toernooi in die Paarl geskeidsreg en is aan die einde van die toernooi deur die spelers aangewys as een van die beste skeidsregters op die toernooi. Petra Jonker, afrigter by DF Malan, deel hierdie toekenning met haar. Van 4-9 September 2017 het sy as skeidsregter optree by die o.21 IPT (Inter-provincial tournament) Hokkie Toernooi in Potchefstroom. Ons is bitter trots op haar en is so bly dat sy deel van die DF-familie is! Stoorruimte: Die skool het `n ernstige tekort aan stoorruimte vir sportuitrusting, dokumentasie en implimente. Die verkryging van `n addisionele container sal ons kan help met die verligting van ons probleem. Indien daar enige ouer is wat die skool kan help met die verkryging van `n houer sal ons dit hoog op prys stel. Indien u kan help, moet u asseblief met mnr. Danie le Roux in verbinding tree (dleroux@dfmalan.com).
Perdry: Agt ruiters het aan die WP SANESA-kompetisie deelgeneem. DF is aangewys as n kategoriewenner en Helaine Muller, Nadia Roos, Megan Mellet, Mieke du Toit, Inge Kapp, Mieke Pretorius, Danyella Camarena en Robin Ludick verwerf almal n goue medalje. DF verwerf n trofee vir hierdie besonderse prestasie. Mieke du Toit het n goue medalje vir algehele Spring verwerf en Helaine Muller brons vir Prix Capilli. Megan Mellet verwerf n silwer medalje vir Western Mounted Games vlak 3 en Robin Ludick verwerf n silwer medalje vir Vlak 2. Helaine, Megan, Mieke du Toit, Mieke Pretorius, Robin en Inge is gekies om by die finale rondte in Johannesburg te gaan deelneem.
n Besonderse dag in DF DF het op Maandag 18 September die voorreg gehad om vir Leslie en Carl Potgieter van Aware Bears, asook Reinet Barnard van Paarlskool in Brackenfell, te ontmoet. Leslie is met cerebral palsy (PS) gebore en het ongelukkig n paar jaar gelede n beroerte gehad en is nou permanent vasgevang in n rystoel. Sy het Aware Bears gestig om n veilige ruimte vir kinders met hierdie siekte en hul families te skep waar hulle hul vrese, gevoelens en frustrasies kan bespreek. Carl en Leslie besoek (saam met Helen die teddiebeer) skole om vir kinders in hoofstroomskole blootstelling aan die feit dat kinders met gebreke tot baie in staat is, te gee. Reinet Barnard is n fisioterapeut wat by Paarlskool met gestremde kinders werk. Sy het vir DF vertel hoe hard hierdie kinders moet werk om daaglikse takies (wat ons as vanselfsprekend aanvaar) te kan voltooi, maar het ook vir ons laat besef hoe baie hierdie kinders kan doen. Hulle is tot baie meer in staat as wat n mens sou dink. DF hou op 19 Oktober n musiekkonsert ten bate van Paarlskool. Vir verdere navrae kan u n e-pos aan me. Warnich by mwarnich@dfmalan.com rig. Foto: Agter (van links na regs): mnr. Sias Conradie (skoolhoof), Carl Potgieter, Reinet Barnard en me. Mette Warnich Voor (van links na regs): Huber Coetzee, Lesley Potgieter en Janel de Wet.