Calvinistiese Alliansie

Save this PDF as:
 WORD  PNG  TXT  JPG

Maat: px
Weergave met pagina beginnen:

Download "Calvinistiese Alliansie"

Transcriptie

1 Calvinistiese Alliansie Nuusbrief en die swaard van die Gees dit is die woord van God Uitgawe 32, Augustus 2018 Is ons bereid om te lewe? Ons volstaan met die derde punt van die Here Jesus se verduideliking van die werking van die Heilige Gees in ons lewe. Wanneer die Gees ons leer van oordeel, leer dit ons van God se oorwinning en herstel, maar dit roep ons dan ook op om voortaan vír Hom te lewe. In die vorige rubriek het ons die vraag gestel of ons bereid is om te sterf vir ons Christenskap. Maar is ons óók bereid om te lewe vir Christus, sóós Christus ons leer en roep? Baie maklik bely ons die artikels van ons geloof, maar is ons bereid om alle voorwaardes te laat vaar en Christus te volg. Petrus en die ander dissipels was vol bravade om Jesus te volg toe Hy hulle vertel van sy lydingsweg, maar sou Hom kort daarna verlaat en selfs verloën! Ons moet maar erken dat ons lewe baie dae nie anders lyk as ʼn verloëning van dit wat ons baie maklik bely op Sondae nie. Juis daarom is die Woorde van ons Here so troosryk, wanneer Hy aan ons die Heilige Gees belowe: want bo alles gee die Gees ons die krag tot volharding in ons lewe as strydende kerklidmate, te midde van enige lewens-aanslae. Dit bring ons by die troos dat die felheid van wêreldse aanslae bloot nie kan standhou teen God se beskermende hand nie: die wêreld kan hoogstens ons (tydelike) lewe neem. En juis omdat die gelowige lewe met ʼn ewigheids-perspektief, behoort die aardse dood ons nie met vrees te vul nie. Die aardse dood is vir ons immers die deurgang na die volmaakte en ewige lewe bý God. Hierdie perspektief is noodsaaklik voordat ons werklik met geloofsmoed kan léwe vír God, as spieëlbeeld na die wêreld van Sý volmaakte herstel van die sonde-gebrokenheid. Dan kan ons roepings-gehoorsaam lewe, met ons wese gerig op die Woord as koerswyser, ook reeds 85 jaar in ons eie taal. Ek het berou leer my [lees Job 42, verse 1 tot 6] Daarom herroep ek en het berou Die verhaal van Job en sy worsteling in teëspoed en dwaling bevat ʼn reeks leersame dialoë. En terwyl gelowiges sekelik hulleself in Job wil sien, sal dit ons loon om te konsentreer hoe subtiel die dwalinge van Job se vriende, maar ook baie van die argumente van Job self, was. Hoe maklik rasionaliseer ons nie vir onsself dat ek verdien tog maar of baie algemeen ek is tog nie só verkeerd. Die wêreld rondom ons gons, of skreeu eerder, elke oomblik van regte, regverdigheid, liefde, van gun mekaar dit of dat alles binne die humanistiese dwaling dat mense immers goed is en ons net onderlinge begrip vir mekaar behoort te hê. Máár juis omrede die wêreld se liberaal humanistiese vertrekpunt God relativeer (of ignoreer), is daardie woorde hol, sonder die betekenis wat God s Woord daaraan gee. Juis omdat ons álmal geneig bly tot die sonde, val hierdie leë woorde en demonstratiewe peïtisme, wat so min van my eie tyd, opoffering of moeite verg, gevaarlik maklik op die oor. Ek ek ek en my behoeftes, ambisies en begeertes Ons vind dit selfs in verootmoedigende oproepe en aksies, in veldtogte om ons regte te beskerm so asof ons menslike redenasies of planne bepalend kan wees! Na worsteling op worsteling breek die genadige lig volkome vir Job deur. Verse 1 tot 5 erken Job die kern van sy mistastings, maar kom dan by die régte antwoord: Ek herroep en ek het berou. Geen verdere (self)regverdiging of redes nie: blote berou en omdraai na God alleen, na Sý lering alleen. Eertyds het God, soos in Job se geval, self en direk geleer. Vandag vind ons daardie lering in God s Woord die Bybel waarvan ons die ontvangs in ons eie taal hierdie maand kan vier. Sola Sacra Scriptura Augustus

2 Die gesag van die Heilige Skrif As ons bewyse moet lewer vir die Christelike waarheid, word die Skrif aangehaal. Dit is dan die einde van alle teëspreking. Waarom? Wel omdat die gelowige die Skrif erken as die Woord van God en bygevolg as die absolute gesagsbron. Nou kan egter die verdere vraag gestel word: Waaraan ontleen die heilige Skrif sy aansien en gesag? (vgl. die opskrif van die Belydenis by art 5). Met ander woorde, op watter grond steun die onfeilbare gesag van die Skrif? Ons Belydenis spreek eers van die kanonieke boeke van die Bybel. Daaronder word verstaan die boeke waar niks teen gesê kan word nie (art. 4). En dan word in art. 5 die vraag beantwoord: Waaraan ontleen die heilige Skrif sy aansien en gesag? Dit is die onderwerp waaroor nou gehandel moet word. Ons begin met die gronde waarop die gesag van die Skrif prinsipiëel nie kan rus nie. Die Oorlewering Die oorlewering of tradisie aangaande die Skrif, wat uit die oudste kerk afkomstig is, kan as laaste grond vir die Skrifgesag nie aanvaar word nie. Ten eerste is die oorlewering nie onfeilbaar nie. Allerlei dwaling in verband daarmee kon in die loop van tyd ingesluip het. Die oorlewering self moet, sover dit nog moontlik is, aan ʼn strenge keur onderwerp word. Ten tweede is die ouderdom van ʼn boek, gestel dat dit bewys kon word, op sigself nog geen maatstaf om dit in die kanon of bybelgeheel in te lyf nie (vgl. art. 7 van ons Belydenis). Ten derde sou ons, feilbare mense, moet bepaal hoe lank die oudste tyd moes geduur het. En ten vierde (dit is die hoofbeswaar), met dit alles gaan ons die feilbare mens aanstel om uit te maak wat die Woord van God is en wat nie, m.a.w. ons plaas die mens bo die Skrif! Nee, die verdienste van die oorlewering lê in iets anders. Dit was die middel waardeur die Bybel van geslag tot geslag oorgedra is, en die kerk het van eeu tot eeu die bybelboeke ontvang met die mededeling dat dit die geïnspireerde boeke is. Daarom word die tradisie dan ook hoog geag. Maar as kengrond vir die Skrifgesag kan die oorlewering nie in aanmerking kom nie. Die Apostolisiteit Die ander grond kan ook nie geld nie, naamlik dat ʼn boek kanonies is, of tot die bybelboeke behoort, omdat dit apostolies is. (Hierdie kenmerk het natuurlik alleen betrekking op die Nuwe Testament.) Al weer dieselfde beswaar; ons feilbare ondersoek na apostolisiteit kan nie die werk van God aangaande die Skrif beoordeel nie. Daarby kom dat van sommige boeke van die Nuwe Testament die apostoliese herkoms nie bewysbaar is nie. Byvoorbeeld, van die Hebreërbrief weet ons nie wie die skrywer was nie. Historiese Argumente Ons moet by die hoofvraag aangaande die Skrifgesag ook alle historiese, aan die geskiedenis ontleende argumente afwys. Nogmaals dieselfde beswaar: die werk van God kan van ons feilbare historiese ondersoek nie afhanklik gestel word nie. Bowendien: vir die bewering dat byvoorbeeld die ontstaan van die Nuwe Testament geskiedkundig bewys kan word, is die gronde nie voorhande nie. Ons weet ook van geen enkele kerkvergadering wat hom met die afsluiting van die kanon, d.w.s. van die bybelgeheel, as vraagstuk besiggehou het nie. Die sinodes van Hippo Regius 393 en Carthago 397, die eerstes waarop ʼn boekelys van die Skrif saamgestel is, hou hulle nie met die kwessie van gesagsgronde besig nie, maar registreer net die name van die boeke wat alreeds as Bybelboeke erkenning gehad het. Die sinodes bewys nie, hulle bely en bewaar net. Die Outoriteit van die Kerk Calvyn het al gesê: Dat die heilige Skrif die Woord van God is, staan nie vas deur die kerk nie, maar het vasgestaan voor die kerk se besluit; want die kerk is gegrond op die fondament van die apostels en profete (vgl. dr. H. Bavinck, Dogmatiek deel 1, bl. 626). Ons kan ons dus vir die vasstelling van die Skrifgesag nie op die outoriteit van die kerk beroep nie. Natuurlik bly dit teenoor ongeloof en twyfel, wat menigvuldig in die wêreld is, ʼn hartsterkende gedagte dat die kerk van alle eeue die Goddelikheid van die Skrif bely het. Ook in hierdie opsig is daar ʼn wolk van getuies wat ons omring om ons te versterk. Ons staan nie alleen met ons Skrifgeloof nie. Maar in laaste instansie kan ons belydenis aangaande die Skrifgesag nie steun op die kerk nie, omdat die kerk self gedra word deur die outoriteit van die Skrif. Augustus

3 Hierdie en dergelike bewysvoeringe en argumente het wel hul waarde, wat ons nie wil verkleineer nie. Maar hulle is alleen van waarde vir die gelowiges, d.w.s. vir diegene wat alreeds glo dat die Bybel die Woord van God is. Hulle kom nie om ons tot die geloof te beweeg nie (dit kán hulle nie), maar om ons in die alreeds voorhande geloof te versterk. Kom die teëstander met sy bewyse, ons het ons teëbewyse. Ons kan hom op gelyke platform ontmoet en met sukses weerstaan. Maar ons moet nie dink dat dáármee die teëstander oortuig en tot die geloof beweeg sal word nie. Ja, die gelowige self kom nie dáárdeur tot sy Skrifgeloof nie. Alles wat van die kant aangevoer kan word, is vir ons getuienisse vir die waarheid van ons geloof, maar geen bewyse nie. Die posisie teenoor die teëstander word in hierdie woorde deur prof. Greydanus duidelik gestel: Ons kan aantoon waarvoor die heilige Skrif hom uitgee, wat hy van homself pretendeer (nl. dat hy die Woord van God is). Ons kan ook allerlei bybring wat die waarheid van hierdie selfgetuienis kan steun. Maar wetenskaplik bewys dat hierdie selfgetuienis (van die Skrif) waar is, sodat elkeen met logiese noodwendigheid gedwing word om dit aan te neem, dit vermag ons nie. Maar, so gaan prof. Greydanus voort, nog minder kan iemand wetenskaplik bewys dat die selfgetuienis van die heilige Skrif onwaar is. Ook die verwerping van die selfgetuienis van die heilige Skrif. is ʼn saak van geloof, nie van wetenskaplike bewys nie (Schriftgeloof en Canoniek, bl. 11). Dit is dus duidelik dat ook die teëstander hom in laaste instansie nie laat lei deur sy bewysvoeringe nie, maar deur sy geloof, d.w.s. sy onwilligheid om die duidelike getuienis van die heilige Skrif, van Genesis tot Openbaring, aan te neem dat die Bybel die Woord van God is. Die Getuienis van die Heilige Gees Hoe kom die gelowiges tot aanvaarding van die getuienis? Ons belydende vaders het in hul Belydenis (art. 5) die antwoord in enkele woorde neergeskrywe. Die Skrif is vir ons die Woord van God, sê hulle, omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle (die bybelboeke) van God is. Laat ons nou hierdie gekursiveerde woorde in hoofpunte oorweeg. Op die regte verstaan daarvan kom dit nou aan. (1) Die eintlike getuienis vir die Goddelikheid van die Skrif is die getuienis wat die Skrif self gee, naamlik dat dit die Woord van God is. Dit is en bly die Woord van God al sou geen mens die getuienis aanneem nie. ʼn Diamant is weens sy inwendige samestelling ʼn diamant, en dit bly ʼn diamant al lê dit ook duisende jare in die aarde verborge. (2) Van nature kan die mens die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3): hy kan die heilsfeite en heilswaarhede nie waarneem nie. Daarom verwerp Hy die bybel as die Woord van God. (3) In die wedergeboorte word in die gelowige die geestelike vermoens herstel en deur die Heilige Gees aktief gemaak. Dan is dit dat die Gees met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom. 8:16). (4) Hierdie getuienis betref nie net die Goddelikheid van die Skrif nie. Dit sê ons dat ons kinders van God is en dus deel het aan alles wat God aan sy kinders kenbaar gemaak het, soos bv. dat God drieënig is, dat Christus as die Verlosser gekom het, dat die Heilige Gees uitgestort is in die gemeente, ens. (5) Die eintlike grond vir ons geloof aan die Skrifgesag is dus die selfgetuienis van die Skrif (vgl. punt 1), maar die getuienis van die Heilige Gees is die middel om ons tot die geloof te beweeg. (6) Hierdie getuienis is geen aparte stem wat tot ons kom buitekant die Woord om nie, maar dit kom uit en deur die Woord. Die Heilige Gees open ons oor sodat ons dadelik as God spreek sy stem herken. Watter kind is daar wat nie die stem van sy vader ken nie? (7) Hierdie getuienis gee onmiddellike sekerheid en gaan nie langs die omweg van bewysvoering nie. Daarom het ons al die argumente en redeneringe, wat in die begin van hierdie artikel opgesom is, nie nodig nie as dit op die laaste grond van ons Skrifgeloof aankom. Die Goeie Reg van ons Uitgangspunt Die teëstander sal aan ons sê dat ons uitgaan van ʼn beginsel, naamlik dat die Bybel die Woord van God is en dat die Heilige Gees daarvan in die harte van die gelowiges getuienis gee; maar, sal die teëstander daarvan toevoeg: julle moet ons éérs die deugdelikheid van die beginsel bewys wat julle as uitgangspunt gekies het. Ons antwoord is: Nee. Elke wetenskap gaan uit van beginsels waaragter ʼn mens nie kan teruggryp nie, wat nie bewys kan word nie. Sonder sulke beginsels, as punte van begin, is geen wetenskap moontlik nie. Waarom moet dan net vir die Godskennis ʼn uitsondering gemaak word? Augustus

4 As die teëstander ons bevooroordeeld noem vanweë ons uitgangspunt, dan sê ons dat dit net so bevooroordeeld is om die Bybel aan te sien as ʼn boek wat gelykstaan met ander boeke, terwyl dit tog self sê dat dit die Woord van God is. Dit is hier nie ʼn saak van wetenskap en geloof nie, maar van geloof en ongeloof wat teenoor mekaar staan. Die outoriteit van die Skrif rus dan ook, soos alle beginsels, in sigself en is vir geen bewys vatbaar nie. Die Skrif moet geglo word om sigself. Dit is nie onwetenskaplik nie, Die band van die siel aan die Skrif as die Woord van God lê agter die bewussyn en onder die bewyse; dit is mistiek van aard net soos die geloof aan die principia (beginsels) in die verskillende wetenskappe (Bavinck, Dogmatiek, deel 1, bl.634). As iemand die lig sien, soek hy daarvoor geen bewys nie. Hy sal u sê: Ek weet dat daar lig is, want ek sien dit. Hoe weet ʼn lammetjie, al van die eerste dag af, dat sy ma sy ma is? Wel, omdat dit sy ma is! So ook weet die gelowige dat die Bybel die Woord van God is, want hy hoor daarin die stem van God. Die verskillende wetenskappe het wel, volgens hul verskillende aard, verskillende soorte beginpunte en verskillende metodes waarvolgens gewerk word, maar in die grond van die saak is dit, soos prof. Bavinck sê: die geloof aan die grondbeginsels is altyd mistiek van aard. Die Getuienis van Christus Die aanspraak wat die Skrif maak dat dit die Woord van God is, word ten volle deur die outoriteit van Christus gedek. Glo ons in Christus as ons hoogste Profeet, dan moet ons ook sonder twyfeling sy woord aangaande die Skrif aanneem. Van die Ou Testament het Hy gesê: Dit is die (die Skrifte) wat van My getuig (Joh.5:39). Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle (die Emmausgangers) uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (Luk. 24:27). Die Ou Testament is die onfeilbare Woord van God aangaande die verlossing wat aan kom was, en daarom moes dit in Christus vervul word. Ook die Nuwe Testamentiese Skrifte het Hy gewaarmerk deur aan sy apostels te sê: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees (Hand. 1:8). Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, Hy sal julle in die hele waarheid lei (Joh. 16:13). Waaroor gaan die Gesag van die Skrif? Die gesag gaan oor alles. Die punt is deur die skrywer van hierdie stuk breër uitgewerk in sy brosjure Die Bybel is die Woord van God (No. 1 van die Verkennersreeks). Daarheen word die belangstellende leser verwys. Ons sal hier alleen oorskrywe die woorde van ds. J. Verkuyl wat daar uit sy brosjure Evangelisatie onder hoogere standen (bl. 30, 31) aangehaal is. Hy sê dat die verkondiging van die Evangelie totalitêr moet wees, d.w.s. Jesus Christus roep ons in die bybel op tot geloofsgehoorsaamheid op alle fronte van die lewe. En dan bestry hy ʼn dwaling wat ook onder ons sy triomfe gevier het, wat in algemeen met die naam metodisme aangedui kan word. Hy sê: Een van die bedenklikste verskynsels in die situasie van die hedendaagse Christendom is dat daar soveel Christene is wat die konsekwensies van hul geloof nie sien vir hul hele lewensopenbaring op alle gebiede waarin God hulle plaas nie. So ʼn Christendom moet op ʼn vergissing berus. Die vergissing skyn my hierin te lê dat die Evangelie aan sulke mense alleen as ʼn gemoedsaak gebring is en nie duidelik genoeg aangedring is op bekering oor die hele linie van die lewe nie. Die enigste moontlikheid om die gevaar te besweer, is ʼn egte Calvinistiese, d.w.s. totalitêre (allesomvattende) verkondiging van die Woord van God, waarin opgeroep en saamgestry word om die erkenning van Christus as die Here in alle situasies en funksies van die lewe. (Die kursiveringe is van ons afkomstig.) Dit is mooi gesê. Maar om Christus as Here oral en altyd te erken, moet ons buig onder die gesag van die Skrif wat oor ons hele lewe en oor alles gaan. Helaas, baie van die ellende wat ons in ons volksbestaan belewe het, kom daaruit voort dat die Evangelie onder ons alleen as ʼn gemoedsaak verkondig is. Dit het tot gevolg gehad dat die Bybel, die gesagdraer, van die publieke lewensterreine òf geheel òf gedeeltelik uitgesluit is. Dit is inderdaad ʼn droewe toestand, gesien dat ons op die kwalifikasie Calvinisties graag ons aanspraak laat gelde. Mag dit nou eenmaal en eindelik onder ons anders word! Bron: ʼn Artikel deur Totius (met erkenning aan proregno.com, ter 80-jarige herdenking van die Bybel in Afrikaans) Augustus

5 Praktiese Calvinisme: Geloofsvertroue of ongeloof Afgodery is, om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê, waarop die mens sy vertroue stel. Die eerste gebod: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Die Here Jesus kom leer dan self (uit die Ou Testament) jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Vertroue sonder geloof is onmoontlik; net so spreek vertroue in iets of iemand anders noodwendig van ongeloof. Ons ervaar tans in ons land ongekende aanslae op vryhede en steunpilare wat ons dekades lank as vanselfsprekend aanvaar het. En dit maak vreemde bedmaats van uiteenlopende groepe, met uiteenlopende (en grootliks onversoenbare) oortuigings. Daagliks word ons opgeroep tot samewerking. En weeg ons die sigbare werklikhede, klink die oproepe inderdaad dwingend en redelik. Dit dwing verskeie vrae op aan ware gelowiges: Kan ons redeneer dat die doel (van byvoorbeeld beskerming van eiendomsreg) regverdig samewerking oor alle grense heen? Is dit selfs die regte vraag? Moet die vraag nie eerder wees waarom laat God toe dat ons lewens-sekerheid ons ontneem word nie? Mag ons ons eiendomsreg sien as lewens-sekerheid? Ek vertrou dat my lesers begin ongemaklik voel Het ons ons eiendom, ons werk of besigheid, ons bankrekeninge en ons eie vermoëns begin ervaar as dit wat ons definiëer, as dit wat aan ons sekerheid en veiligheid waarborg? Ons buig dalk nie voor ʼn goue kalf, ʼn Baäl-bul of ander afbeelding nie, maar waar lê ons vertroue vandag? Lê dit in onsself, in die burgerlike samelewing en ʼn grondwet wat God ontken? Hoor ons die haan wat kraai, of skarrel ons nog rond op soek na ʼn oplossing om tog net nie ons wêreldse goed te verbeur nie? Hoe maklik vergeet ons dan nie die lering Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Vertrou ons nog in die geloof op die beloftes van God? Eiendomsreg en die sekerheid daarvan, aldan nie, bly ʼn brandpunt-onderwerp. Maar as Christene behoort ons altyd elke saak te benader vanuit ons Bybelse oortuigings, en moet ons altyd waak teen bedekte aanslae op ons geloof. Die enigste bolwerk teen die rewolusie (opstand teen God en Sý gesag) bly die Evangelie! Terwyl ons tans die ANC se nasionaal-demokratiese rewolusie beleef, moet ons óók verstaan dat die spesifieke ontplooiing van die geskiedenis in terme van tyd en plek bloot die sigbare manifestering van die stryd tussen Lig en duisternis versinnebeeld. Hoe ons dus die stryd voer is eintlik belangriker as dat ons die stryd voer. Ons kan slegs die stryd over tot eer van God indien ons ons onderwerp aan Hom, volkome vertrou op Hom en heel eerste Sý eer soek, en Sý koninkryk bevorder. Dit geld stryd in ons land, maar ook in ons eie lewe. So lank ons eie lewens en ons volkslewe weinig anders lyk as die lewe van die rewolusionêre magte, kan ons werklik redding verwag? Of geld die aanklag van Jesaja (sien hoofstuk 6, vers 9 e.v.) dat ons té graag fokus op ons eiebelang, ons eie voorkeure? Genadiglik mag ons ook vashou aan Maleági se profesie, waar God Sy volk oproep met die woorde beproef My tog hierin regdeur die Bybel leer ons dat God áltyd getrou bly, selfs al word ons ontrou. Daardie selfde belofte het onder andere Elia en Elia behoue bewaar; na die uittog word die hele volk Israel behoue begelei deur die woestyn vir dekades; redding hongersnood was deur God bestier deur Josef; selfs afvallige Juda keer terug uit ballingskap! Meer nog - ʼn afvallige mensdom se grootste nood ons sondeskuld word on suit genade alleen kwytgeskeld deur Jesus Christus se offer! Kom ons plaas ons vertroue terug in Hom die énigste Wie ons vertroue waardig is. Augustus

6 Redaksioneel: God die Gees leer ons van oordeel (én herstel) In ons vorige rubrieke het ons stilgestaan by die leringe van sonde en geregtigheid; uit die kommentare van Calvyn leer ons dat God die Heilige Gees na die wêreld kom om alle mense te leer die uitverkorenes tot redding, terwyl die ander ten spyte van die lering steeds (regverdiglik) in die sonde bly. Wanneer die Gees ons dan leer van oordeel, is daar sekerlik verwysing na die regverdige straf op die lewe van die onbekeerde sondaar. Maar op voetspoor van Calvyn moet ons die dieper betekenis aan die Woord van God ontworstel: want ook hierdie enkele verse moet nie in isolasie nie, maar binne die geheel van God s Woord gelees word. Die konteks van hierdie onderwysing deur die die Here Jesus is dat Sy aardse werk byna volbring is: Hy het aan Sy dissipels die Evangelie kom leer; as gestuurdes moet hulle dit nou verder gaan verkondig; Die Here staan op vooraand van Sy kruisdood, daardie noodsaaklike middelaars-prys waardeur ons geregtigheid deur Hom verwef word. Maar na afloop van Sy komende kruisdood sal Hy uit die dood opstaan, opvaar na die hemel en as oorwinnaar regeer aan die regterhand van God. Wanneer die Here herstel bring in hierdie skepping, is daardie herstel volkome. Deur die kruisdood en opstanding oorwin Hy die Bose eens en vir altyd! Hy bring herstel van die chaos wat die duiwel deur die sondeval ontketen het. Terwyl ons tot by die wederkoms steeds lewe onder die effek van die sonde en ons eie feilbaarheid, is die oorwinning volmaak behaal op Golgóta. Deur die geloof verstaan ons ook dat die oorheersing van sonde en chaos geskied onder die toelating van God, as regverdige straf op die sonde. God was en is geensins die outeur hiervan nie. Dit het en sal nooit die soewereine regering van God inperk nie. Die oorwinning van Golgóta is dus in sekere sin om die heerskappy van God weer sigbaar te maak vir die wêreld. Wanneer God die Heilige Gees ons dus elke dag leer van oordeel, is dit dat die oordeel gevel is en dat God, in Jesus Christus, regeer. Daarom verkry ons die troos van die Trooster dat ons kan uitsien na die ewige geluksaligheid vir ons verdien deur Jesus Christus en aan ons geskenk uit genade. En juis omdat die dissipels (en ons) steeds lewe onder die aanslae van die Bose, beskik God vir ons Sy Gees om ons daagliks te troos en leer: omdat ons feilbare sondaars is, verder omdat ons so maklik kan twyfel te midde van aanslae, vir die Here in vers 12 leer dat ons héle lewenswandel ʼn wandel sáám met Hom (deur sy Gees) sal wees, soda tons deur daaglikse lering kan groei in ons geloof. Te midde van wêreldse aanslae en chaos beskerm God ons, Sý kinders, vir tyd en ewigheid. Daarom kon die dissipels in die jare wat sou volg vreesloos die evangelie verkondig. Hulle kon ook onder leiding van die Heilige Gees daardie verdere lering op skrif stel, en vandag het ons almal die Skrif die onfeilbare Woord van God om elke geslag gelowiges opnuut te leer en te lei. En ons glo dan ook dat daardie lering absoluut waar en onfeilbaar is, dat niks daaraan toegevoeg mag word nie, dat niks daarvan weggeneem mag word nie, juis omdat die Heilige Gees in die harte van gelowiges die egtheid van God s Woord betuig. In verse 12 en 14 van Johannes 16 vind ons die kritiesbelangrike les: God die Heilige Gees kom leer ons niks anders, niks nuut, as die waarheid van die Woord nie. Saamgelees met die bekende 2 Timótheüs 3, verse 16 en 17, kan ons glo dat die Skrif die volle openbaring van God bevat. Die profesië deur die Gees is bevestiging van die lering van die Bybel, die lering van die Here Jesus self. Terwyl toepassings sekerlik van tyd en plek mag verskil, bly die leerstellige waarhede ewig onveranderd en onveranderbaar. Calvyn waarsku met reg dat hierdie nie die deur oopmaak vir self-aangewese profete of kerke om met verdere openbaringe vorendag te kom nie. Vir ons vandag geld daardie waarskuwing steeds, of dalk verál die waarskuwing van Matthéüs5, verse 17 tot 19, herhaal in Openbaring 22, verse 18 en 19; herhalings van die bevel deur God in Deuteronómium 4, vers 2. [sien u die volledigheid en eenvormigheid van die Skrif, oor eeue?] Ons moet dus met die Woord van God as wapen (swaard van die Gees, Efésiërs 6, vers 17) weerstand bied teen valse leringe, die teenswoordige relativering van die enigste ware, suiwer geloof en die gelykstelling van die Almagtige, Drieënige God met die wan-gelowe en afgode van hierdie wêreld. Augustus

7 Want terwyl God, in Christus, die Bose verslaan het, bly die aanslag teen die k(k)erk voortwoed tot by die laaste oordeel. Maar in die krag van die Gees kan en moet ons weerstand bied. Ons doen dit allereers deur ons eie gehoorsame lewe: daardie dankbaarheidslewe wat ons lei as verloste sondaars, wie buig voor die oordeel van God s Woord, maar wie ook die genadige geregtigheid ontvang. Daardie lewe moet spreek van ons sonde-besef, deurdat ons daagliks opnuut breek met die sonde en doen wat ʼn Christen betaam. Dit spreek nie van ons goeie hoedanighede nie, maar moet heenwys na Hóm wie hierdie nuwe lewe vir ons moontlik gemaak het deur genadig-verworwe geregtigheid. Só ʼn lewenswandel wat ander nader trek na Christus is reeds sending! Ons doen dit deur as gelowige gesinne ons kinders in die onvervalste Woord te onderrig. Ons behoort hul te laat onderrig in skole waar God en Sý gebod die eerste, sentrale en laaste gesag dra. Ons doen dit deur getrou in ons gemeentes te vergader rondom God s Woord op Sondae, mekaar onderskraag in onderlinge meelewing as gemeente op elke terrein van kerklike bedrywighede. Calvinisties Bybelgetrou wy ons só ons hele lewe aan God as offer (Romeine 12, verse 1-2). Wanneer ons dus ons geloofs-lewenslig laat skyn, werk God die Heilige Gees kragtig en wonderbaar om resultate voort te bring. Hoe lyk óns lewe gemeet aan hierdie riglyne? Hoe lyk ons vólkslewe? Te midde van erge aanslae op ons geloof, ons waardes en norme, ook ons goed en ons lewe, neem ons werklik nog ons toevlug tot God en Sy beloftes dat Hy ons sal beskerm? Of soek ons die (vals) geborgenheid van getalle, ʼn populêre mening en ʼn toegeeflikheid teenoor ʼn verdorwe wêreld ter wille van tydelike voorspoed en skyn-welvaart? Soek ons die aangesig van God in gebed omdat ons waarlik wil terugkeer na die lewenswandel wat Hy eis, of is die oproepe tot gebed, die byeenkomste en veldtogte meer piëtisties van aard, ʼn gryp na die beloftes van God as ʼn tydelike reddingsboei? Of gaan ons gesinne, gemeentes en uiteindelik ons volk terugkeer na ons gereformeerde oorspronge? Gaan ons onsself onvoorwaardelik verootmoedig en erken dat selfs ons beste pogings ontoereikend en sonde-verdorwe is en daarom ook terugkeer na ʼn Bybel-geskoeide lewenswandel, ongeag die prys wat dit hier en nou mag verg? Eendersyds is hierdie keuse elkeen se saak met God. Vir vaders, ouers en leiersfigure strek dit wyer. In die smeltkroes van ons lewe (in SA) vandag is hierdie vraag dan ook bepalend vir vele wat hulself as leiers beskou: Gaan hulle hierdie volk teruglei na vryheid in God, gehoorsaam aan Sý wil, geduldig vir Sý uitkoms? Of gaan hulle die volk voortlei na skynvryheid, in kompromis met die wêreld, in vyandskap met God? Redakteur: Joffré Papenfus (verwys na Johannes 16, verse 7 tot 11) Ondersteun ons Kinderfonds ten bate van CVO onderrig Ons herinner lede en lede-gemeentes steeds aan die jaarlikse kollekte ten bate van die Kinderfonds. Die jaarlikse oproep tot ondersteuning was gedurende November aan lede en gemeentes uitgestuur. U kan egter ter enige tyd, ook deurlopend, bydraes maak tot die fonds. Deur ons kinders te help om Christelike onderrig te ontvang, kan ons elkeen iets bydrae om die verderflike invloed van die owerheid op onderwys teen te werk. Dit bly ook belangrik dat die Kinderfonds volhoubaar sal wees, sodat kinders deur hul volle skoolloopbaan ondersteun kan word. Elke bydrae word daarom met dank afgewag en ons rig dan nou met vrymoedigheid die volgende uitdaging aan elke lid of vriend van die CA: Indien ons elkeen R 100 per jaar skenk aan die Kinderfonds, sal die fonds met rasse skrede groei; Vertel ook u mede-gelowiges van ons Kinderfonds en moedig elkeen aan om óók R 100 te skenk. Augustus

8 Bankbesonderhede Rekening: Oranjekas Spaar en Krediet Ko-op. Bank: Standard Bank Tipe rekening: Tjek Rekeningnr.: Takkode: (Silverton) Verwysing op deposito s: Calvinistiese Alliansie Kontakbesonderhede Telefoon: Webwerf: oord Posadres: Posbus 711, Kranspoort 1080 Indien u wil aansluit by die Calvinistiese Alliansie, doen gerus navraag. (of stuur u e-pos adres indien u slegs ons nuusbrief wil ontvang.) Ons herinner bestaande lede ook aan u 2017 ledegeld. Dit beloop R 100 per persoon per jaar. Kongres 2018 Die voordrag tydens die Calvinistiese Allianse gedurende Augustus 2018 het met die tema Die Dordtse leerreëls as antwoord op hedendaagse vraagstukke gehandel. ʼn Waardevolle historiese oorsig van daardie sinode en leerstuk van daaruit gevloei het, bied geloofs-pitkos vir elke gelowige. Ons plaas DV in die September uitgawe die voordrag, ook ander terugvoer vanuit die Kongres. Die Vryburger Kinderfonds Die bankbesonderhede is soos volg: Rekeningnaam Oranjekas Bank Standard Bank (takkode ) Rekening no Verwysing Naam van skenker Faks inbetaalstrokie asseblief aan Die Vryburger Kinderfonds strewe daarna om aan ons behoeftige volkskinders toegang tot Christelik- Volkseie onderwys te bewerkstellig. Volksfeeesdae Ons herinner lesers graag aan komende feesdae: 24 September Volkserfenis-dag Herdenking van erfenis het toenemend vervlak tot ʼn dag van ligsinnige vermaak. Selfs te midde van ongekende aanslae teen ons volk op elke lewensterrein, soek mense vermaak eerder as kulturele diepte en groei. Besef mense die prys van ons erfenis? (kultuur-stryd, taal-stryd, lewensstryd van Bloedrivier en teen imperiale volksmoord?) Besef mense dat erfenis ʼn God-gegewe gawe is wat ons moet bewaar en oordra? 10 Oktober Krugerdag Ons kan ook hieraan dink as Heldedag, soos baie dit leer ken het, maar veral dat God volks-leiers beskik om te regeer (níé te heers) oor volke, in erkenning teenoor en tot eer van God. Kort toerusting: Christelike dekmantels Wat maak iets Christelik? Vandag wil vele hul eiewillige lewenswyse en lewenskeuses onder die dekmantel van Christelike vryheid regverdig. Dit is ʼn vals hoeksteen van die liberale humanisme, gebou op ʼn opstelike verdraaiing van o.a. Romeine 14. Leer die Woord werklik dat enige lewenskeuse aanvaarbaar is? Die waarskuwing is ʼn duidelike NEE; slegs wat geskoei is op gehoorsaamheid aan God, slegs wat gedoen word tot Sý uitsluitlike eer, kan Christelik genoem word. Ons moet daadwerklik waak om te dink dat omrede mense hulleself christelik noem, dat hul optrede of hul groeperinge dan as christelik tipeer kan word. Spreek losbandigheid van Christus? Of lewens van oordadige spandering op onsself terwyl volksgenote honger gaan? Kan mense betoog vir wet en orde deur wetteloos op te tree, as die Woord leer die owerheid is ʼn instelling van God? Is vakbonde se selfgeldende eise vir rykdom deur weerhouding van arbeid geregverdig, as die Woord leer wees gehoorsaam aan jou meester? Teenoor dit, terwyl ons veel behoort te verduur, hoef ons nie passief te wees nie. Máár elkeen moet altyd waak dat ons teen-optrede nie ook die perke van God s Woord oorskry nie. Gelowiges se gehoorsaamheid aan God is nie onderhewig daaraan dat dit vir óns of óns belange gerieflik is nie. Romeine 14 leer ons van opoffering, nie van eise vir allerlei regte nie. Ek behoort die vryheid in Christus dienend uit te leef deur ander in ag te neem! Maar veral om God te eer. Augustus