Die Navitas-storie... storie... - Mareli Steyn

Save this PDF as:
 WORD  PNG  TXT  JPG

Maat: px
Weergave met pagina beginnen:

Download "Die Navitas-storie... storie... - Mareli Steyn"

Transcriptie

1 Die Navitas-storie... storie... - Mareli Steyn T oe 2009 einde se kant toe begin staan het, het n paar jongmense gesels oor die gemis aan n aktiewe jongmensbediening in ons gemeente. Die dominees is genader en een Sondagaand na kerk is vergader met ons jongmense. Hier is bespreek watter behoeftes dringend aangespreek moet word en gevolglik is vier komitees gevorm. Hulle is: uitreike, bemarking en publikasies, sport en sosiaal en laastens kampe. Op n latere vergadering is besluit om ons gemeente se 18 tot 30-jariges die naam Navitas te gee. Vir elkeen van die vier komitees is n voorsitter verkies en hierdie vier mense vorm onder leiding van ds Werner (as voorsitter) van die Navitas Bestuurskomitee. Dié komitee se hoofdoel is om DINGE TE LAAT GEBEUR. Hulle wil sorg dat daar deurlopend aksies plaasvind vir die ouderdomsgroep van 18 tot 30 jaar. (Terloops, daar is meer as 300 gemeentelede wat in hierdie groep val!) Onderskeidelik is Cobus Truter, Mareli Steyn, Marthinus Barnard en Wickus Malan die vier bestuurslede wat verantwoordelik is vir bogenoemde portefeuljes. (Hulle besonderhede is permanent in die Eljada.) Gesellige verkeer tydens n onlangse kampnaweek Die naweek van 12 tot 14 Februarie het die eerste aksie plaasgevind: die Navitas Afskopkamp. Met die tema Visie: jy is hier!, was die uitgangspunt om elkeen te wys dat en waar hulle in ons gemeente moet en kan betrokke raak. Ds Naas se Ontdek jou gawes -lesing was rigtinggewend mbt waar jy spesifiek toegerus is vir diens. Ds Werner en Johan Erasmus het ook relevante en waardevolle lesings aangebied. Die program is baie goed gespasieer met genoeg kans vir leer én ontspan. Die musiekdiensgroep het weer eens ongelooflike moeite gedoen om met hulle gawes (en met oorgawe!) ons te lei in heerlike lofprysing en intieme aanbidding. Verder is daar lekker ontspan en het die kampgangers, onder wie n hele paar nuwe intrekkers, kans gekry om mekaar te leer ken. Lee-Anne Swart het tereg opgemerk dat ons besonder baie gelag het op hierdie kamp. Aksies om in die toekoms te verwag: die dinee 12 Maart in ons kerksaal die staptoer 7 9 Mei (daar sal nog besluit word waar dit gaan plaasvind) die kamp 6 8 Augustus (daar sal nog op n terrein besluit word). Tussendeur die vasgestelde aksies sal daar uitreikgeleenthede wees en ook sport en sosiale aksies. Ons druk dit almal regtig op die hart om die Eljada dop te hou in verband hiermee. Die bestuurskomitee nooi enige persoon wat in die Navitasouderdomsgroep val hartlik uit om hulle met idees of hulp te nader en daar is ook altyd plek om n lid te word van ons vier bestaande komitees. Jy is ook baie welkom om n addisionele komitee voor te stel. En natuurlik wil ons julle vra om die aksies te ondersteun: dit is regtig deur die jongmense vir die jongmense. Ons voel regtig dis só nodig om n ware tuiste te hê as jong Christen in ons multigodsdienstige land! Laastens versoek ons elke gemeentelid om ons en ons voornemens aan God in gebed op te dra, want soos almal weet: as die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs! 26

2 Johannes en Lizanne se groot vreugde N a baie jare se wag, is Johannes en Lizanne Aucamp se gebede verhoor en het klein Lourens sy opwagting gemaak. Rietvallei deel in julle vreugde, baie geluk!! Johannes skryf soos volg: Lourens is op 7 Desember 2009 gebore. Hy het 2,72 kg geweeg. Sy volle name is Johannes Petrus Lourens Aucamp. My doopname is Johannes Petrus Du Plessis Aucamp. Die Du Plessis was n nooiensvan wat by een van my voorgeslagte n noemnaam geword het. Ons wou graag die verbondslyne waaruit ons gebore is simbolies laat saamsmelt in Lourens en daardeur getuig van God se verbondstrou deur ons voorgeslagte. Lizanne se nooiensvan is Lourens. Ons het to besluit om die Du Plessis met Lourens te vervang. Hy is dus JPL Aucamp en word Lourens genoem. Hy is ons wonderwerk. Hoewel ons soms wonder hoe hy werk, staan ons verwonderd oor hoe Hy werk. Ons is innig dankbaar vir die wonderwerk deur God se genade ontvang en dank God elke dag vir Lourens. Ons was voorheen JoLi, maar ons heet nou JoLiLo. Groetnis Kerkmuis wil net graag vir ds Eric baie dankie sê vir die heerlikste kaas wat hy vir die muisfamilie saamgebring het toe hy laas oorsee was, dit was baie welkom. Die plaaslike kaas kom nie naastenby by daardie kwaliteit nie! Dit is net jammer ons moes dit op die lughawe by Doeane gaan afhaal. Dit sou baie lekkerder gewees het om dit saam met n lekker glasie wyn op die dominee se stoep te geniet het. Kerkmuis ken iemand wat vir die dominee n paar trieks kan leer oor hoe om met kos by die doeanebeamptes verby te kom Dis iemand wat graag gerookte vark uit Duitsland bring... 27

3 Nuus uit Tierpoort Tierpoort se eie ouetehuis Kort na Koos en Elza Truter se intrek op die kerkterrein, het hulle deur vriende in die dorp te hore gekom van die ouetehuis op die grond langs die kerk. By navraag het dit geblyk dat hierdie n informele behuisingsprojek is, met sowat 12 dubbelkamer wooneenhede. Daar is ook nog n ou plaashuis wat as sentrale versorgingseenheid en eetsaal dien. Die gebruik van die fasiliteite word teen n vaste maandelikse koste van die grondeienaar gehuur, wat self verder geen betrokkenheid by die projek het nie. Alhoewel daar groot uitdagings is om die formele status van die projek op n gesonde regsen adminstratiewe basis te kry, is hierdie die enigste uitkoms vir meeste van die ooms en tannies, baie van wie reeds diep in die tagtig is. Meeste van hulle het nie die finansiële vermoë om na ander opsies te kyk nie, terwyl ander se kinders oorsee woon en hulle maar bitter min ondersteuning van hulle kry. Behalwe huisvesting ontvang hulle elke dag drie gekookte maaltye, word hulle wooneenhede skoongemaak en hulle was- en strykgoed gedoen. Van die oumense se kinders is wel betrokke by die bedryf van die projek, en dra n reuse las om die daaglikse aankope, kosvoorbereiding, skoonmaak, instandhouding en versorging van die bejaardes te bestuur. Daar is met ingang van hierdie jaar juis n komitee gevorm om n formele regspersoon te vorm ten einde die belang van die inwoners te bevorder en die langertermyn volhoubaarheid, al dan nie daarvan te ondersoek. Alhoewel die oumense fisies versorg is, het dit gou duidelik geword dat hulle geestelik geen versorging het nie. Ons het daarom begin om van die oumense wat sterk genoeg is en behoefte daaraan het, op Sondagoggende te gaan haal om die eredienste saam met ons by te woon. Wat n ervaring was dit nie toe oom Tjaart Herbst van so by die negentig jaar, die oggend na sy eerste erediens saam met ons, sy - Koos Truter hande in die lug steek en die Here prys omdat hy weer saam met medegelowiges onder die geklank van die Woord kon kom en die Psalms kon saam sing. Wat n voorreg om die gemeenskap van die gelowiges en die wonder daarvan so konkreet te kon beleef. Ons vra u voorbidding vir die inwoners van Phulula Lapa, die naam van die behuisingsprojek, asook die inisiatiewe om die volhoubaarheid en formele regsbasis op n beter grondslag daar te stel. n Groeiende en dinamiese kerkplantingsinisiatief Deur die inisiatief van verskeie omgeegroepe van die NG Kerk Moreletapark, is daar so jaar of wat gelede ooreengekom om hulle kerkplantingsinisiatief onder die swart plaas- en plotwerkers in die omgewing, vanaf Bashewa na die Tierpoortkerkterrein te hervestig. Dit het onder meer ingesluit dat daar n reuse wit en blou tent opgerig is om in kerk te hou. In Februarie 2009 is die eerste erediens op Tierpoort gehou. Hierdie kerkplanting is dus een jaar oud en op Sondag 14 Februarie 2010 is die eerste Nagmaaldiens hier gehou. Tierpoort se kinderbediening Op enige gegewe Sondag kom daar tussen veertig en sestig mense bymekaar vir die erediens. Die wonderlike van hierdie gemeente is die betrokkenheid van die mans by die gemeentelike aktiwiteite asook die groot getal 28

4 jongmense tussen die ouderdomme van agtien en dertig. Daar is elke Sondag ook n kinderbediening vir die twintig of so kleiner kinders. Hierdie bediening word deur die plaaslike omgeegroepe van die NGK Moreletapark behartig. n Lokaal in die ou werkswinkelkompleks is een Saterdag tydens n opruim en uitverf -aksie vir hierdie doel ingerig. Dit was wonderlik om te sien hoe die gemeente self opgedaag het om te kom help. n Aantal plaaslike boere het ook hulle vragmotors beskikbaar gestel om die hope vullis weg te ry. Wat die werk in die algemeen betref is daar tydens die laaste gesamentlike kerkraadsvergadering besluit om twee kommissies op die been te bring om die dienswerk beter te ondersteun, naamlik; n kommissie vir kerkplanting, asook n kommissie vir terreinontwikkeling. Lidmate word uitgenooi om gerus by enige van hierdie kommissies betrokke te raak en hulle gawes op hierdie manier aan te wend tot opbou en uitbou van die kerk. Behalwe Sondae se eredienste wat van 09:00 tot so 13:30 duur, word daar ook op Woensdagaande evangelisasiekursusse aangebied. Verder het die gemeente hulle eie mass choir gestig wat Saterdagmiddae op die terrein bymekaarkom om te oefen. Op n vraag of hulle beplan om aan n koorkompetiesie deel te neem, antwoord een van die vroue: No, not really, we are here to praise God! Die span agter hierdie groeiende kerkplanting is Joshua Sawa (kerkplanter en evangelis); Antoinette Erasmus en haar man Louw, Hanlie en Hentie Spangenberg asook Louis en Tania Snyman. Saam met hulle is daar ook verskeie lede van hulle omgeegroepe wat aktief betrokke is. Dit is egter veral Joshua se toewyding en ywer met die aanry en organisering van gemeentelede asook sy besorgdheid oor en versorging van hulle, wat die bediening hier dra. Deur sy toedoen is daar reeds twee huwelike voltrek en is n aantal mense ook gedoop nadat hulle onderrig ontvang het. Ons is hierin veral dankbaar teenoor ds Hendrik Saayman van die NGK Moreletapark wat Joshua hiermee bygestaan het. Ons sê dan ook vir die Here dankie vir hierdie broers en susters in die geloof wat so nou met ons kan saamwerk hier in Tierpoort en omgewing, Algemeen Tentkerk Sover dit die terreinontwikkeling aangaan, staan ons letterlik by die wegspringblokke. Die onderverdeling van die grond is in proses om afgehandel te word en alhoewel dit nog n tydjie mag duur voordat die formele oordrag van eienaarskap plaasvind, is dit duidelik dat die betrokke gemeentes nou reeds die verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van die terrein moet aanvaar. n Oorhoofse behoeftestelling is al gedoen en sluit onder andere die volgende in: n multifunksionele gebouekompleks vir gebruik as erediensruimtes, konferensielokale en opleidingsfasiliteite; n kampterrein en jeugfasiliteite vir gebruik deur die stadsgemeentes. Die jongmense is nou reeds welkom om hier te kom kuier dit is wonderlik rustig as die son laatmiddag in die weste begin sak. As ons nou net die swembad kan reg kry en n afdak oor die lapa bou sal daar min ander kuierplekke wees wat by Tierpoort sal kan kersvashou! Enige kundiges en ander belangstellendes wat graag by hierdie proses betrokke wil raak kan gerus hulle name deurgee aan een van die predikante. 29

5 Tierpoort Brokkie - Sonnika Coetzee T ierpoorters het in die eerste weke van 2010 onder leiding van di Werner, Naas en dr Henk die preke afgehandel oor Openbaring. Dit was vir almal n unieke ervaring om na afloop van die diens vir die predikante vrae te vra oor aangeleenthede waaroor hulle meer duidelikheid wou hê. Van die begin van Februarie volg hierdie bedieningspunt dan ook die erediensprogram van Rietvallei. Tierpoort het ook reeds begin met Bybelstudie elke tweede Sondagaand vanaf 18:00. Die Truth Project word behandel en dit word aangebied deur ouderling Jan Greyling. Die kerkgangers het onderling met mekaar gereël dat die DVDs van die projek tot almal se beskikking sal wees indien hulle daarvan sou wou gebruik maak om in diepte betrokke te raak by die projek. Dit bly steeds vir elke kerkganger n besondere voorreg om so naby aan die natuur in die Bronbergomgewing by so n unieke gemeente betrokke te wees. Tydens die erediens kan die koorsang van die tentbediening van pastoor Josua in die agtergrond gehoor word saam met die vrolike sang van die die voëls in die tuin (en hier en daar ander plaasgeluide). Daar was selfs al n besoek of twee van klein katjies op die stoep voor die erediens begin! Gewis nie n algemene gesig by n kerkgebou nie maar tog besonder en onvergeetlik. Tierpoort se Afrikaanse kerk 30

6 Rietjiesfluit - Tannie Kobie Die witbroodjie Lees Genesis 37 en verder Josef was sy pa, Jakob, se witbroodjie. Nou weet julle self hoe dit is met n witbroodjie. As die juffrou iemand in die klas voortrek, is dit vir niemand lekker nie, minste van almal vir die witbroodjie. Hoekom? Want sy maats is jaloers. Dan maak hulle die lewe baie moeilik vir daardie witbroodjie. Hulle spot hom of hulle baklei met hom of hulle is sommer net lelik met hom of haar. So was dit ook met Josef. Sy elf boeties en een sussie was jaloers omdat Jakob vir Josef spoggerige klere gemaak het. Agteraf het hulle lelik van hom gepraat. Party van hulle was so kwaad vir hom dat hulle hom sommer wou doodmaak. Daar was nog n ding van Josef wat hulle gepla het. Die Here het hom laat droom wat in die toekoms gaan gebeur. Dan is hy so verwonderd oor die drome, dat hy dit vir sy broers vertel. Ek het gedroom ons tel koring op die lande op, en dan bind ons dit in sulke bondels in gerwe. Toe skielik buig al julle gerwe voor myne. Die broers wou hom net vat. Wat dink die klein japsnoet van homself om sulke dinge te droom! So, gaan jy ons koning word, hê, het hulle hom toegesnou. n Ander keer vertel hy weer dat die son, maan en elf sterre in n droom voor hom gebuig het Jakob het gesien hoe kwaad die drome die ander kinders maak. Hy het self bietjie afgehaal gevoel dat Josef regtig kon droom sy pa, ma en broers buig voor hom. Jakob het met Josef gepraat en vir hom gesê dat hy nie so baie van homself moet dink nie. Tog het Jakob hierdie dinge alles onthou. Nou, as julle die hele geskiedenis van Josef verder lees, sal julle sien dat al die drome later waar geword het. Julle sal lees hoe die broers hom wou doodmaak toe hy vir hulle kos gevat het waar hulle skape in die veld opgepas het. Sy oudste broer, Ruben, het hulle gekeer. Kom ons gooi hom liewer in n put, het hy voorgestel. n Put is n diep gat waaruit die mense water onder die grond uitgehaal het. Ruben het n plan gehad om sy boetie dan later daar uit te haal en na sy pa terug te vat. Hy het geweet hoe lief Jakob vir Josef was. Hulle het hom skaars in die put gegooi toe hulle sien dat handelaars wat op pad na Egipte was, daar aankom. Kom ons verkoop Josef liewer aan hierdie mense. Dan is ons tog ontslae van hom en ons is nie vir sy dood verantwoordelik nie, sê Juda. Hy is tog darem ons broer. Ja.ja stem almal saam. Dan maak hulle darem n bietjie geld ook. Dit het hulle toe gedoen. Hulle slag n bokkie en doop Josef se klere in n bokkie se bloed. Hulle vat die klere vir Jakob en sê hulle het die bebloede klere in die veld gekry. Wilde diere het seker vir Josef opgevreet. Jakob het baie gehuil. En Josef? Hier is hy op n wa na n vreemde land toe. Klein en alleen. Hoe moes hy voel? Maar Josef het die Here geken en liefgehad. Hy het geweet dat as hy vir die Here bid en aan die Here vashou, die Here hom sal help. Dit het hy gedoen al die jare wat hy daar tussen die heidene gewoon het. Heidene is mense wat nie in God glo nie. Josef het nie baklei nie. Hy het nie geskop en geskreeu en geraas nie. Hy het net op die Here vertrou. Die Here het hom nog al die tyd dinge laat droom wat waar geword het. Deur hierdie drome en Josef se goeie en mooi lewe het die Egiptenare en hulle koning baie respek vir hom gekry. Hy het naderhand onderkoning van hierdie magtige land geword. En wat gebeur toe? Net soos in sy drome het sy broers en later ook sy ouers voor hom kom buig. God het met al hierdie hartseer wat Josef moes beleef n plan gehad om vir Jakob en sy nageslag te red. Dit was toe baie ander mense in n droogte doodgegaan het van die honger. Sal jy ook aan die Here bly vashou al gaan dit nie goed met jou nie? 31